Oom Alspraat onthou sy eie dae as ’n armsalige rugbyspeler en wonder oor die groot geld vir vandag se sterre

Dié oom van julle het nie ’n lekker naweek gehad nie. Die oom het nooit ’n lekker naweek wanneer hy ’n sportteleurstelling gehad het nie. Nou voordat julle dink dis dalk omdat die oom nog die Leeus ondersteun – glad nie, hoor. Die Griekwas het met rede geseëvier in Saterdag se Curriebeker-eindstryd teen die manne van Johannesburg.

Net om sake in perspektief te stel: Die oom het sy Leeu-ondersteunerskap al in 2002 laat vaar en toe aansoek gedoen vir ’n vertrekkaart om ’n Stormer-ondersteuner te word. So, die issue is nie dat die Leeus verloor het of dat Griekwas as kampioene gekroon is nie; die issue is dat Boland nie in die eindstryd gespeel het nie. Ek weet, ek weet, dis nou al laasnaweek se dinge dat ons teen die Leeus in die halfeindsttryd verloor het, maar soos ek sê vat dit langer vir party van ons om van sulke terugslae te herstel.

“Get over it,” sou die oorle’ vrou ook seker gesê het. Maar sy is nie meer hier nie, so ek sal my tyd vat om oor dit te kom.

Om te dink ons outjies het so lekker gespeel deur die hele toernooi en toe word ons heeltemal oorskadu op Ellispark. Jong, lat ek amper daai paar ou toks van my wou aantrek, behalwe dat ek nie weet waar die oorle’ vrou dit weggebêre het nie.

“Okei, ek joke maar net, man,” soos die kleinkind op Caledon sal sê. My dae het ek gehad, al het ek omtrent vir elke rugbyspan hier op ons sendingdorp en sommer vir langsaan in Boesmanskloof en Greyton ook uitgedraf wanneer hulle manne kort gekom het. Dis wat ons daai tyd gedoen het.

Dit was ’n ander tyd. Niks TV’s en sport op TV nie. Net die radio as die Bokke speel. Ons moes by die stadion uitkom as WP gespeel het – en ons het gehou daarvan om daar by Nuweland aan te kom, suid-pawiljoen toe, want ons moes ons plek ook langs die rugbyveld ken. Ag, dit help nie om nou nog daaroor te worry nie. Ons onthou die goeie oomblikke van die slegte dae.

Natuurlik was dit ook die dae dat ons rugby gespeel het sonder dat enigiemand eens gedroom het daarvan dat jy ooit betaal sal word, soos vandag se spelers. Ons moes vir alles self betaal. Ons hoef darem nie ons eie water veld toe te gebring het nie. Dit was verniet; lekker vars water uit die stroompie. Ons geheime wapen. Maar nou se dae kan mens se oë nie groot genoeg rek oor die soort geld wat die manne betaal word nie – en hulle pay daai pay al het hulle strooi op die veld aangevang, sê ek jou!

Soos julle oom se gewoonte is, kyk hy ook wanneer hy die rugby kyk, watse advertensies speel voor die tyd, rustyd en nadat die man of the match aangewys is. Dis wat ek laas Saterdag kon doen toe die Springbokke daar onder in Nieu-Seeland gespeel het asof Rassie gesê het enige ou wat flop, moet sy eie vliegtuigkaartjie terug huis toe betaal. Jissou – en daai seuns wat in die Boland en Strand se kant hulle rugby geleer het – Damian Willemse, Grant Williams, Canan Moodie, Kolbe van Kraaifontein en Manie van Humansdorp – o, liewe George, dit was asemrowend!

Wat my terugbring na die manne van die Boland: nou weet meer talentsoekers in die land wat nog oor is nadat al die unies seker gedink het hulle het al reeds die beste gevat. Huh-uh, nee, die Kavas stel net meer en meer voor; en kyk ook maar nou met die Sanlam Top 12 watse voetbôllers na vore tree. Of hand opsteek, soos hulle sê.

Maar waarheen julle oom nou eintlik op pad was met die storie van spelers se betaling, is iets wat ons ’n ander dag bietjie meer, bietjie dieper, oor moet praat. Dit is hoe besighede besluit (of is dit SA Rugby?) watter spelers in watter advertensies gebruik word. Ek meen maar, ons hou van die Spur, maar ons bank ook by FNB en ons vlieg ook met FlySafair. Maar soos ek sê, dis ’n gesprek vir ’n ander dag.

Nou weet ek ook wat eintlik my naweek hierdie naweek bederf het: Ons moes sonder die Bokke klaarkom. Maar ek sit nou al my goedjies reg vir die komende naweek se wedstryd om te sien of die manne wat die All Blacks geklop het, ons weer trots gaan maak.