5 jaar al weg: Waar is onse Zhandré, wonder Botrivier-familie steeds ná bankman se spoorlose verdwyning

’n Week van nou af sal dit die herdenking wees van die dag in 2021 toe Zhandré Jacobs soos ’n naald weggeraak het.

Hoe voel sy familie? Sy pa, Hansie, vertel eksklusief aan Mondstuk Media dat sy ma, Sophie, só gehoop het om net nog een keer sy stem te hoor voordat sy drie maande gelede gesterf het.

NUUSMAKERS | 1.06.2026: Saterdag wat verby is, was weer een van daai oomblikke waar evangelis Hansie Jacobs van Botrivier na Palmiet, by Kleinmond, gery het. Dit is waar sy seun, Zhandré, se kar gekry is met sy verdwyning op 9 Junie 2021.

  • “Terwyl ek daar gestap het, het alles weer teruggekom, alles weer,” sê hy, “en die ergste is die feit dat jy nie closure het of hy leef en of hy dood is nie.”

Die nuus is destyds op die “Kleinmond / Betty’s Bay / Pringle Bay Community” Facebook-blad – onder die naam “Panda-Leigh Jacobs” – deur Zhandré se vrou en die ma van sy dogtertjie as volg aangekondig:

My husband Zhandre Jacobs went missing in Kleinmond this morning. He was wearing a maroon Manchester United jacket, navy blue pants and a size 9 or 10 pointer shoe. If anyone has any information please contact us @ 060 997 0019

In die dae daarna, het meer inligting na vore gekom, soos dat Zhandré laas by ’n plaaslike kruidenierswinkel gesien is. Nóg later was daar gerugte dat hy in ’n Italiaanse tronk aangehou word.

  • Die raaisel het egter verdiep toe die polisie bekend gemaak het dat Absa, waar Zhandré as bankklerk gewerk het, ’n saak aanhangig gemaak het van geld van ’n kliënt wat verdwyn het en dat hy in verband daarmee gesoek word.

Evangelis Hansie onthou: “Toe ek die boodskap ontvang dat hy nie [die oggend] by die werk opgedaag het nie, het ek nie veel daarvan gedink nie. Hy was ’n man wat baie gou moeilik geraak het, so ek het gedink hy wou seker net bietjie wegkom om te kalmeer. Maar toe ek uitklim by die plek waar my skoonseun-hulle sy kar gekry het, het ek in my gees gevoel: ‘This is something major.’ Ons het begin soek en ek het heeltyd gewonder gaan jy op ’n lyk afkom of ten minste die windbreaker sien wat hy daai oggend aangehad het as hy in die water beland het.”

  • Die soektog, wat hulle tot by Bettiesbaai, Hawston en Rooisand geneem het, het niks opgelewer nie.

Oor die vermoede dat Zhandré aan diefstal of bedrog by die werk skuldig was, sê sy pa: “Ek glo daar was ’n onreëlmatigheid.” Maar hy glo daar was ook iemand betrokke in die besigheid wat die klag ingedien het. En dis nie asof Zhandré ’n “way out”-leefstyl gehad het, sê evangelis Hansie, dat ’n mens sommer sou agterkom dat hy geld het nie.

Die groot hartseer waarmee Hansie Jacobs nou sit, is dat sy dierbare vrou, Sophie, einde Februarie vanjaar gesterf het sonder dat sy ooit afsluiting kon kry oor wat met hul seun gebeur het. “Sy wou altyd net nog een keer sy stem gehoor het,” sê sy. “Sy het so gehoop dat hy net een keer sal bel.”

Leave a Reply