Sy wou ’n dokter, juffrou of bemarker word. Toe wys God haar hoe dit alles kan saamkom in haar rol as ’n grafiese ontwerper, soos sout van die aarde
Jy sal die naam Chanté Priga nie sommer aan die groot klok sien hang nie, want sy verkies dat haar besigheid se naam – 7SALT – in die kollig moet wees.
Waarom ontmoet ons haar in hierdie uitgawe? Omdat dit Mondstuk Media se vyfde uitgawe is, het ons haar mooi gevra om gesig te wys, want as ons grafiese kunstenaar is sy ’n kardinale deel van die span.
Mondstuk Media se inhoudspan was verbaas toe dié Grabouwer vertel dat sy nooit regtig gekies het om kreatief te wees of om in hierdie rigting te studeer nie. “Ek glo dit het my gekies,” sê sy, ’n diep gelowige mens. “God het van die begin af geweet ek sou nie oorleef agter Excel-sigblaaie nie.”
- Maar sy was nog altyd ’n visuele mens, moet jy weet, wat selfs prentjies geteken het om teorie-swaar vakke makliker te leer en te memoriseer. “Dis hoe dinge vir my sin gemaak het.”
“Ek wou altyd óf ’n dokter, óf ’n juffrou, óf in bemarking werk, want dit was die standaarddrome wat almal gehad het. Maar toe ek myself beter leer ken, het ek besef grafiese ontwerp bring eintlik al drie daardie passies bymekaar. As ontwerper is jy soos ’n dokter, diagnoseer jy ’n probleem en skep ’n oplossing wat genesend of helpend is,” sê sy. “Jy’s ook soos ’n juffrou, jy verduidelik, wys en leer mense deur visuele stories. En, soos in bemarking, kry jy mense se aandag en help hulle om ’n boodskap te verstaan en te onthou.”
- Grafiese ontwerp het dus op die ou einde tog vir haar sin gemaak, want dit ís wie sy glo sy is: ’n kombinasie van kreatiwiteit, probleemoplossing en stories vertel. “Dit was die natuurlike pad, ’n verlengstuk van wie ek nog altyd was,” sê sy.
Die eerste van vyf vrae: Beskryf jou ontwerp-styl. “My ontwerpstyl is modern en skoon, maar altyd met die mens in gedagte. Ek glo ontwerp moet nie net mooi lyk nie, dit moet ’n ervaring skep wat maklik verstaanbaar en betekenisvol is. Ek hou van eenvoud wat ’n storie vertel en mense raak.”
- Dit is wat haar en Mondstuk se benadering ’n goeie kombinasie maak, as ons dit self mag sê.
- “My werk is esteties, maar ook prakties,” verduidelik me. Priga haar styl verder. “Ek soek altyd die balans tussen funksionaliteit en kreatiwiteit, sodat mense regtig iets uit die ontwerp kan kry.”
- Hier gee sy ons ’n idee van hoe haar werk lyk:

Wat het jou gemotiveer om jou eie besigheid te begin? “Ek het eintlik nie regtig besluit om dit te doen nie, dit was altyd ’n droom, maar ek glo Jesus het my geroep om hierdie pad te volg. Eendag tydens my Bybelstudie het dit so duidelik geword dat dit die rigting was wat ek moes neem.”
- Die risiko: “Om ’n vaste salaris te los was nie ’n maklike keuse gewees nie, maar wanneer jy geroep word om iets te doen, moet jy jou twyfel los en luister. Ek se altyd: ‘If it’s God’s will, it is God’s bill’.”
- ’n Realiteitsbesef: “Wat my egter regtig gemotiveer het, was dat ek moeg was om te sien hoe ander voordeel trek uit my talente. Van kleins af het ek geweet ek wou iets van my eie bou, iets waar ek my kreatiwiteit, passie en visie kan gebruik om waarde te skep en uiteindelik iets te hê wat regtig myne is.”
Waarom die naam 7SALT? “Die naam 7SALT is vir my ’n kombinasie van geloof en simboliek. Die nommer 7 staan in die Bybel vir volmaaktheid en voltooiing, en ‘salt’ verwys na die idee om die sout van die aarde te wees, om waarde, smaak en betekenis by te dra. Saam verteenwoordig dit my visie om ’n kreatiewe besigheid te hê, wat nie net mooi werk lewer nie, maar ook impak maak en iets eg, betekenisvol, toevoeg tot die wêreld rondom my.”
- Ook die volgende, wat die opskrif by haar naam op die voorblad verduidelik: “Om altyd te strewe na volmaaktheid en om vir ander en my kliënte soos sout van die aarde te wees.”
Maak jy goeie geld – en hoe beskryf jy jou verhouding met geld? “Ek maak beslis geld, maar ek is nog nie waar ek wil wees nie. Ek sien dit eerder as ’n belegging in myself en my toekoms. Elke projek en elke kliënt help my om my besigheid te bou, sterker te word en waarde te skep. My fokus lê op groei, kwaliteit werk en langtermyn volhoubaarheid.”
- “My verhouding met geld gaan oor balans,” sê sy. “Ek wil goed leef en waarde skep, maar terselfdertyd slim bestuur en volhoubaar bou sodat ek nie net vandag oorleef nie, maar ook die toekoms kan vorm.”
Wat is die groot droom? “My groot droom is om 7SALT as ’n sterk, erkende kreatiewe handelsmerk te vestig wat nie net mooi ontwerp lewer nie, maar ook impak maak en mense regtig raak. Ek wil projekte doen wat betekenisvol is, my geloof en waardes weerspieël, en ’n nalatenskap bou waaroor ek trots kan wees.”
- Ons bespeur in haar verwysing na gemeenskap ’n verdere raakpunt met wat Mondstuk Media probeer wees: “Ek wil ook my gemeenskap help om hul kreatiwiteit te ontdek en te ontwikkel. Daar is soveel mense in my gemeenskap wat ek glo die volgende groot kunstenaars kan wees, maar wat dit nie besef nie.”
- Haar besigheid (7SALT) was nog nooit net oor haarself gegaan nie, sê sy. “Dit gaan oor wat God deur my kan doen vir ander. Alles wat ek met hierdie besigheid doen, is ’n seën van God, want aan die kern van alles is Hy die ware CEO.”
Besoek www.7salt.com om met Chanté kontak te maak en meer oor haar besigheid te leer.
