Liam loop hárd uit PA, terug na DA. Nou sê Gayton hy’t hom nooit vertrou nie. Plus: 4 ANC-kaders nou ‘Patriots’
Die politieke week het afgeskop met die grootste skok vir die PA tot nog toe op pad na die plaaslike verkiesings van 4 November.
Wat’s die storie? Die voormalige DA-LP Liam Jacobs (hier saam met Tertuis Simmers en Geordin Hill-Lewis) het teruggekeer na dié party – omtrent presies ’n jaar nadat hy PA toe is. Maar toe wen die PA vier voormalige ANC-raadslede.
POLITIEK | 1.06.2026: Die PA-leier, Gayton Mckenzie, steek dit nie goed weg nie dat hy onkant betrap is én omgekrap is oor die besluit van die blou T-hemde se verlore seun om na die DA-huis terug te keer nie.
- Mnr. Mckenzie het Maandagaand op sy Facebook Live behoorlik teen mnr. Jacobs losgetrek.
- Dié voormalige lid van die PA beter die party nou uit sy mond hou en geen plasings oor die “Patriots” op sosiale media maak nie, het mnr. Mckenzie gewaarsku.
- “Jy sal niks post nie,” het mnr. Mckenzie, wat ook die minister van kultuur, kuns en sport is, gedreig. “Jy ken nie vir ons nie.”
Die onverwagse onthulling was toe die PA-leier gesê het hy het mnr. Jacobs sowat drie maande gelede reeds gewaarsku dat die DA hom gaan probeer teruglok. Dit was toe hy opgelet het dat mnr. Jacobs nie gelukkig is nie. Die opdrag wat die “Prez” aan die PA se nasionale voorsitter, Marlon Daniels, en die sekretaris-generaal, Chinelle Stevens, oor Liam Jacobs gegee het, was duidelik: “Moet hom nie vertrou nie.”
Die fout wat mnr. Jacobs sou maak, was “dat hy verwag het die PA moet by hom aanpas en nie hy by die PA nie”, vertel mnr. Mckenzie nou. Maar dinge werk nie so in die PA nie, sê hy: in dié party moet jy ’n “grondhond” wees wat met mense uit die laagste inkomstevlakke kan werk. Mnr. Jacobs het volgens mnr. Mckenzie “nooit verstaan” dat die PA “nie ’n party vir die hoër middelklas is [soos die DA] nie”.
“Chaos and criminality”: Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, het egter sy eie mening oor waarom mnr. Jacobs die PA verlaat het. Dit was omdat hy die PA se “politics of chaos and criminality” verwerp het, sê mnr. Hill-Lewis in ’n mediaverklaring.
- Mondstuk Media het daarna die DA onder meer gevra: “Wat is mnr. Jacobs aangebied in ruil vir sy terugkeer na die party (werk, salaris)?” en “Hoe en waar in die land gaan die DA hom aanwend vir die party?”
- Mnr. Hill-Lewis se mediabestuurder, Charity McCord, het egter laat weet dat geen verdere kommentaar gelewer sal word bykomend tot wat in hul mediaverklaring gesê is nie.
Staan nader, kader: In ’n ander verwikkeling, oomblikke na afloop van die “Prez” se Facebook-uitsending, het me. Stevens vier ANC-raadslede uit die Overberg as nuwe PA-lede bekend gestel.
- Die een met die hoogste profiel, is Derick Appel, wat ’n lid van die ANC se provinsiale regruk-taakspan was, asook die voormalige provinsiale ANC-tesourier. Mnr. Appel is vergesel deur sy TWK-kameraad Monwabisi Raymond Nongxaza.
- Die ander twee raadslede wat die ANC vir die PA verruil het, is Janine Marthinus en Renier Louw van die Kaap Agulhas-munisipaliteit (KAM).

Waai, windjie, waai: “We have joined the wave of change,” het mnr. Appel opgewonde aangekondig. Dié nuwe PA-lid was voorheen ook Speaker van die TWK-raad in ’n tydperk toe die munisipaliteit by die afgrond van finansiële onstabiliteit begin afrol het weens onbehoorlike besteding. Die munisipaliteit is tans besig om ’n finansiële herstelplan in werking te stel.
- Ook mnr. Nongxaza was deurentyd invloedryk in TWK-besluitneming, ten spyte van ’n DA-meerderheid in die raad. “Ek het ge-landela!” het hy by wyse van ’n PA-slagspreuk uitgeroep.
