Mondstuk Media se stigter wil deur dié nuushuis as ’n spreekbuis vir gemeenskappe optree en ook aan hulle stem gee. Hy besef harde werk lê voor
Mondstuk Media is gebore uit die bekommernis onder Afrikaanssprekende bruin mense oor wat ervaar word as onvoldoende dekking van dié gemeenskappe deur die hoofstroommedia.
Wie se idee was dit? Ons het dit tot nou geheim gehou omdat ons wou hê die platform moet eers behoorlik aan die gang kom, maar nou kan ons dit onthul. Dit is die man wat alombekend staan as Mnr. KLOP! – “with a little help from his friends”, soos hulle sê.
Die lewe staan nie stil vir Heindrich Wyngaard, o.b.a. “Mnr. KLOP!”, nadat hy in Julie verlede jaar die laaste keer die gewilde gespreksprogram “Kô, lat ons praat!” op kykNET&kie aangebied het nie. Hiervoor het hy in 2023 die heel eerste Silwerskerm TV-toekenning as beste aanbieder van ’n gespreksprogram op kykNET ingepalm; en tussen November verlede jaar en Junie vanjaar was hy ook mede-aanbieder van “Tuis met Thys” op VIA, terwyl hy reeds sedert April 2022 die uitvoerende voorsitter van die burgerregte-organisasie Kaapse Forum is. Hy was voorheen voorsitter van Caledon se rugbyklub; dien op direksies soos dié van die Atterbury Foundation se MOI-projek (Moedertaal Onderrig Inisiatief), asook op die oorsigkomitee van die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
Wat jy van hom moet weet, is dat Heindich Wyngaard verkies om eerder met te veel dinge besig te wees, as om te sit en wonder wat hy volgende gaan doen. Om jou ’n idee te gee van hoe sy dagboek verlede week gelyk het:
- Maandag: Vlieg Johannesburg toe vir ’n paneelbespreking die aand op die kykNET-program “In Gesprek met Lourensa Eckard”;
- Dinsdag: Reis na Centurion in Pretoria vir ’n opname vir ’n dokumentêr oor rasgebaseerde wetgewing;
- Woensdag: Openingspreker by die Nasionale Khoi & San-eenheidskongres in die suide van Johannesburg;
- Donderdag: Onderhoud op RSG se “Op & Wakker” oor sy betoog dat bende-assosiasie, -kentekens en -taal verbied moet word; en keer terug na Kaapstad;
- Vrydag: Onderhoud op RSG oor sy oproep by die Khoisan-kongres dat die inheemse gemeenskappe op wyses moet begin optree wat ’n einde aan die bespotting sal bring; woon operasionale vergadering van Kaapse Forum by; reis huis toe na Caledon.
- Saterdag: Bring die dag saam met sy dogtertjie Avery deur, wat in die week vyf geword het; woon die aand ’n modevertoning van die jong, opkomende mode-ontwerper Alessandro van die handelsmerk Reivilo op Kleinmond in die Overstrand by.
- Sondag: Kerk toe; en werk aan hierdie week se uitgawe van Mondstuk Media.
Dit is oor sy betrokkenheid by laasgenoemde inisiatief dat ons vandag oor hom skryf. Soos enige ander nuwe idee, moes ook hierdie een iewers posvat – en dit was uit ’n frustrasie wat mnr. Wyngaard met ander in die bruin gemeenskappe deel.
- In sy eie woorde: “Die inkrimping van gedrukte Afrikaanse publikasies en ’n aantal ander voorbeelde van afskaling in die Afrikaanse media in die algemeen, lei noodwendig tot strenger keuses wat deur (dikwels wit) besluitnemers gemaak word. ’n Mens vind dan, as jy dit beskou vanuit die perspektief van bruin Afrikaanssprekende gemeenskappe, dat die ‘bruin’ aanbod mettertyd verskraal.”
Die vraag is egter altyd maar, voer mnr. Wyngaard aan: Wat staan jou te doen as jy nie slegs as ’n klakous of vingerwyser bekend wil wees nie?
- Hy neem ’n stap terug op sy lewenspad: “Lank gelede het prof. Jakes Gerwel my ’n groot kompliment gegee dat ek, volgens hom, een van die jonger Afrikaansskrywende public intellectuals sou wees wat ’n erns oor die verwikkeldheid van mens-wees sou hê,” onthou mnr. Wyngaard.
- “Ek meen daarom dat ek ’n verantwoordelikheid het – ter nagedagtenis aan Prof. en om getrou aan myself te bly – om in alles wat ek doen gedurig oor dié verwikkeldheid van mens-wees te dink en te praat en, belangriker, om ander ook daaroor te laat dink en aan die praat te kry.”
- “My vertrekpunt, gegee my komvandaan, is altyd maar die bruin gemeenskap en spesifiek ons verhouding met wit Afrikaanssprekendes en, daarna, alle ander Suid-Afrikaners.”
- Wyngaard sê wat hier bo vir homself as ’n bietjie van ’n wye draai oor die ontstaan van Mondstuk kan voorkom, is inderdaad die beweegrede agter dié aanlyn-“nuushuis”, soos hy dit noem: “Dit was nodig om ’n nuwe platform te skep,” sê hy, “wat op ’n eenvoudige wyse – in terme van skryfstyl en die ontwerp van die platform – stories aan Afrikaanssprekendes kan bring wat die aanbod sal verbreed in terme van die weerspieëling van ons diverse samestelling.”
Wanneer mense op www.mondstuk.co.za ’n draai maak, moet hulle binne ’n minuut die kruks van ’n storie kan snap en die hele stuk in net ’n paar minute ekstra klaar kan lees.
- Die konsep is oorgeneem uit die aanlynplatform com, vertel mnr. Wyngaard, maar wat Mondstuk anders maak, is die vertelstyl waarin die stories geskryf word, sommer met bietjies kommentaar ook tussen-in.
- “Dit sal mos nou nie help as ons gewoon aan ons gehoor stories opdis wat in elke geval al op sosiale media deurgetrap is of deur die ander, groter platforms gedek is nie,” sê hy. “Ons sê Mondstuk sien wat ander nie sien nie; en ons rapporteer wat ander nie rapporteer nie.”
- “Ons gebruik wel sosiale media om stories te identifiseer wat ons ’n professionele joernalistieke behandeling kan gee om dit sakpas vir ons platform te maak. Wat ek bedoel, is dat dit áltyd tot die gemeenskappe moet spreek, nie net mense met belangrike titels nie.”
- ’n Ander belangrike onderskeid het juis met die gebruik van titels in Mondstuk-stories te doen. “Ek moet bieg dat hierdie ’n baie persoonlike besluit van my was, want vir baie jare nou al pla dit my erg as ’n professor of ouer gas op radio sommer net so op die voornaam deur aanbieders aangespreek word; aan die ander kant, weer, word na ’n mamma op haar van verwys nadat sy die eerste keer bekend gestel is in ’n berig oor haar kind wat sy, sê maar, weens ’n motorongeluk of bendegeweld aan die dood afgestaan het,” verduidelik hy.
- “Ek besef dit is belyn met die publikasie of radio- en TV-stasie se redaksionele styl, maar ek voel dit kom onbeleefd of oneerbiedig voor. Om titels regdeur te gebruik, soos wat internasionale publikasies soos The New York Times en The Economist doen, is ons manier om respek aan die mammas te betoon en erkenning aan die professors vir hoe hard hulle moes studeer en werk om daardie titel te kan gebruik.”
Waarom dan die opskrif met verwysing na “mond uitspoel” op die voorblad?
- Mnr. Wyngaard, wat al deur die tydskrif Vrouekeur “koning van klets” gedoop is en bekend is as ’n meningsvormer oor samelewingskwessies, taal en die politiek, sal voortaan ’n weeklikse rubriek vir Mondstuk skryf. Hierin sal hy temas kies wat aansluit by stories in die week se uitgawe of oor ’n nasionale kwessie skryf wat relevant is vir die plattelandse, Afrikaanssprekende gemeenskappe wat Mondstuk wil bereik.
- Die naam vir die rubriek waarop hy besluit het, is “Maandagsout”, afgelei van ’n rivier net buitekant Riviersonderend, rigting Caledon.
