’n Lied vir ‘Dr. Jonathan’: Jazz- en gospel-superster word by spesiale konsert op 24 Oktober deur die Kaap se beste talent én sy familie gehuldig

Kitaar-konings soos Allou April en Cameron Ward en familielede, onder wie broer Danny en suster Sandra, sal saamspan om op Vrydag, 24 Oktober, eer te betoon aan een van die Kaapse Vlakte se beste jazz- en gospel-uitvoerprodukte, Jonathan Butler.

Waarom is dit belangrik? Omdat die konsert, geïnisieer deur Keegan Williams (op foto), die lys van vererings vir Butler oor die afgelope jaar verleng: eers ’n ere-doktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch; en die afgelope naweek in New York het hy ook ’n Global South Africans Cultural Ambassador-toekenning ontvang.

Keegan Williams het in Mitchells Plein opgegroei met die klanke van Jonathan Butler wat in sy ouerhuis speel, hárd, uit sy broer se musiekstel. In later jare was dit Butler se unieke kitaarspel en stem wat gehelp het om hom op te beur gedurende donkerwolk-tydperke, soos die Covid-pandemie.

“Die wete dat dr. Butler een van ons is uit Belgravia, Athlone, het my hoop gegee – en toe ek hom later ontmoet, was ek oortuig dat ons vir hom blomme moet gee, terwyl hy nog lewe en nie moet wag tot hy nie meer met ons is, soos wat die meeste van die tyd die geval is nie,” sê Keegan.

Nou is hy die vervaardiger van die spesiale huldigingskonsert, A Life in Song, om Butler te vereer deur die samekoms van top-talent uit die Kaap en uit sy eie familie, soos sy broers Danny (bekend vir sy deelname aan David Kramer en Taliep Petersen-musiekblyspele) en Ian, asook sy suster Sandra.

Hier beantwoord Keegan vyf vrae oor die konsert:

  1. Hoe het die idee vir die JB show ontstaan?
  • “Die idee is in 2019 gebore toe die wêreld deur ’n vernietigende en lewensveranderende periode gegaan het.”
  1. Wat moet die eindresultaat wees?
  • “Ek sal wil hê die projek moet as motivering dien vir ander jong creatives of aspirant-kunstenaars om hul drome lewendig te jou, veral dié in minderbevoorregte gemeenskappe,” sê Keegan. “Maar ook dat Jonathan Butler, wat vir sowat ses dekades vir ons vermaak het, nou kan terugsit en dit geniet wat ons op die verhoog aanbied vir hom.”
  1. Hoe het jy op die kunstenaars besluit?
  • “Dit was maklik vir my om te besluit wie die geleentheid gaan kry om deel van die projek te wees. Heel eerste, die ongelooflike kitaarmeesters Allou April en Cameron Ward om die Jonathan Butler-kitaarkatalogus deur te werk, want dr. Butler is aanhangers van albei van hulle. Die res is uiters talentvolle kunstenaars, wat nie altyd die geleentheid kry om op ’n groot verhoog op te tree nie.”
  1. Gaan JB self ook optree?
  • Keegan antwoord met ’n geheimsinnige glimlag: “Wel, die mense van Kaapstad sal maar moet uitkom en kom ervaar watse ongelooflike geleentheid dit gaan wees.”
  • Teen Vrydag is 1 333 kaartjies reeds verkoop en was slegs 166 kaartjies nog beskikbaar.
  • Hou Mondstuk Media se Facebook-blad dop vir ’n heerlike verrassing volgende week…
  1. Watter liedjies gaan deur sy familie opgevoer word?
  • Weer daai glimlag: “Laat ek net sê as Kaapstad dink Jonathan Butler is talentvol, moet hulle wag om sy sibbe te sien. God het eerlikwaar die Butlers met ongelooflike spesiale musikale talent geseën, waarmee hulle ons down memory lane gaan neem met liedjies waarmee hulle opgegroei het.”

Kaartjies vir die konsert is beskikbaar by www.webtickets.co.za, PnP-winkels en KunsteKaap se kaartjiekantoor.