‘Morsig!’ Hoe Marlon Daniels en Ramaphosa ’n seksuele grap oor ’n jong vroulike PA-LP gemaak het. Gayton lag verleë saam
Pres. Cyril Ramaphosa se parlementêre vrae-sessie Donderdag word onthou vir die EFF en MKP se uitlopery omdat hulle wil hê hy moet bedank oor die Phala Phala-skandaal.
Wat gebeur toe verder? Die President bars uit van die lag toe mnr. Marlon Daniels, hoofsweep van die PA, ’n seksueel-suggestiewe “grap” maak van die 24-jarige Jasmine Petersen.
NUUSMAKERS | 18.05.2026: Dit was moeilik vir pres. Cyril Ramaphosa om sekere LP’s se vrae te hoor, het hy reeds vooraf gesê, weens die swak akoestiek in The Dome, die lokaal wat tans vir parlementêre sittings gebruik word. Me. Petersen het toe op versoek van die President nader aan die podium getree en haar vraag ’n tweede keer herhaal, maar hy kon steeds nie goed hoor wat sy sê nie.
- Marlon Daniels, PA-hoofsweep, het intussen sy eie mikrofoon betree en “op ’n punt van orde” voorgestel dat me. Petersen haar “campaign voice” moet inspan.
- Toe word sy genooi om sommer by die podium self te kom praat om te verseker dat die President haar vir die derde keer wel duidelik kan hoor.
Me. Petersen het haar vraag nóg ’n keer herhaal, terwyl die President glimlaggend langs haar staan. Haar vraag was oor werksgeleenthede vir jongmense. Sy wou van die president weet of enige provinsies hiervoor geprioritiseer word – en spesifiek watter voordeel dit vir “underserved communities” sou inhou. Dit was waarskynlik ’n verwysing na afgeskeepte bruin gemeenskappe, sonder om dit eksplisiet te sê.
“Orde!”: Net nadat die President ’n gebaar van dankbaarheid teenoor me. Petersen betoon het, was mnr. Daniels weer op sy voete – wéér vir ’n punt van orde. Die Speaker, me. Thoko Didiza, het hom kans gegee om te praat. Die “punt van orde”, sê hy toe, was dat hy me. Petersen aangemoedig het om haar politieke veldtog-stemtoon te gebruik – en nie haar “pillow talk”-stem nie.
- In plaas daarvan dat die Speaker óf die President – of sy partyleier, Gayton Mckenzie, wat langs hom gesit het – hom hiervoor voor stok kry, het hulle hartlik saamgelag vir wat mnr. Daniels geglo het baie snaaks was. “Maar dit is nie ’n punt van orde nie,” het die Speaker ook laggend gesê.
- Die President se reaksie was veelseggend. Hy het gesê hy glo die agbare Daniels ly aan “imaginations of grandeur”, wat formeel vertaal word as ’n “grootheidswaan”, maar ook ’n verbeeldingsvlug kan beteken.
- Dit was nie al nie. Pres. Ramaphosa verduidelik dan waarom hy só sê: “I could never have a pillow talk in public.”
Die gebeure is in ’n video op TikTok en Facebook deur Mondstuk Media se inhoudshoof, Heindrich Wyngaard, aangespreek. Hy het dit ’n “dirty old men joke” genoem, waarop ander soos ’n bekende aktivis teen geslagsgeweld, Lucinda Evans, gereageer het: “Morsig!!! Om te dink die Chief Whip van haar eie Party Sexualizes her Voice!!!” Ander kommentare, onder meer een van die akteur en kunstenaar Whaden Johannes wou van min. Mckenzie weet wat hy so snaaks vind in wat mnr. Daniels gedoen het.
