Noudat Moedersdag verby is, ’n herinnering oor moeders se onmisbare daaglikse rol in ons lewe

Ons moeders is nie net ’n mamma-lief nie, herinner MARYNA MARENGO-BARNARD ons na aanleiding van Moedersdag wat Sondag gevier is.

Wat probeer sy sê? Moeders is ons eerste onderwyser, raadgewer, verpleegster, en die eerste een wat vir ons bid.

11.05.2026 | STANDPUNTE: Moeders is engele sonder vlerke. Hulle is die verpleegsters sonder kwalifikasies, wat dag en nag langs die siek kind se bed sit. Die vrouens wat druk en stress by die werk hanteer, net om kos op ’n kind se tafel te sit. Al wil ’n mamma ook breek, is dit die hoop vir haar kinders se toekoms wat seker maak dat hulle knak, maar nie val nie.

Moederskap kom nie met ’n handleiding nie. Tog is daar sekere riglyne vir ’n super-mamma. Hier is solank SES:

  1. Stel jou kinders ten alle tye eerste;
  2. Jy is die primêre opvoeder van jou kind, nie die onderwyser nie;
  3. Maak tyd om met jou kinders te speel en gesels;
  4. Lees vir jou kinders, ongeag hoe oud hulle is;
  5. Moenie op jou kinders se sonde sit nie;
  6. Bid sonder ophou vir jou kinders.

Die vyfde gebod – “Eer jou vader en jou moeder” – moet weer ingeskerp word in kerke en skole.

  • Moeders moet herinner word daaraan dat ons ook liefde moet gee vir ander mense se kinders. Moedersdag gaan ook nie net oor geskenke nie. Dit vra die volgende VYF dinge van elkeen van ons:
  1. Sorg vir jou moeder;
  2. Maak seker daar is kos in haar kaste;
  3. Voorsien in haar mediese en finansiële behoeftes;
  4. Moenie ander eerste stel voor jou mamma-lief nie.
  5. Spandeer tyd met jou moeder en sê jy is lief vir haar onvoorwaardelik.

’n Laaste mamma-gedagte: Dit is net ’n mamma wat vars gebakte brood uniek kan maak en wat herderspastei en malvapoeding soos koningskos laat smaak.

Leave a Reply