Jantjie, die liedjie, word 50. Anton Goosen, wat dit geskryf het, onthou die twee mense wat dit geïnspireer het

“Oud, maar nog nie koud nie” is dalk ’n geykte uitdrukking, maar dit pas nogal goed by die geliefde liedjieboer Anton Goosen, laas maand 80 geword.

Hoekom maak dit saak? Terwyl sy ikoniese treffer “Jantjie” nou 50 gehaal het, het hy nóg ’n liedjie uit die verlede heruitgereik, naamlik “Hokaai hokaai”, maar aan Goosen skyn daar geen keer te wees nie.

28.04.2026 | KULTUUR: Die generasies wat die vrystelling van die liedjie “Jantjie” onthou, onthou ook die Afrikaanse fliek met dieselfde naam. In die rolprent, wat op televisie vertoon was, was “Jantjie” ’n bruin soldaat wat met die trein op pad army toe was – op soek na ’n beter lewe. Katryn raak in sy afwesigheid betrokke by ’n ryk sakeman.

  • Die held van dié stuk, was die sanger Neville Nash, destyds ’n superster in bruin gemeenskappe.
  • KYK | Die volledige fliek kan op hier op Youtube gesien word.
Die sanger Neville Nash soos hy in die fliek “Jantjie” gelyk het. Foto: Youtube

Anton Goosen het die liedjie oorspronklik geskryf vir ’n musiekblyspel by ’n (Engelse) skool in Johannesburg waar hy Afrikaans-onderwyser was. Die (wit) platemaatskappy het gemeen die liedjie is te “bruin”, maar Sonja Heroldt was mál daaroor – en sy sluit dit toe in op haar debuutalbum.

  • En die Afrikaanse volk, ongeag velkleur, het hartlik begin saamsing: Jantjie, kom hystoe / Katryn verlang na jou (…) / Jantjie, kom hystoe / die Kaap is leeg sonder jou …

In ’n onderhoud wat vandag in Die Burger verskyn, spot Goosen dat Jantjie op 26 April 50 jaar oud geword het “en hy het steeds nie huis toe gekom nie”. Mondstuk Media wou by hom weet wat hy daarmee bedoel het.

“Eintlik is Jantjie ’n fiktiewe karakter, maar die werklike Jantjie het gewerk op die [familie se] plot in Kroonstad,” vertel Goosen. “Hy het my geleer melk en rook en kitaar speel. Ek is baie bly oor twee van die drie goed.” Die enigste afleiding wat ’n mens hieruit kan maak, is dat hy trots is oor hy beeste kon melk en steeds die kitaar kan tokkel.

  • En wie was Katryn dan? Sy was “Jantjie” van die plot in Kroonstad se vrou – “en sy kon pragtige blommerangskikkings doen”, onthou Goosen. So die liedjie is uiteindelik ’n liefdesliedjie vir dié paartjie.
  • Goosen sê: “Mens skryf maar uit jou verlede en jou emosionele waarneminge.”

Soos Jantjie, is Hokaai hokaai ook nie aanvanklik as gepas beskou nie – wel om ’n ander rede. Nou word dit afgestof vir vandag se musiekliefhebbers. Dit handel ook, soos Jantjie, oor die liefde maar ook oor “lig en hoop” omdat dié drie elemente “die essensie van menswees is”, aldus die musikale filosoof.

hokaai hokaai, begin dit:

daar’s lewe in die huisie waar

die liggie brand

Die liedjie is byna veertig jaar gelede (in 1989) opgeneem. Lucas Maree, Helena Hettema en Karlien van Niekerk, wat destyds die Kommissie van Ondersoek band saam met Goosen gevorm het, se stemme word nou gemeng met dié van Lise Swart en ook Schalk Joubert, wat baskitaar speel.

  • Die mediaverklaring oor die heruitreiking van die liedjie bevat ’n veelseggende voetnota: “Geen KI is gebruik nie.”

LUISTER | Die liedjie kan hier gehoor word.

Leave a Reply