Lt.kol. Charl Kinnear is op 18 September 2020 in ’n sluipmoord-aanval doodgeskiet. Hoekom voel sy vrou sy het hom gefaal?
Nicolette Kinnear het haar man, topspeurder Charl, ná sy dood belowe dat sy nie gaan rus totdat almal wat ’n aandeel in die sluipmoord op hom gehad het, tot verantwoording geroep is nie.
Waarom dit nou ophaal? Dit was die afgelope Donderdag presies vyf jaar nadat sy haar “manlief” verloor het – en niemand het nog vir die daad geboet nie.
“Dit gaan maar rof,” sê sy oor hoe dit met haarself en haar en Charl se twee seuns gaan op hul tog om geregtigheid vir hom te laat geskied. “Gister [Donderdag] was dit presies vyf jaar sedert die sluipmoord en vir een of ander rede is hierdie jaar vir my die moeilikste jaar.”
- Sy verduidelik: “Ek dink dit het my getref dat ek het ’n belofte gemaak aan my man dat ek nooit sal opgee totdat ons nie almal wat ’n aandeel gehad het, op een of ander manier, in sy dood, verantwoordelik kan hou nie.”
Donderdag, 18 September 2025 het daarom vir mev. Kinnear gevoel asof sy haar man gefaal het, sê sy, “want hier sit ek nou vyf jaar later en ek kan maar vir hom dieselfde antwoorde gee as wat ek die dag ná sy dood kon gee, wat eintlik maar niks is nie”.
- Dit is nou maar hoedat “die stelsel” dit gehanteer het, sê sy met verwysing na onder meer die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) se verslag, waaraan die polisiebestuur “nog niks gedoen het nie”.
- Nege lede is veronderstel om aangekla te word, aldus die Opod-verslag, maar die polisie sleep voete hiermee; en ook die hofsaak van die verdagtes in die Kinnear-moordsaak, onder wie die onderwêreldse karakter Nafiz Modack beweeg teen ’n slakkepas.
- “Ons weet ook dat Opod in hulle verslag sê dat kol. Kinnear se dood … sluipmoord … kon verhoed gewees het as die lede wat geïmpliseer word in die verslag net hulle werk gedoen het, soos aan hulle gemandaat is deur die Suid-Afrikaanse konstitusie,” sê sy.
’n Ernstige aanklag teen die polisie volg: “Ons sit nou met die dilemma – en ek sê dit met alle respek vir ons ander lede, maar: Charl was a dying breed.” Haar stelling oor haar man wat deel was van ’n spesie wat aan die uitsterf is, word op dié wyse deur haar belig: “Ons het ná Charl se dood soveel vaardighede en kundige speurders verloor, want hulle het nie kans gesien om deur te gaan wat ek en my kinders deurgaan nie. Die feit dat jou werkgewer jou geen hulp gee nie, vir jou gesin geen hulp gee nie of aanbied nie.”
Mev. Kinnear sien in die uitlatings van die KwaZulu-Natalse polisiehoof, lt.genl. Nhlanhla Mkwanazi, ooreenkomste met die soort inligting wat haar man in ’n 59-bladsy verslag ingesluit het. ’n Belangrike aspek van die verslag was die onthullings oor senior polisielede se beweerde betrokkenheid by onderwêreldse karakters, soos Modack; en die kwessie van onwettige vuurwapens wat spesifiek in bendemisdrywe gebruik word.
- “Ons mense en ons kinders sterf, kan ons nou regtig sê, by die dosyne, daagliks [in bendegeweld],” sê sy, “maar ons provinsiale kommissaris kan sê: ‘We’ve got crime under control’. Hy moet tog asseblief vir my kom wys watse ‘control’.”
- Mev. Kinnear betreur die feit dat geen ag skynbaar deur die polisie se bestuur op die inhoud van haar man se verslag geslaan is nie. Haar hoop is dat Mkwanazi se onthullings beter gehanteer sal word.
- “En ek staan driehonderd persent agter daai man en my gebede is dat die Here hom sal beskerm, want dat hy die moed het om te doen wat hy doen … is presies wat my man ook gedoen het.”
Die Madlanga-kommissie van ondersoek na die bewerings wat Mkwanazi op 6 Julie vanjaar by ’n opspraakwekkende mediakonferensie gemaak het, het Woensdag – ’n dag voor die herdenking van die Kinnear-moord – met hul openbare verhore begin. Mkwanazi was die eerste getuie.
- Mev. Kinnear sê: “Charl, het ek al telkemale gesê – en ek sê dit nog steeds met alle, alle nederigheid, want daar is talle ander hardwerkende polisielede daar buite en ons verloor daai mense, maar Charl het ’n besluit geneem dat dit gaan nie net oor hom nie of dit gaan nie net oor ons as gesin nie.”
- Dit het vir haar man gegaan oor die eed wat hy afgelê het om mede-Suid-Afrikaners te beskerm – “en vir dit het hy sy lewe verloor, want hy was nie bereid om anderkant toe te kyk, weg van die verkeerde dinge af nie”.
- Haar hoop is om eendag vir Mkwanazi te bedank dat hy, soos haar man, getrou aan sy eed gebly het.
Oor die belofte wat sy aan haar man gemaak het, benadruk mev. Kinnear: “Ek sal nie ophou nie totdat almal wat [vir sy dood] verantwoordelik was nie aan die pen sal ry nie. Wat ek kan sê is dat ek nie van plan is om my woord aan my man te verbreek nie; so ek sal aanhou baklei, aanhou vrae vra, totdat ons by die kruks of die wortel van die kwaad kom.”
