BOEKE-NUUS: Billy Paulson glo steeds môre sal die son weer skyn. Hy bied jou nou 365 dagstukkies om jou te dra

Die motivering vir sy boek, “Môre Sal die Son Weer Skyn”, het uit sy eie en ander mense se lewenservaringe en uitdagings ontstaan, sê die sanger en skrywer (én eiendomsagent) Billy Paulson.

Wat wil hy bereik? Elke dagstukkie in die boek, sê hy, “is geskryf om hoop, geloof, bemoediging en praktiese lewenswysheid te deel”. Die boek kan bestel word by 082 443 2209.

KULTUUR | 1.06.2026: Billy Paulson vertel dat sy breër familie binne ’n tydperk van 18 maande vyf geliefde familielede aan die dood afgestaan het – ’n “donker en moeilike tyd”. Boonop het hy verlede jaar voor ’n baie moeilike mediese besluit gestaan. Telkens het die woorde in die titel van sy trefferlied Môre Sal die Son Weer Skyn in sy gedagtes weerklink.

  • Paulson kon nie aan ’n beter titel vir sy boek dink nie.
  • Die lied – en die titel van die boek – “dra ’n eenvoudige maar kragtige boodskap: ongeag hoe donker vandag mag lyk, daar is altyd hoop vir môre”.
  • “Die son,” voeg hy by, “simboliseer nuwe geleenthede, nuwe genade en die wete dat moeilike tye nie vir altyd duur nie.”

Die storie van die lied: Jare gelede het Paulson op Calvinia gaan optree en daar ’n vrou ontmoet wie se verhaal van sukkel – onder meer met ’n alkoholis-man en ’n seun wat in sy pa se vernietigende spore volg – het hom diep geraak. Dit het hom aan sy ma se persoonlike stryd laat dink: “Tog het sy altyd met ’n glimlag aangegaan, al was daar dikwels pyn in haar oë.” Dit was vir sy ma, die vrou van Calvinia en almal anders, wat soortgelyke uitdagings beleef, dat hy die lied in 1980 geskryf het. ’n Hele aantal Afrikaanse sangers het die lied opgeneem.

Hoe het hy te werk gegaan met die inhoud vir elke dagstukkie?

“Sommige boodskappe is gebaseer op persoonlike ervarings, ander op Bybelse beginsels en lesse wat ek deur die lewe geleer het,” antwoord hy. “Die doel was om elke dag vir die leser iets te gee wat hulle kan inspireer, versterk en voorberei vir die dag wat voorlê.”

  • Die skryf van die boek self is ’n inspirerende verhaal op sy eie: Dit is dat hy verlede jaar voor ’n keuse gestaan het oor of hy ses maande aan sy persoonlike uitdagings aandag sal gee of om vir ses maande aan sy boek te werk. “Ek het gekies om op die boek te fokus. Deur my aandag van myself af weg te neem, het ek iets geskep wat uiteindelik groter as ekself geword het.”
  • “Ses maande later is die boek gebore – 365 flenters van my lewe saamgevat in ’n bundel van hoop, inspirasie en opregte ervarings,” sê hy aan Mondstuk Media. “Elke mens het ’n storie; my boek bevat 365 stories van hoop.”

Nou is sy grootste hoop dat die boek mense sal help – jongmense, volwassenes, sakelui, gesinne en veral mense wat bemoediging benodig – en selfs al maak dit slegs in een se lewe ’n verskil, “sal ek voel dat die boek sy doel bereik het”.

Die 1 000 liedjies-projek: Wanneer Paulson gevra word of hy nog liedjies skryf, verbaas die antwoord nie werklik nie. “Ja, ek skryf steeds liedjies,” bevestig hy, “omdat musiek nog altyd vir my ’n manier was om mense se harte aan te raak.” Die laaste liedjie wat hy geskryf het, eenvoudig getitel “Baie Dankie”, is vir mense wat ’n betekenisvolle impak in sy lewe gemaak het.

  • Paulson het egter ’n groter droom as enigiets wat hy tot nou bereik het: “Die huidige projek waaraan ek werk, is die 1 000 Song Project. My doel is om teen my 70ste verjaardag volgende jaar ’n versameling van 1 000 liedjies beskikbaar te hê, wat sowel nuwe werke as voorheen vrygestelde liedjies insluit.”
  • Dit sal ook ’n viering wees van sy 50 jaar as ’n liedjieskrywer en kunstenaar.

’n Laaste woord: “As daar een boodskap is wat ek graag met lesers wil deel, is dit hierdie: Maak nie saak hoe moeilik vandag mag wees nie, moenie moed opgee nie. Hou aan glo, hou aan hoop en hou aan vorentoe beweeg, want môre sál die son weer skyn.”

  • Mondstuk Media sal volgende keer skryf oor Paulson se loopbaan as eiendomsagent en wat ander daaroor by hom kan leer.
Leave a Reply