’n Hartlike gesprek oor die kuns van onderhoudvoering tussen ‘Kwêla’ se Hannes van Wyk en ‘Mnr. KLOP!’
In ons ‘Geld & Welvaart’-kategorie gooi ons die net wyd, want om geld te besit, is goed, maar om volgehoue welvaart te skep, is beter. Hiervoor, glo dit of nie, het jy ook die kuns van onderhoudvoering nodig.
Waarom moet jy dit weet? Omdat die onderhoud-tegnieke, wat Hannes van Wyk hier deel, nie beperk is tot media-onderhoude nie. Elke gesprek, werksaansoek of transaksie, kan baat daarby.
Die doel van die gesprek was om by Van Wyk ’n paar wenke te kry om op die Youtube-kanaal “Wyngaard & Kie.” met kykers te deel. Uit Van Wyk se mond dan, enkele tegnieke as jy hoop om self ’n onderhoudvoerder op televisie te raak. Of om jou eie Youtube-kanaal of podcast te begin.
Waarom ons dit hier deel, is omdat ons by Mondstuk Media glo dat jy die kuns van onderhoudvoering in ’n verskeidenheid situasies kan inspan, soos in gesprekke met vreemdelinge by ’n netwerk-geleentheid, wanneer jy jouself in ’n werksonderhoud bevind en ook wanneer jy besig is om oor ’n saketransaksie te onderhandel. Die tegnieke is van waarde, ongeag aan watter kant van die tafel jy jouself bevind.
Wenk 1: “Ek dink die heel belangrikste is: Wees jouself.”
- Van Wyk, wat ook ’n ervare akteur is, sê die verskil tussen toneelspel en onderhoudvoering, is dat jy in jou rol as akteur ’n karakter vertolk of ’n ander persoonlikheid moet aanneem. Maar met onderhoudvoering hoef jy nie. Jy moet net jouself wees.
Wenk 2: “Jy moet navorsing doen.”
- “Jy moet hard werk,” sê hy. “Jy moet als van daai persoon of die onderwerp weet.” Partykeer vra mense hom of hy ál die boeke lees van die skrywers met wie hy onderhoude doen. “Natuurlik moet jy die boeke lees,” sê hy.
- In ander situasies sou dit beteken dat jy navorsing doen oor die persoon met wie jy ’n sake-afspraak het; of dat jy die maatskappy waar jy vir werk aansoek doen, se jaarverslag lees of webwerf besoek.
- Van Wyk benadruk: “Natuurlik moet jy presies weet wat aangaan.”
Wenk 3: “Luister.”
- Die onderhoudvoerder kan goed voorbereid met allerlei vrae opdaag, sê Van Wyk, maar dit bly belangrik om na die persoon met wie die onderhoud gevoer word, te luister. Dit lei tot belangrike opvolg-vrae, wat groot waarde tot die gesprek kan voeg.
- Soms kom jy dalk nie eens by jou oorspronklike vrae uit nie, sê hy, maar as jy luister maak dit ander moontlikhede vir die onderhoud of die gesprek oop.
- Nogmaals: “Voorbereiding is die heel belangrikste vir my.”
En dan hierdie byvoeging deur “Mnr. KLOP!”, wat spruit uit sy ervaring in die onderhoud wat Van Wyk met hom gevoer het: “Wat Hannes ook baie goed doen, is dat hy jou wil gerusstel, hy wil hê jy moet gemaklik wees – ook met die vrae; en hy stap ’n pad saam met jou (deur jou emosies gedurende die onderhoud).”
Nou dít wil gedoen wees.
Geniet die video:
