EKSKLUSIEF: Anthony Muller, ’n ‘Coloured refugee’ in Amerika, sê hoekom hulle Trump se aanbod aanvaar het. Hy nooi ander bruin mense om dieselfde te doen
Anthony Muller en sy gesin is die afgelope naweek na hul eerste braai in Amerika genooi. Hulle is nou amper drie weke daar anderkant.
Hoekom maak dit saak? Hulle is ’n bruin gesin wat ook suksesvol aansoek gedoen het vir pres. Donald Trump se spesiale vlugtelingaanbod aan Afrikaners en ander “rasminderhede” in Suid-Afrika.
2.02.2026 | NUUSMAKERS: “Tot vandag toe het ons niks weer gehoor van die polisie nie,” sê Anthony Muller die afgelope Vrydag uit die dorpie Sue Falls in South Dakota in Amerika. Hy verwys na die keerpunt in 2024 in sy gesin se lewe – sy vrou Elvera, hul dogter (nou 9) en hul seuntjie (nou 6).
- Dit was toe hulle een aand in hul huis in die histories “wit” deel van Wellington aangeval is. Die aanvallers, spel mnr. Muller dit uit, was “vier swart mans”, wat toe nogal by hom wou weet waarom hulle as bruin mense in dié buurt woon.
- Die gesin is gyselaar gehou en die aanvallers het ook gedreig om Elvera te verkrag voordat hulle daar weg is met hul buit. “Hulle het alles gevat,” sê mnr. Muller. “Ons TV’s, laptops, selfone en hulle is weg met die kar.”
Dié traumatiese voorval was deurslaggewend in die gesin se aansoek vir vlugtelingstatus; en mnr. en mev. Muller het hulself herinner aan die belofte wat hulle gemaak het toe hulle mekaar die dag ontmoet het: dat hulle hul kinders in beter en veiliger omstandighede wil groot maak as wat hulle aan gewoond was.
KYK DIE VOLLEDIGE ONDERHOUD MET ANTHONY MULLER OP YOUTUBE DEUR HIER TE KLIEK.
LEES onder TIEN PUNTE uit die onderhoud wat ons inhoudshoof, Heindrich Wyngaard, neergepen het:
- Die familie “is sterk agter ons”. Hulle sien die misdaadklimaat in Suid-Afrika en “is 100% seker dat ons ’n goeie skuif vir ons kinders se toekoms geneem het”.
- Die oumas en oupas mis wel die kinders, maar “hulle is happy om te sien ons is happy”.
- Die besluit om na Amerika te gaan kom van die gesin se belewenis in Suid-Afrika dat die wet nie aan hulle kant was nie.
- Mnr. Muller sê: “Misdaad het normaal geraak – en dit is nie normaal nie. Ons het net oorkant ’n parkie gebly en die kinders was te bang om alleen na die parkie te gaan.”
- Suid-Afrika het hom ontneem om sy Christelike waardes uit te leef, soos om langs die pad te stop om iemand in nood te help, want jy weet nooit of dit nie dalk ’n lokval is wat vir jou gestel word nie, sê hy.
- Die koue in Amerika is ERG teenoor die hitte waaraan hulle in Wellington gewoond was.
- Die kinders pas ongelooflik goed aan: “Hulle is nie meer bang nie,” sê mnr. Muller. “Hulle is miskien net bang vir die koue, maar vir geen mens nie.”
- Oor Engels praat in Amerika: “Ons sal nie Afrikaans sommer prysgee nie. Ons doen ons Bybelstudie en gebedsessie saans in Afrikaans. Die kinders moet maar hulle Engels by die skool leer.”
- Oor sy neef wat hom aanvat oor sy besluit, die enigste een werklik in die familie, sê mnr. Muller dat hy te veel TV kyk en só “verkeerd” beïnvloed word. “Ek weet net ons het ’n president hier in Amerika en ’n Vice President wat at least glo dat daar is ’n Here in die hemel wat in beheer is van alles.”
- Hulle was aangenaam verras toe hulle hoenderpootjies in die plaaslike supermark raakloop, maar mnr. Muller mis sy “mielies en boontjies” (sop), want hy kry nie die stampmielies daarvoor in die hande nie.
Die groot vraag: Wat is die een ding wat moontlik kan maak dat jy op ’n dag sê ons moet huis toe gaan?
- “Ek en my vrou is pretty much on the same page: Die besluit wat ons geneem het, was die beste besluit. Ons het geen desire om terug te keer nie. Inteendeel, ek bid en vertrou dat daar nog van my familie is wat belangstel in die program en sal aansoek doen. Dalk met ons experience sal hulle nou meer motivated wees om aansoek te doen. Maar so sad soos wat dit is, sien ek nie vir ons terugkeer Suid-Afrika toe nie – ongelukkig nie.”
Mnr. Muller se doel met hierdie onderhoud was, soos hy dit stel, “om die leuens te help afbreek dat die program slegs vir wit Afrikaners is”.
- Sy boodskap aan ander bruin mense is: “Die geleentheid is daar. Hoekom wil jy in ’n plek bly waar jou lewe in gevaar is [soos op die Kaapse Vlakte]. Is dit hoe ’n mens jou kinders wil laat opgroei: in gangsterism, in drugs en stuff?”
- Hy daag hulle uit: “As jy sê jy is lief vir jou kinders, hoekom doen jy dit dan nie vir jou kinders nie?”
