’n Voormalige burgemeester en ’n gewilde pastoor stig ’n politieke party om aan plaaslike verkiesings deel te neem. Hulle belowe ‘voorspoed’ aan hul ondersteuners. Wie gaan hulle glo?

Chad Louw van Dysselsdorp en Curt van Heerden van Johannesburg bevind hulself provinsies uit mekaar, maar hulle het nou dié afstand vernou deur saam ’n politieke party te stig. Die People’s Prosperity Movement (PPM) is vir almal, sê mnr. Louw, nie net vir bruin mense nie.

Wat moet ’n mens van hulle weet? Mnr. Louw, wat voorheen burgemeester op Oudtshoorn was, kom uit die TV- en filmbedryf. Past. Van Heerden, ’n sosiale media-persoonlikheid, werk spesifiek met dwelmverslaafdes. Welkom by “The Chad & Curt show”.

Die vermoede dat iets op pad was, het verlede naweek op sosiale media ontstaan toe mnr. Louw op Facebook aangekondig het dat hy met onmiddellike effek uit die Patriotic Alliance bedank. Hy het op 24, terwyl hy nog by die ANC was, die land se jongste burgemeester ooit ná 2021 se plaaslike verkiesings geword. ’n Mosie van wantroue – die gevolg van koalisie-woelinge – het hom egter ná minder as ’n jaar die pos gekos.

  • Sedertdien het mnr. Louw sy eie stigting begin en het hy ook as die ANC se leier in die Suid-Kaap gedien voordat hy in Februarie 2024 deur die Patriotic Alliance-leier Gayton Mckenzie oorreed is om by die PA aan te sluit.
  • Dit het hom basies van die politieke toneel laat verdwyn, terwyl hy vir PA-jeugsake in sy streek verantwoordelik was. Maar, soos wat Mondstuk Media verstaan, sou die “outoritêre” aard van Mckenzie se leierskap vir hom een te veel raak.
  • Mckenzie het onlangs deur informante snuf in die neus gekry dat mnr. Louw wegbreek-planne het.
  • Die tafel was gedek vir wat ons nou weet: dat mnr. Louw en past. Van Heerden die finansiële ondersteuning van ’n “politieke weldoener” geniet wat hulle die selfvertroue gegee het om die People’s Prosperity Movement vir #LGE2026 te begin gereed kry.

Ons korrespondent, Aldo Carelse, het aan albei vrae gestuur. Hoewel past. Van Heerden belowe het dat hy sal antwoord, het Carelse tot gisteraand niks weer van hom gehoor nie. Mnr. Louw het wel sy woord gehou, soos Carelse hier berig:

Waarom ’n nuwe party? Gemeenskapsprojekte, soos dit waarby mnr. Louw en past. Van Heerden betrokke is, onder meer ondersteuning vir ’n plaaslike ECD (of vroeëre kinderontwikkeling-sentrum) kan jy net tot op ’n punt voer, sê mnr. Louw.

  • “Wat ons in die gemeenskap doen is belangrik, maar daar is ’n grens aan wat ons kan bereik sonder om by die besluitnemingstafel te sit,” het hy verduidelik.
  • Die oorgang na ’n politieke party is daarop gemilk “om beleid en wetgewing, wat gemeenskappe direk raak, te kan beïnvloed”.
  • Louw sê oor die PPM se visie: “Ons fokus op issues. Ons moet daarom binne die regering invloed het. Ons moet in munisipaliteite kan sit, selfs in die parlement verteenwoordiging het, om dinge vir ons mense te kan verander.”

Registrasie: Mnr. Louw was verlede week druk besig om die PPM se registrasie by die Verkiesingskommissie (OVK) afgehandel te kry. Die naam van die beweging weerspieël sy missie, sê hy: “demokratiese deelname en voorspoed vir almal”. Hy maak ’n punt daarvan om te benadruk dat dit nie ’n party vir een ras is nie. “Ons glo in die verteenwoordiging van alle rasse omdat almal deur ongelykheid geraak word,” sê hy. ’n Skerp veroordeling volg van waar hy meen sake in die land staan: “In Suid-Afrika vandag bestaan daar amper ’n vorm van omgekeerde apartheid, waar sekere groepe van gelyke geleenthede uitgesluit word.”

Die lewe in die PA word op ’n manier ontbloot wanneer mnr. Louw die inspirasie agter die PPM se naam beskryf: “Ons glo dat demokratiese beginsels en waardes is die regte manier om mense te behandel. Mense is veronderstel om ’n stem te hê; hulle moet vrylik kan deelneem [aan aktiwiteite en gesprekke],” sê hy in sy antwoorde aan Carelse. “Mense se opinies en standpunte tel in ons beweging. Ons glo nie dat ons al die kennis en vaardighede het nie. Dis hoekom ons die deure open vir mense om byeen te kom en hul idees te deel om die nodige organisatoriese veranderings teweeg te bring, selfs grondwetlik en institusioneel; asook die verkiesing van leierskap – dit moet demokraties geskied.”

En van waar dié “political bromance” met past. Van Heerden? O, nee, hulle kom al ’n lang pad aan, as vriende en deur hul onderskeie gemeenskapsprojekte, word Carelse meegedeel. Die moontlikheid van ’n party stig, het uiteindelik deel van hul gesprekke geraak – en nou is past. Van Heerden die leier en mnr. Louw die sekretaris van die land se jongste politieke beweging.

Die #LGE2026 plan: “Ons is nog besig om te bepaal waar ons gaan kompeteer,” sê mnr. Louw. “Ons sal fokus op gebiede waar ons ’n werklike kans het om ’n verskil te maak.” PPM-kandidate vir die plaaslike verkiesings sal deur ’n meriete-gebaseerde proses gekies word. Leierskapopleiding sal ook ingestel word – en slegs diegene wat slaag, sal as kandidate aangewys word. Hy sê streng: “Ons wil mense hê wat die stelsels verstaan en voorbereid is vir leierskap.”

Uitgesproke soos wat hy kan wees, trap Chad Louw versigtig wanneer hy oor sy vorige politieke tuiste (die PA) uitgevra word.

“Ek het besef jy kan nie net een groep verteenwoordig nie,” sê hy. “Wit mense sukkel, swart mense sukkel. Dit is almal. Daarom bou ons nou ’n beweging wat alle Suid-Afrikaners verteenwoordig.”

  • Die vraag was eintlik: Wat het hom in die eerste plek na die PA aangetrek? ’n Vraag wat daarby aansluit, was of hy Gayton McKenzie vertrou: “My vertroue in die politiek is groter as een naam. Wat vir my saak maak, is of stelsels die burgery bemagtig en dit is presies waaraan ek deur die PPM werk.”
  • Dit was die tweede weergawe van sy antwoord op die vraag; aanvanklik het hy oor McKenzie geantwoord asof hy kaalvoet oor warm kole loop: “Ek het nog nooit gesê ek vertrou of wantrou hom nie. Wat ek wel weet, is dat ons [by PPM] ons eie pad bou.”

Die partypolitiek in Suid-Afrika, behoort mnr. Louw en past. Van Heerden goed te weet, is ’n pad vol slaggate.