Theewaterskloof tol glo nie teen geskorste munisipale bestuurder. Beteken dit hy kan terugkeer?

Die beleërde Theewaterskloof-munisipaliteit se plan om van die geskorste munisipale bestuurder, Walter Hendricks, ontslae te raak, staan blykbaar voor ’n rooi regstegniese verkeerslig.

Wat’s die storie? Mondstuk Media het betroubaar verneem dat die regsfirma wat met dissiplinêre stappe teen hom getaak is, het nie goeie nuus vir die munisipaliteit nie.

POLITIEK | 18.05.2026: Derduisende rande, seker al ’n halfmiljoen, is reeds deur die Theewaterskloof-munisipaliteit bestee om van Walter Hendricks as munisipale bestuurder (MM) ontslae te raak. ’n Hele handvol verslae hieroor het al in geslote raadsvergaderings gedraai, alles “in komitee” bespreek.

  • Die meeste het te doen met klagtes wat die omstrede direkteur van gemeenskapsdienste, Wilfred Solomons-Johannes, en die waarnemende MM, GW Hermanus, teen mnr. Hendricks aanhangig gemaak het.
  • Dit is klagtes oor, byvoorbeeld, die beweerde nie-uitvoering van raadsbesluite, ongemagtigde aanstellings of salarisaanpassings van personeellede en algemene bestuurs- en menslike hulpbronne-kwessies.
  • Die onbevestigde lys van regsfirmas wat Mondstuk Media verstaan glo by die verskillende ondersoeke betrokke was, lyk as volg: Enderstein Malumbete, Titus & Associates, Melapi, Fairbridges en Taleni Godi Kupiso Incorporated.

Hoe lank nog? Na wat verneem word, verstryk mnr. Hendricks se verslag ’n jaar ná die komende plaaslike verkiesings, wat op 4 November plaasvind. Dit is nie seker wanneer die raad die nuutste verwikkelinge gaan bespreek nie, maar as die inligting akkuraat is wat Mondstuk Media ontvang het, het die raad nie veel van ’n keuse as om hom na sy pos te laat terugkeer nie.

Die nuutste bevinding is glo dat daar nie voldoende bewyse bestaan, in al vyf verslae, waarop mnr. Hendricks aangekla kan word met die hoop dat die raad ’n suksesvolle dissiplinêre uitslag sal kry nie.

  • Hy is reeds 90 dae op verpligte betaalde verlof.
  • Hy het ook nog geen klagstaat ontvang nie, verstaan Mondstuk Media. Die afleiding is dat dit as gevolg van die tameletjie is wat die nuutste regsfirma wat by die saak betrek is, McWilliams & Elliott Incorporated, aan die raad uitgewys het.

Politiek, politiek: Die DA beklee die meeste setels in die raad en regeer met die hulp van Good en die Socialist Workers Party. Maar Good word deur die DA daarvan beskuldig dat hulle nie ’n betroubare koalisievennoot is nie. Dié beskuldiging kom daarvan dat Good in die verlede hom by die ANC en EFF geskaar het, terwyl die VF Plus in sulke gevalle buite stemming bly, wat uiteindelik die DA-meerderheid nikswerd maak.

Theewaterskloof is deur die ANC geïdentifiseer as een van vier sekondêre munisipaliteite, saam met Swellendam, Witzenberg en Knysna, waarop die party vir #LGE2026 wil fokus. Die grootste fokus sal egter wees op die Stad Kaapstad, Stellenbosch, Saldanha, Drakenstein en George, het ’n ANC-bron aan Mondstuk Media gesê.

Leave a Reply