Dié skrywer moes oorsee ’n uitgewer vir sy boek oor bofbal soek. Nou maak invoertariewe dit selfs vir hóm te duur.

Historikus dr. Hendrik Snyders, boorling van Velddrif, tans verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Krygskunde-fakulteit op Saldanha, het die geskiedenis van bofbal in Suid-Afrika ter boek gestel.

Waarom maak dit saak? Dié skryfprojek, “Rough Diamonds – A History of South African Baseball”, het hom byna vyftien jaar geneem … en nou lê en wag sy outeurseksemplare by doeane omdat invoertariewe so taai is.

Hendrik Snyders het sy stempel as ’n rugbyhistorikus afgedruk, maar hy weier dat hy in ’n boks gesit word: “Ek is in die eerste plek ’n historikus in die breedste sin van die woord, eerder as bloot ’n rugbyhistorikus.” Waarom hy gesteld is daarop, kom jy gou agter, is vanweë sy missie “om ’n omvattende begrip van Suid Afrika en haar verlede te ontwikkel”.

  • “Ek het gedurende my navorsingsloopbaan [al] na ’n verskeidenheid sportsoorte gekyk – onder meer rugby vyftienmankode, sewes- én rugbyliga,” sê hy, “maar ook tennis, hokkie, gholf, rofstoei, lacrosse, yshokkie, netbal, ensovoorts.”
  • Onder sy historiese vergrootglas het hy ook al diere, soos seevoëls*, organisasies en die Weermag gebruik om menseverhoudings en die verhouding tussen staat en burgers te ondersoek.
  • En hier is een van sy nuutste projekte: “Tans doen ek ook navorsing oor die kaartspel klawerjas en probeer om die plek daarvan en die betekenis wat veral bruin mense daaraan gee, te verstaan.”
  • Sport bly die kern van sy navorsingsbelangstelling, spesifiek die soort “wat in ons gemeenskappe gespeel word, maar nooit op kommersiële televisie uitgesaai word nie”. Dalk omdat die geskiedenis daarvan onbekend aan die uitsaaier is.

Mondstuk Media het dr. Snyders gevra wat die groot waarheid oor bofbal se geskiedenis in ons land is, wat lesers uit Rough Diamonds sal leer? Hy antwoord: “Dat al Suid Afrika se gemeenskappe, ongeag ras of kleur, ’n ryke bofbal-geskiedenis het – een wat verdien om gedokumenteer, gelees en bevorder te word, sonder dat ons vir die res van die wêreld hoef terug te staan.”

Navorsing vir sy boek het hom – op eie koste – na Kaapstad, Pretoria, Kimberley en Bloemfontein geneem. Dit is aangevul uit ander mense se persoonlike argiewe en wye korrespondensie met oorsese historici, terwyl hy sosiale media ook as ’n nuttige bron van verwysing gevind het.

Publikasie is egter deels vertraag, sê hy, deur die hoë koste van fotografiese materiaal wat in die besit van instellings soos die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika is. “Ten spyte van sy nasionale mandaat om inligting aan Suid Afrikaners te verskaf, vra hierdie instelling byvoorbeeld R3 000 per foto vir plaaslike publikasie en rondom R5 000 vir ’n boek gemik op die oorsese mark.” Hulp het van joernaliste soos Mark Ward gekom, vertel hy.

’n Persoonlike pleidooi: “Hierdie dilemma is beslis een wat deur die Minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie ondersoek behoort te word.”

  • En toe boonop die stryd om plaaslik ’n uitgewer te vind, wat hom genoop het om oorsee te gaan aanklop: “Die meeste (winsgedrewe) plaaslike uitgewers het my reguit laat verstaan dat sportboeke (en veral diepte geskiedenisnavorsing), nie verkoop nie. Behalwe natuurlik as die onderwerp met skandale en sensasie te doen het.”
  • Ná al sy moeite, ’n volgende uitdaging – en dit is dat Mondstuk Media sien dat as jy Rough Diamonds op Amazon.com van oorsee af wil bestel, kan dit jou ’n onmoontlike R1 474,37 kos – met afslag van 13% nogal ingesluit. (Toe hierdie artikel geskryf word, was die prys al R1 700 as jy dit van Amazon in Suid-Afrika bestel.) Dis darem ROF! sê ons hom toe.
  • “Die prys is die resultaat van al die faktore hierbo genoem,” verduidelik hy. En (een van dr. Snyders se gunsteling-woorde) “verdermeer”: “Ekself sit tans met die probleem dat my 10 komplimentêre kopieë vanaf die uitgewer by doeane vassit aangesien ek eers R2 300 moet vind vir invoerbelasting. Gegewe hierdie situasie stem dit my pessimisties oor die toekoms van ons boekbedryf en leeskultuur.”

Waarom is dit almal se probleem? Sonder die navorsing wat iemand soos dr. Snyders doen en in boekvorm aanbied, “sal die nasie voortgaan om ontneem te word van die geleentheid om oor sy eie geskiedenis te lees”.

(*) Die storie van die seevoëls is ’n interessante een. Eintlik was dr. Snyders se navorsing nie oor voëls self nie, maar oor “ghwanopreneurs” wat in die 17de eeu in die voëls se mis (as bemesting) handel gedryf het. Só het hy sy Ph.D behaal.