‘Nog altyd hier gewees’: Wanneer sal Klapmuts, Pniel en Jamestown hul regmatige kans kry, vra Willa Boezak

Die gerespekteerde teoloog en Khoisan-navorser dr. Willa Boezak is deur groeiende moderne eiendomsontwikkelings in die Stellenbosch-area gegrief – én gemotiveer om ’n gedig te skryf. Foto: ILZE NIEUWOUDT

Waarom is dit belangrik? Omdat hy deesdae ’n inwoner van die gebied is, bekommer die “nadere pyn” tussen die ontwikkelings en die byna chroniese ellende in historiese bruin gebiede hom.

Klapmuts, Pniel, Jamestown

Gonnema, die “Swart Kaptein” met ’n bruin gelaat
se laaste guerilla sterf roemloos in 1677
Ewe bruin Van der Stel hernoem Khoigrond na homself
trekboere beset die omgewing gewapend
maar by Klapmuts gryp getraumatiseerdes
Kompanjie-kleinvee
knersend-woedend stop Simon later
’n bronsknop-staf in ’n verraaier se hande
en noem hom “Kaptein Klaas”
dankie Baas…

Vandag verwurg
stinkryk vet vingers
agter nuwe hoë mure –
daai historiese Khoidorp…
kultuurerfenis se moer
hul nasate se protes
versmoor onnerie bloedgeld

Byna asof hulle
soos Jakob na sy engelworsteling
God se gesig sien: “Pniel…”
uiteindelik in 1843 Pniel!
Die Congregational sendeling glimlag-sug
skeef na die vrye slaafgemaaktes
vars omgedolwe grond vir vrugtebome
vermeng trots en geloof
geslag na geslag na geslag…
waar Small jaarliks vereer word –
vergeefs?
Want

Vandag verwurg
stinkryk vet vingers
agter nuwe hoë mure –
daai historiese slawedorp…
kultuurerfenis se moer
hul nasate se protes
versmoor onnerie bloedgeld

James Rattray bekyk Rynse sendeling Weber
se swierige handtekening
vir oer Kochokwagrond langs die blink Bloukliprivier
“Neef, aarbeie en bruin arbeiders sal hier aard”
in mooie Jamestown
in 1902…
Maar

Vandag verwurg
stinkryk vet vingers
agter nuwe hoë mure –
daai historiese bruin dorp…
kultuurerfenis se moer
hul nasate se protes
versmoor onnerie bloedgeld

Willa Boezak
11 Mei 2026

  • “Nog altyd hier gewees” is die titel van ’n boek wat dr. Hermann Giliomee, historikus, oor Stellenbosch se bruin gemeenskappe geskryf het.
Leave a Reply