’n Skelm rokery veroorsaak ’n vernietigende brand by ’n skool. Wat is die belangrikste les wat hieruit geleer word?
Die onlangse verwoestende brand by die Augrabies Intermediêre Skool op die Noord-Kaapse dorpie Augrabies, hou ernstige gevolge vir die skuldiges in.
Waarom moet hierop gelet word? Die vermeende brandstigters is jong skoolkinders. Hieruit moet hulle en ander leer, skryf ISAAC CLOETE.
2.02.2026 | STANDPUNTE: In nuusberigte het in swart geskryf gestaan: “Nege klaskamers en die administratiewe blok was totaal verwoes. Boonop het al die kantoor-toerusting en die skool se belangrike en onvervangbare lêers in die slag gebly.”
- Die skoolhoof, mnr Desmond Claasen, het seker geen ander keuse gehad nie as om die vier vermeende brandstigters by die polisie te gaan verkla. Dit is ’n ernstige kriminele oortreding of misdryf. Dit kan lei tot tronkstraf en selfs lewenslange gevangenisstraf indien lewens in gevaar gestel word, luidens die betrokke wetgewing.
Wat is brandstigting? Die wet beskryf brandstigting as die opsetlike, onwettige en kwaadwillige brand steek van eiendom, soos byvoorbeeld ’n skool, met die doel om skade te veroorsaak of ander in gevaar te stel.
- Belangrik hier is om daarop te let dat openbare skole staatsgeboue is, wat opgerig word met fondse van belastingbetalers. Gemeenskappe moet dit dus oppas, maar behoort dit ook te bewaar sodat die geskiedenis van hul skole vir nageslagte behoue bly.
“Charity begins at home”: Dié frase was nog nooit so betekenisvol, noodsaaklik en dringend nie soos in die geval van die Augrabies-gebeure nie. Dit beteken dat morele waardes tog steeds nog in vandag se woelwater lewe aangeleer en ingedril moet word. Anders gestel: Tree verantwoordelik op en staan pa vir jou dade. Dis steeds ’n ouerlike plig en ondankbare toesigrol wat onverpoosd binne ons gemeenskappies moet gebeur.
Die aansteek van ’n vuurhoutjie of sigaret moet steeds met groot verantwoordelikheid gebeur.
- Rokery word lankal nie meer toegelaat op of binne openbare plekke nie. Dit geld ook vir skole – tydens normale skool-ure, pouses én ná skool.
Wat die ouers sê: Nadat die brand rugbaar geword het, het verskeie van die ouers hulle sterk hierteen uitgespreek. Van hulle het van meet aangedui dat hulle brandstigting vermoed en ’n ras-vinger van beskuldiging is gewys na “iemand uit die lokasie uit”.
Die voorval het verder ook ’n soort tweespalt op ’n ander vlak in die dorpie veroorsaak:
- Tweespalt tussen bevoorregtes en minderbevoorregtes.
- Tweespalt tussen die redelikes en onredelikes.
So het baie die brand sterk veroordeel, maar enkeles het dit probeer verdedig met byvoorbeeld persoonlike argumente dat dit kinders was. Of dat dit nie opsetlik was nie.
Om die kommentare te verstaan, moet ’n mens jou egter eers vergewis van die agtergrond en geskiedenis van die skool, enersyds. Maar andersyds ook oor die omstandighede en uitdagings (“issues”) van die gemeenskappie van Augrabies.
Uit die geskiedenisboek: Die skool is ’n voormalige Model-C skool, wat iewers in 1946 gebou is. Weens verskeie redes het wit ouers ná 1994 hulle kinders uit die skool geneem en ’n ander skool ’n paar kilometers weg laat bou.
Die brand het waarskynlik per ongeluk ontstaan omdat die vierstuks vermeende “brandstigters” (14, 15, 16 en 9 jaar oud) skelmpies gerook het. Hulle is gearresteer en reeds aan ’n voorlopige ondersoek onderwerp, maar in die sorg van hulle ouers vrygelaat. Slegs die 9-jarige is weens haar ouderdom nie aangekla nie.
“Nadat hulle klaar gerook het, het een die brandende stompie sommer net daar weggegooi,” hoor ’n mens ’n inwoner, bekend as SN Thekiso, vertel. “Só het ’n skool van byna 80 jaar oud in sy m**r gebrand.”
Menings verskil oor wat met die kinders moet gebeur:
- “Ek dink die ouers sal ook ondervra moet word. Baie weet nie altyd nie, waar orals hulle kinders rondloop,” sê SN Thekiso.
- ’n Ontstoke ouer, Lanie Taylor, wil nie vinger wys nie, maar dink dat die vier beskuldigdes aan opvoedings-en rehabiliteringsprogramme blootgestel moet word.
- Ander wil hê lyfstraf moet teruggebring word. Selfs tronkstraf vir die vier se ouers word ook rond gegooi.
Hierdie skrywer se standpunt: Miskien sal die lewenslange verwyt en skuldgevoel, asook die permanente emosionele uitmergeling van die vier, ’n gepaste straf wees. En hieruit behoort ander leerders in Suid-Afrika ook te leer dat dade gevolge het.
- Isaac Cloete is ’n vryskutjoernalis.
