Ondersteuners van Wellington-beskuldigdes verbreek ’n regsreël deur name op plakkate. Wat is die implikasie?
Die twee rugbyspelers wat beskuldig word dat hulle ’n CPUT-student verkrag het, se voorname is verlede week deur hulle ondersteuners op plakkate buite die hof gebruik.
Wat’s fout daarmee? Dit is nie aldag dat ’n mens plakkate sien wat vir die beskuldigdes “geregtigheid” eis nie; dit is meermale ter ondersteuning van die beweerde slagoffer.
NUUSMAKERS | 18.05.2026: Die plakkate, wat deur die groepie protesteerders buite die Wellington-landdroshof ter ondersteuning van ’n uitblinker van die Roses United-rugbyklub en sy vriend vertoon is, lui onder meer: “Innocent until proven guilty”, “They deserve justice!” en “Hulle is geen gevaar vir die publiek nie”.
- Mondstuk Media se aandag is veral getrek deur die een spesifieke plakkaat waarop geskrywe staan: “Justice for X—– & U—–”. Ons weerhou hulle volledige name.
- Gister het Rapport foto’s van die ondersteunersgroep met hul plakkate geplaas – eers met al die detail daarop en daarna is dit ge-blur om die twee name te versteek.
- Die Sondagblad het die foto’s gebruik saam met ’n onderhoud met die beweerde slagoffer se ma, wat haar diepe teleurstelling en ongelukkigheid uitspreek oor die wyse waarop haar dogter sleg gemaak word deur die kommentare op sosiale media van die beskuldigdes se ondersteuners.

’n Bekende senior strafregkenner, adv. Francois Botes, wat gereeld op RSG gehoor word, het by navraag gesê daar bestaan ’n gevestigde regskonvensie dat enige beskuldigde in ’n strafsaak se identiteit nie bekend gemaak word totdat hulle gepleit het nie. Maar sodra die publiek bewus word van ’n persoon se beweerde misdaad, sê hy, raak dit moeiliker om hulle te keer om die persoon se identiteit bekend te maak.
- In hierdie spesifieke geval, waar die beskuldigdes se identiteit deur hul ondersteuners en familielede bekend gemaak is, “kan hulle dan nouliks kla dat daar ingemeng is met hulle reg op ’n regverdige verhoor en om as onskuldig geag te word totdat hulle skuldig bevind”.
- Dit is hoogs onwaarskynlik dat enige optrede teen die plakkaatdraers sal geskied.
Die publiek versus die pers: Adv. Botes maan steeds dat dit nie raadsaam is vir die media om die foto’s van die plakkate mét die name daarop te publiseer – en by implikasie die beskuldigdes se identiteit dan te help ontbloot nie. Die beter opsie is om aan te hou om die genoemde regskonvensie te eerbiedig totdat die beskuldigdes gepleit het, ongeag na watter kant toe, sê hy.
Die saak is verlede week vertraag deur die teenwoordigheid van ’n tweede regsverteenwoordiger, Benedict Asia, wat aanvanklik as ’n assistent vir die rugbyspelers se prokureur, Elton Rochert, voorgestel is. Maar toe mnr. Asia ook die hof toespreek, is sy rol deur die staat bevraagteken.
’n Ander kwessie wat opspraak gewek het, was ’n petisie wat opgestel is en ingedien is by die hof om die beskuldigdes se borgtogaansoek te ondersteun. Dit het ’n paar honderd handtekeninge bevat en is deur die hof toegelaat.
- Die saak is tot 25 Mei uitgestel omdat die landdros Martie Wilson siek is.
