Die PA is ’n FOEFIE, sê John Steenhuisen vir bruin kiesers. Maar hy wil nog altyd weet hoekom hulle vir Gayton se party stem

“George het my baie bekommerd gemaak, want dis ’n DA-munisipaliteit waar ons in regering is. Dis in ’n DA-provinsie,” sê John Steenhuisen, nasionale DA-leier.

Waarom is dit belangrik? Terwyl hy antwoorde soek op die skuif van DA-steun na die PA, is hy duidelik oor een ding: dat hy glo die PA draai kiesers ’n rat voor die oë. Pasop vir die Patriots, hoor, wil ’n mens amper vir hom sê.

2.02.2026 | PLAKKATE & KANDIDATE: Die onderhoud met mnr. John Steenhuisen, DA-leier, is versoek om spesifiek te praat oor sy stelling teenoor Rapport dat die DA ondersoek gaan instel na waarom (bruin) kiesers na die PA oorbeweeg in gebiede waar die DA regeer. “Waar jy ’n trend sien,” sê mnr. Steenhuisen, “dan moet jy ’n bietjie meer bekommerd wees.” Maar oor tussenverkiesingsuitslae voeg hy by: “Dit is ook nie noodwendig ’n teken dat jou kiesers weggeloop het.”

  • Ons het hom sommer ook gevra of hy meen daar word, nou in die aanloop tot die party se leierskongres, ’n veldtog teen hom as leier gevoer; en ons wou weet hoe gereeld hy oefen … om beter te kan dans! Dié dele van die video-onderhoud is reeds op Facebook en Youtube gelaai.

Wat die inhoud van vandag se Mondstuk-storie betref, kan die volledige gesprek op Mondstuk Media se Facebook-blad en ook op Die Wyngaard Kanaal op Youtube gekyk word. SUBSCRIBE op die kanaal sodat jy op hoogte kan bly van nuwe inhoud wat gelaai word.

Ons plaas ’n opsomming van NEGE HOOFTEMAS wat in die onderhoud aangeraak word om dit makliker leesbaar vir jou te maak:

1. Oor kleiner partye. “Dit is moontlik dat kleiner partye beter in tussenverkiesings doen omdat hulle dan hul fokus op een wyk kan plaas. Wanneer die plaaslike verkiesings plaasvind, verander die storie wanneer ’n hele aantal wyke ter sprake is.”

2. Oor die PA se: “Ons is vir die Coloured voters!” vs die DA se: “Open opportunity society”. “Maar die feit is dat as jy jou gemeenskap en jou waardes en jou gemeenskaplike waardes wil beskerm, maak dit meer sin om deel van ’n gróót kampie te wees waar ons almal saam ons belange kan beskerm.”

3. Wat het die ANC hiermee te doen? “Die droom vir partye soos die ANC is om te sien ons verdeel ons kiesers. Jy’t ’n party vir bruin mense, party vir swart mense, party vir wit mense, party vir Afrikaans mense, ’n party vir Engelse mense – en dan is dit baie maklik om daai belange uit die pad te stoot.”

  • ’n Beter opsie. “Ons kan ons taal, ons kan ons kultuur, ons kan al daai beter beskerm as deel van ’n groter volksparty. So miskien is [die eilande van politieke afsondering] ’n sterk boodskap in die kort termyn, maar as ons wil seker maak dat ons waardes, ons beginsels, ons kultuur, alles wil beskerm, maak dit beter sin dat ons saam met Zoeloe-mense, met Engelse mense, met Afrikaanse mense saambring waar ons almal kan opstaan vir die waardes en beginsels en die kultuurregte van al ons lede.”

4. ’n Verandering in die politieke kultuur. “Mense stem met hulle siel en hulle hart en nie hulle kop nie. As mense met hulle kop stem, sal die DA lankal ’n meerderheid in Suid-Afrika gehad het. (…) Dis wat mense voel wat uitspeel in die stembusse. Dit is hoekom ons ’n antwoord moet het op daardie bekommernisse [oor gemarginaliseerdheid by bruin kiesers]. Hulle moet die verandering in hulle harte voel dat hulle bekommernisse gehoor word.”

5. Oor etniese politiek. “Ek dink mense moet baie mooi kyk en luister wat leiers doen. Hulle moet let op die consistency. Partykeer dink mense in die politiek dat kiesers dom is. Hulle is nie dom nie; hulle is baie slim. En hulle kan ’n foefie sien van kilometers ver af.”

6. Vertroue in Good as ’n koalisievennoot. “Ja, ons moet vertroue het. John Kennedy het famously gesê: ‘Trust, but varify.’ En ek dink dis hoe ons die dinge hanteer.”

7. Sprinkaan-politiek. “Mense moet hou by plaaslike regerings wat ernstig is oor dienslewering. Sprinkaan-politiek bring onstabiliteit. Die sprinkane fokus op populisme en die korttermyn en hulle vergeet van die langtermyndinge van ’n munisipaliteit soos water en riool, byvoorbeeld.”

8. Oor die PA se politiek. “Dit is ’n foefie, want as jy kyk na wat gebeur in Knysna waar die mense sit sonder water met riool in die seewater daar. Ons sien wat gebeur het in Beaufort-Wes. Mense moet seker maak dat hulle stem vir partye met ’n baanrekord van dienslewering. Nie net groot beloftes.”

  • Heuning op die tong. “Hulle moet versigtig wees hiervoor, want ná verkiesingsdag is daai heuning weg en sit hulle met swak regering.”

9. Of kiesers hul bruinwees of Khoisan-identeit in die DA mag uitleef? “Dis baie belangrik dat ons meer waarde gee aan die belangrikheid aan die kulture en tale in ons land. Ek dink die rede hoekom ons so sterk as ’n nasie is, is dat ons al hierdie verskillende tale en kulture het wat saamkom. Ons moenie ’n situasie het waar Engels die hooftaal is en dit elbows out die Afrikaans.”

  • Say what? “Dis hoekom ek so … ek probeer elke dag om my Afrikaans te verbeter (…) Ek is ’n Engelsman van kwaZulu-Natal, maar ek kan Afrikaans kultuur en taal beskerm net so goed as ’n Afrikaanssprekende persoon of ’n bruin kieser van die Wes-Kaap af.”

 

Leave a Reply