‘Celeb’ PAM ANDREWS se geheim: ‘Ek is HALF-SWART, maar moes dit wegsteek.’ Nou wil sy leer ‘theta’

Die bekende persoonlikheid, wat in 2002 eers met haar sangtalent en agterna haar toneelspel op televisie naam gemaak het, geniet steeds groot aanhang op sosiale media.

Waaroor trend sy tans? In ’n video, wat sy pas gelaai het, onthul sy haar “gemengde” familiewortels en die beroering wat dit veroorsaak het toe dit op skool “ontdek” is.

10.05.2026 | NUUSMAKERS: Die voormalige Coca Cola Popstars-wenner en later akteur in onder meer Backstage en Rhythm City, het ’n opspraakwekkende stuk familiegeskiedenis oopgevlek in ’n video op sosiale media. Dit is deur haar volgelinge as onstellend ervaar omdat dit met ’n pynlike deel van Suid-Afrika se verlede van rassediskriminasie te doen het.

  • Maar Pam Andrews (nou 41 jaar oud) vertel nie die storie op ’n manier wat klink asof sy haarself jammer kry nie; sy lag liewer oor die absurditeit daarvan.

Uthini kaloko? Die video gaan eintlik oor haar besluit om Xhosa te leer praat. Dit is die motivering hiervoor wat die ware verhaal van haar identiteit ontbloot, naamlik dat haar ma bruin is en haar pa swart.

  • Niemand mag egter daarvan geweet het, vertel sy, toe sy opgegroei het nie – en sy meen dit was omdat haar (bruin) ouma, wat lig van kleur was, ’n oorval sou kry. Haar ouma, “half-wit en half-Coloured”, het glo ook na haar deur die k-woord verwys.

’n Mens met vele talente: Maar die geheim is uiteindelik ontbloot toe Pam op skool een van haar ánder talente, waarvan min aanhangers seker geweet het, wou navolg deur by die netbalspan aan te sluit. Hiervoor moes sy haar geboortesertifikaat saambring om as speler geregistreer te word. Haar van op haar geboortesertifikaat is egter “Siku” (haar pa se van), terwyl sy as “Andrews” (haar ma se nooiensvan) geken is. Die afrigter se geskokte reaksie was: “Wie is Pamela Siku?!”, vertel sy geamuseerd, hoewel sy erken dat dit tog “kindertyd-trauma” veroorsaak het.

  • Die reaksie van die ander netbalspelers en haar vriende was gemeng: “Pam is ’n darkie,” het sommige hoorbaar gefluister.
  • Haar een vriendin wou die volgende dag weet of dit waar is dat sy swart is: “Patricia,” het sy geantwoord, “djy is han donker[der] as my!”
  • Maar ’n ander leerder, Yusrah, met wie sy ’n hegte vriendskap geniet het, het haar beskerm teen ’n gespottery deur die ander te dreig dat sy hulle sou “moer” as hulle dit doen.

Sosiale mediagebruikers het met afgryse op Pam se verhaal gereageer. Mondstuk Media salueer haar dat sy die storie gedeel het – en die wyse waarop sy dit doen.

Namelekkers: Wat Pam ook in die video laat val, is haar herinnering aan hoe haar naam deur ander kinders, waar sy op die Kaapse Vlakte opgegroei het, as “Pêm” uitgespreek is. Dit het haar behoorlik geïrriteer, vertel sy.

Leave a Reply