‘From Hanover Street’: Dié vier broe’tjies en die musicals-maestro David Kramer maak weer magic. Ons praat met Loukmaan
Alistair, Emo, Loukmaan, Jody – en Kramer – se musikale herdenking van Distrik Ses se verklaring as ’n wit gebied in Februarie 1966, draai die horlosie sestig jaar terug. Dit is nie ’n dag te vroeg nie.
Waarom maak dit saak? “Die Distrik” vorm ’n kern deel van bruin gemeenskappe se diverse kulturele en politieke geskiedenis.
2.02.2026 | KULTUUR: Ses konserte sou nooit genoeg wees nie, want Kapenaars was uitgehonger vir ’n nuwe Kramer-produksie. Elke ander een, spesifiek dié wat hy van die begin saam met sy kreatiewe kameraad Taliep Petersen op die planke gebring het, was hoogtepunte in die lewe van gehore wat dit ondersteun het.
District Six, The Musical, was die eerste en ’n gróót sukses, soos Kramer vertel in die programboekie van sy 2016-produksie, District Six, Kanala, vyftig jaar nadat Distrik Ses in 1966 as ’n “wit gebied” verklaar is:
- “District Six: The Musical, which Taliep and I wrote in 1986 was a massive hit, and happily for us, the first of many. Our partnership was to last twenty years and our work was to take us to London’s West End and Broadway in New York.”
Maar toe word Petersen in sy huis vermoor op 16 Desember 2006 – Versoeningsdag, ’n ironie wat ’n mens nie verby moet laat gaan nie. Saam met Kramer het hy mense oor die kleurgrens heen byeengebring op die sitplekke van teaters, soos die Baxter en Fugard, met die manier waarop hulle die nalatenskap van Distrik Ses se inwoners lewendig gehou het.
LEES MEER OOR DISTRIK SES EN ‘KANALA’ HIER
Nou is dit sestig jaar nadat die Wet op Groepsgebiede die stootskrapers in Distrik Ses ingestuur het en dit is veertig jaar ná die eerste District Six-musiekblyspel. Hierdie keer word die vervaardiging deur Kramer saam met die oorspronklike “broertjies” – Loukmaan Adams, Emo Adams, Jody Abrahams en Alistair Izobell – behartig.
- Hulle noem die produksie From Hanover Street, uit die eerste lyn van een van die gewildste liedjies in die oorspronklike musical.
- Die venue is KunsteKaap se Operahuis.
- Die aanvraag van die kaartjies was só oorweldigend dat daar nou twee ekstra konserte gereël word: naas dié om 8nm. vanaf 10 – 15 Februarie, sal daar nou ook om 6nm. op die 14de en 15de opvoerings gehou word.
Mondstuk Media het drie vrae aan Loukmaan Adams ge-WhatsApp:
- Wie was “Broertjie” die eerste, tweede, derde, vierde keer …?
“Ek dink dit was ’n outjie met die naam Schalk en toe word hy deur Jody vervang en ek het by Jody aangesluit. Ons het in die Kaap, Johannesburg, Durban, PE opgetree en ek het ook die Edinburgh-fees gedoen. Toe ons terugkom, toe sluit Alistair aan … en toe ons twee se stemme breek, het Emo oorgevat.”
- Wat was nog altyd jou gunsteling-liedjie uit die musical?
“My favourite song was nog altyd een wat genoem word ‘Now I understand’ oor ’n wit meisie en ’n bruin ou wat verlief raak in die tyd van die Immorality Act toe dit onwettig was. Maar soos ek ouer word, het ander songs my favourite geword. Nou is dit ‘My Broetjie, My Bra’, maar môre kan dit weer ‘New Year’ wees of ‘Klop-klop’.”
- Jou boodskap aan Taliep oor sy bydrae in die verlede en sy afwesigheid nou?
“Dr. Taliep Petersen, dankie dat jy veertig jaar lank in my geglo het en my altyd gedruk het tot op ’n punt wat ek self nie altyd verstaan het nie. Dankie dat jy my altyd herinner het om trots te wees op my kultuur en nie deur geraas buite beïnvloed te word nie. Stick to your truth, het jy gesê.
- “Being my theatre dad, therapist, big brother, friend, father figure, spiritual leader, reminding me of my deen (religion) … musically educating us … giving us the tools to go forward in life … Thank you for paving the way for us as Coloured artists.”
