‘Jy moet ’n karakter in jou lyf sit’: Lynette du Plessis laat haar merk as danser én akteur by Suidoosterfees

Dié professionele danser van George moes by die Suidoosterfees in twee “diep” verhoogstukke – Kirby van der Merwe se Eugene; en Kinderlê deur Lynthia Julius – haar lyf óók akteur hou.

Hoe het dit gegaan? Hoewel sy nog altyd dans eerste kies, hou sy nou baie meer van akteurspel se “minder beweeg, meer stilte”, sê sy.

4.05.2026 | KULTUUR: Lynette du Plessis het gesukkel met die dialek wat sy moes bemeester vir Kinderlê, gebaseer op die verhaal van die 32 Nama-kinders en -oppassers wat in 1867 by Steinkopf deur Boesmans vermoor is. Die dialek is ’n Namakwalandse een, terwyl sy van George kom – “én ek bgry”.

In dié verhoogstuk speel sy Lena, ’n kinderoppasser wat saam met die kinders en ander oppassers vermoor word. “Lena het soveel liefde, maar sy was al soveel keer weggestoot van mense af,” beskryf sy haar karakter op Mondstuk Media se versoek. Dié is die mense wat Lena sleg behandel het. “Die Boere-mense doen dit aan haar; die Boesmans doen dit aan haar. [En, ook, oom Jan wat haar ‘gevat het’ vóór sy hokmeisie geword het, wat in die inheemse mense se tradisie die oorgang is tussen kind wees en jong meisie word.] Maar alles vir haar is net van hierdie kinders [wat vermoor is].”

En wat van Eugene? “Ek weet nog nie wat om oor Eugene te sê nie omdat ek so baie karakters speel en almal wil net weet wie is ‘Eugene’? Maar van my kant, is like, ek kan nie sê wie ‘Eugene’ is nie, want ek speel so baie karakters vir hom. En ek voel my karakter – omdat ek begin met Bertolt Brecht, is soos like ek gee vir ‘Eugene’ ’n stem omdat hy so obsessed is met Bertolt Brecht [die Duitse dramaturg en digter]. En dis hoe ek part raak van sy journey. Dis die simplest way wat ek dit kan explain.”

Ná die nuwe ervaring met beide dans en toneel speel, wil ons by haar weet of sy nou dans of acting verkies? Die antwoord is ’n bietjie van altwee, “maar ek sal nog altyd eerste dans kies”.

  • Dit hang ook af, brei sy uit op haar antwoord, “want ek voel nie meer om vir ’n uur op die stage te dans om my storie te vertel nie”.
  • “Noudat ek in live art performance is, like ten to twenty minutes, waar jy minder beweging [het], maar daar’s meer stilte – and then you make the audience think more. So daar’s minder beweging, maar daar is meer goete wat die mense invat.”

‘Haar pad huis toe’: Om aan te sluit by die Suidoosterfees se 2026-tema, Tuiste, het Lynette en Miché van Wyk, haar medespeler in Kinderlê, ook ’n openbare vertoning gedoen met die titel “Haar pad huis toe”. Dit was om hul onderskeie reise te karteer tot hier waar hulle saam ’n verhoog deel en om erkenning te gee aan hul voorouers, ma’s, gemeenskap en tradisies wat hulle pad “oopgemaak het”.

  • “In George is daar altyd die ding dat as jy ’n kunstenaar wil word, dan moet jy Kaap toe kom, maar hoe kan ek my tuiste as kunstenaar vind in ’n plek wat ek nie aan behoort of van af kom nie? Toe moet ek teruggee. Wat is in George? Ons is like boomklimmers, ons is heuning-gaan-halers, ons is protea-kroondraers van George; Miché, weer, kan van die Oranjerivier praat, wat meer trane dra.”

’n Laaste vraag: Hoe help haar danservaring haar met haar toneelspel, waar sy verskillende rolle moet vertolk?

  • “Dit help,” sê sy, “want jy moet ’n karakter in jou lyf sit voor jy dit kan praat.”
Leave a Reply