‘Abahambe!’: Dorpe jaag buitelanders skrik op die lyf. Nie só nie, maan min. Anroux Marais
Die slagspreuk “Abahambe” (“laat hulle padgee!”) word nou ook in die Wes-Kaap gehoor. Dit is die eerste keer deur die Patriotiese Alliansie gebruik, maar die party het sedertdien stiller geraak daaroor.
En nou? Die afgelope klompie dae is die slagspreuk egter uitgeleef in dorpe soos Mosselbaai, Kleinmond en Kraaifontein waar inwoners beweerde ongedokumenteerde buitelanders verjaag.
NUUSMAKERS | 1.06.2026: Die oorsaak van die geweld wat by Mosselbaai ontstaan het, is blykbaar veroorsaak deurdat ’n konstruksiemaatskappy glo aan Mosambiekse burgers sonder wettige verblyfdokumentasie werk gegee het. Hieroor is ook die ANC diep ongelukkig en dié party het ’n dringende ondersoek na die bewering gelas.
- Die polisie se openbare orde-eenheid hou ’n waaksame oog oor sake; die geaffekteerde buitelanders word onder geheimhouding in munisipale geriewe gehuisves; en busse sou ook, na wat in radionuus berig is, aan die buitelanders beskikbaar gestel word wat wou terugkeer na hul geboorteland.
Oraloor: Die protesaksies teen onwettige buitelanders vind reeds geruime tyd elders in die land plaas, soos in Gauteng en KwaZulu-Natal. In die onlangse verlede, soos die afgelope naweek, het talle optogte in die Skeireiland plaasgevind. Die owerhede het verseker dat dit nie in geweld ontaard nie. In Kraaifontein was dit glo skoolkinders wat teen buitelanders opgeruk het.
- Maar nou blyk dit of die ontevredenheid oor onwettige buitelanders ook wyer versprei na plattelandse gebiede, soos Kleinmond in die Overstrand munisipale gebied, waar ’n optog Sondag gehou is.
- Een van die eerste plasings wat daaroor op Facebook gemaak is, was deur Deniel Barry, musikant en vrou van die kunstenaar en TV-aanbieder Frazer Barry.
- Reaksies op haar plasing het verskil van Benjamin Schereka se “Our people are disgusting to do this to other human beings” tot Sbuu Hokwana se “I support this!”.
“Ek verstaan, maar …”: Mondstuk Media het Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid en polisie-oorsig, om kommentaar genader.
- “Ek verstaan die frustrasies rondom onwettige immigrante, maar hierdie probleem moet deur wettige prosesse aangespreek word,” sê me. Marais. “Ek raai Suid Afrikaners aan om saam met die regering te werk om wetteloosheid te beveg en nie deel te word van die probleem nie.”
Erkenning: Die foto by ons storie kom van Deniel Barry se Facebook-blad.
