‘Politieke leeglopers’ moet ‘huis toe kom’ en nóg mense ‘gaan PA verlaat’: Tertius Simmers (DA), Marius Fransman (PMC) en Neville Delport (ANC) se reaksie op die stigting van die PPM

Tertius Simmers (op foto) is die DA se Wes-Kaapse leier. Hy en die leier van die People’s Movement for Change, Marius Fransman, asook die ANC se Wes-Kaapse sekretaris, Neville Delport, het uiteenlopende reaksies op die stigting van die People’s Prosperity Movement.

Wat leer ons daaruit? Soos wat die plaaslike verkiesings van 2026 nader kom, sal daar waarskynlik nog partye tot stand kom om die koppe van Wes-Kaapse kiesers te probeer swaai.

Mondstuk Media het drie partye in die Wes-Kaap se kommentaar gevra oor Chad Louw en Curt van Heerden se nuwe politieke projek. Die partye is as volg gekies: die DA omdat hulle die provinsie regeer; die ANC as amptelike opposisie; en die People’s Movement for Change oor die naam wat mnr. Louw en past. Van Heerden vir hul party gekies het – People’s Prosperity Movement- baie soos die PMC s’n klink.

Provinsiale DA-leier mnr. Tertius Simmers:

  • “Ons posisie is duidelik: elke nuwe party moet beoordeel word volgens sy vermoë om werklik by te dra tot beter regering en dienslewering. Ongelukkig sien ons in die geskiedenis van sulke politieke verskuiwings meestal ’n patroon van persone wat hul lojaliteit en politieke kleur soos baadjies verwissel – eerder vir eie posisionering as vir die breër belang van gemeenskappe.”
  • “Die DA bly gefokus op ’n bewese rekord van goeie regering, skoon administrasie, en betroubare dienslewering. Waar ons regeer, wys die resultate dat mense se lewens verbeter. In teenstelling daarmee het partye wat deur persoonlike ambisie of korttermynbelange gedryf word, nog nie bewys dat hulle die stabiliteit en geloofwaardigheid kan bied wat kiesers verdien nie.”
  • “Ons sal dus voortgaan om ons energie te plaas op die bou van sterk, stabiele en beginselvaste regerings, eerder as op die persoonlike projekte van politieke leeglopers.”

PMC-leier Marius Fransman:

  • “Chad is ’n jongman met potensiaal, wat ek ken uit die ANC. Ek dink wel hy maak taktiese foute om elke paar maande of elke jaar na ’n verskillende party te gaan en my oproep is dat Chad liewer met sy span ingelyf raak by die PMC, wat eksponensieel groei.”
  • Louw moet deel wees van ’n groter struktuur, glo mnr. Fransman: “Ek het gekyk na hulle raamwerk en dis in lyn met ons een; en die naam is hopeloos te naby [aan die PMC s’n] en ek dink dit is doelbewus so gedoen.”
  • “Hy moet die Rubicon oorsteek: hy moet dit waarmee hy besig is, laat staan en by die PMC aansluit.”

Wes-Kaapse ANC-sekretaris Neville Delport:

  • “Geensins is gemeenskappe gewaarborg van dienslewering as so baie partye oor een been baklei nie – en dit is die sogenaamde ‘Coloured vote’,” sê mnr. Delport. “Dit verdeel ons meer en gemeenskappe betaal die prys.”
  • Hy glo die idee van die PPM “het ontstaan as gevolg van ongelukkigheid in die PA, so ons verwag nog mense gaan die PA verlaat”.
  • “Ons hoop net dat mense wat so spring, hulle nie gaan verongeluk omdat mense nie meer hul geloofwaardigheid vertrou nie.”
  • Kiesers moet waaksaam wees: “Die ANC hoop en vertrou dat mense se oë oopgaan en nie partye ondersteun wat veldtogte loods gebaseer op kleur nie en dat mense hulle oë fokus op dinge wat ons gemeenskappe regtig benadeel, soos werkloosheid, crime en om die pleidooi van plaaswerkers en vissermanne in die Wes Kaap eerste te stel.”

Mondstuk Media nooi lesers om ook hulle menings oor die nuwe party te deel: E-pos na info@mondstuk.co.za of WhatsApp na 073 388 3672. Jy kan ook jou kommentaar op ons Facebook-blad plaas.