Paarl FM se baas, Lynden Jafta, kry toe geleentheid om ’n meesterproër op MasterChef SA te wees
Die stigter en eienaar van die gemeenskapsradiostasie Paarl FM was die afgelope Sondagaand deel van MasterChef SA se sesde seisoen op e-tv. “Pork belly” en beesvleis het sy smaakkliere gekielie
Wat het hy uit die ervaring geleer? Die waarde van kwaliteit – ongeag of dit oor kos of die inhoud van jou radiostasie is.
KULTUUR | 25.05.2026: Die belangrikheid van bemarking vir jou produk of diens of radiostasie, is iets waaroor Lynden Jafta met sy bemarkingsagtergrond jou baie kan leer. Dis hoekom hy nie twee keer gedink het toe Primedia ’n uitnodiging aan Paarl FM rig om aan die MasterChef SA-opname deel te neem nie.
- Saam met ’n paar ander radiopersoonlikhede moes hy die kos proe wat in die episode se groepuitdaging voorberei is. Mondstuk Media het hom VYF BLITSVRAE gestuur oor die episode, wat gisteraand uitgesaai is:
- Hoe het dit gebeur dat jy deel van MasterChef SA geword het?
Primedia het, volgens hulle, 10 van die mees invloedryke radiostasies in Suid Afrika geïdentifiseer om deel van MasterChef SA (Seisoen 6) te wees en Paarl FM was een van daai 10.
- Wat het jy uit die ervaring geleer?
Ek het geleer dat jy konsekwent met jou kwaliteit moet bly, want jy weet nooit wanneer dit JOU tyd is om in die kollig te staan nie.
- Wat beteken die blootstelling vir Paarl FM?
Die blootstelling bevestig Paarl FM as ’n handelsmerk wat vertrou kan word om nasionale handelsmerke te bemark.
- Watse kos moes julle proe en van watter gereg het jy die meeste gehou?
Die een span het duck voorberei met beet as voorgereg; die ander span het pork belly as voorgereg gehad en die hoofgereg was beesvleis met souse, ensovoorts, wat daarmee saam gaan. Die pork belly en beesvleis was my gunsteling.
- En wat is jou gunstelingkos by die huis?
Oxtail-potjiekos
- Luister op weeksoggende om 6:00 na Lynden se “Brekvis”-program op Paarl FM 96.7 of via die stasie se webwerf of Facebook-blad.
