Dalene Matthee-boekefees: ‘Die skrywer wie se boeke nooit uitsterf nie’, sorg vir ’n onsterflike naweek-ervaring

’n Brief uit Herold: Sekere naweke – in dié geval om die nalatenskap van ’n geliefde skrywer te vier – dra jy lank daarna met jou saam, skryf SUMAYYAH PETERSEN (op die foto saam met Darryl David).

Wat bedoel sy? Die eerste Dalene Matthee-boekefees die afgelope naweek in Herold, het vir haar gevoel “asof mense vir twee dae weer onthou het hoe om regtig na mekaar te luister”.

11.05.2026 | KULTUUR: In ’n tyd waar alles deur skerms, kennisgewings en geraas oorheers word, het ons onsself die afgelope naweek skielik op ’n plaas bevind waar daar geen selfoonnetwerk en geen elektrisiteit was nie. En tog … of dalk juis daarom … het iets besonders gebeur:

  • Mense het gesit en luister. Skrywers het gepraat sonder die gejaag van tyd. Gesprekke het stadig en natuurlik gevloei. Daar was nie die gewone afleiding van selfone, wat heeltyd lui of mense wat halfpad deur ’n gesprek verdwyn nie.

Die Dalene Matthee-boekefees, onder leiding van Darryl David, met ondersteuning van die ATKV, Jaco Spies, Beverley Mc Kelly, Theo Adams en Berenice Adams, het by Herold Meander afgespeel tussen berge, koue lug en die stilte van die Suid-Kaap.

Wat my diep geraak het, was hoe simbolies die datum gevoel het: Op 8 Mei – 101 jaar nadat Afrikaans as amptelike taal erken is – het mense van oral bymekaar gekom om nie net Dalene Matthee se nalatenskap te vier nie, maar ook die menslikheid wat deur stories leef.

  • Daar was mense van George, Herold en Oudtshoorn. Daar was selfs besoekers uit Nederland wat ingevlieg het vir die fees.
  • Die weer was koud, maar niemand het weggebleik nie. Inteendeel, dit het gevoel asof die koue mense nóg nader aan mekaar laat sit het.

Een van die oomblikke wat my bygebly het, was toe die akademikus en letterkundige Hennie van Coller gesê het Dalene Matthee se romans is “boeke wat nooit uitsterf nie”. Daardie woorde het in die lug bly hang, want dit het gevoel asof almal in daardie oomblik verstaan het dat sommige stories groter word as tyd.

Toe Hilary Matthee oor haar ma praat, het die fees vir ’n oomblik nog meer persoonlik geword. Sy het laggende stories vertel oor die geel HB-potlode wat sy as kind vir haar ma gesteel het, maar ook herinneringe gedeel uit Die hemel moet net ’n bos wees, wat mens laat besef het hoe diep die bos, die natuur en herinneringe in Dalene Matthee se lewe ingeweef was.

Oor die twee dae het soveel bekende stemme hul deel gebring: Riana Scheepers, Christo Davids, Carina Stander, André Boezak, Elias Nel, Chris Marais, Poem Mooney en vele ander. Maar wat vir my die meeste uitgestaan het, was nie noodwendig net die name nie — dit was die gevoel van mense wat opreg daar wou wees. Dalk is dit wat hierdie fees anders gemaak het.

  • Dit het nie gevoel soos ’n formele literêre gebeurtenis waar mense net kom opdaag om gesien te word nie.
  • Dit het gevoel soos mense wat weer onthou het dat woorde stadig gelees moet word, dat stories gehoor moet word en dat literatuur nog steeds mense bymekaar kan bring.

In ’n wêreld wat al hoe harder raak, het Herold vir een naweek stil genoeg geword sodat woorde weer asem kon kry.

  • Sumayyah Petersen is ’n digter, wenner van ’n ATR-Kokertoekenning vir die Bevordering van Afrikaans en is bekend as die Godmother van Afrikaans.
Leave a Reply