’n Regter soek vir moeilikheid: Tronke sal leër word as die besit van dagga en dwelms nie ’n misdaad is nie, sê hy
Regter Edwin Cameron het gister by ’n Jakes Gerwel-gesprek by die Suidoosterfees gesê die besit van dagga en dwelms behoort nie kriminele oortredings te wees nie.
Hoe so? Dit sal help teen die oorbevolking in tronke, argumenteer hy en sy twee medeskrywers van die boek “Behind Prison Walls – Unlocking a Safer South Africa”.
4.05.2026 | NUUSMAKERS: Die voormalige regter in die Konstitusionele Hof, wat ook voorheen inspekterende regter van tronke was (oftewel hoof van JICS, die Judicial Inspectorate for Correctional Services), en sy twee medeskrywers, Rebecca Gore en Sohela Surajpal, het saam met dr. Pieter Groenewald, minister van korrektiewe dienste, aan die paneelgesprek deelgeneem.
- Die onderwerp was: “Agter tronkmure – straf ons of genees ons?”
- Die gespreksleier was Mondstuk Media se stigter en inhoudshoof, Heindrich Wyngaard.
Oorsprong van ’n ondier? Gedurende die gesprek is die hooftemas van die boek behandel, naamlik die geskiedenis van tronke, wat die doel daarvan in die verlede was en hoe dit aangepas moes word in die demokratiese era. Kortom gestel, moes dit van ’n “onmenslike” stelsel na ’n meer menswaardige en menseregte-gerigte stelsel omvorm word.
“Hotel-lewe agter tralies”? Dit gaan egter gepaard met (onbedoelde) gevolge, soos die uitbuiting van die stelsel deur gevangenes, wat dikwels met selfone, skootrekenaars, groot bedrae kontant en dwelms betrap word.
- Boonop wek bogenoemde, asook die gesonde etes wat bedien word, kommer by die publiek dat gevangenes in aanhouding leef asof hulle in hotelle tuisgaan.
- Regter Cameron, me. Gore en me. Surajpal stem egter nie hiermee saam nie.
- Ook dr. Groenewald het benadruk dat dit – ongeag wat in die nuus is – “glad nie ’n aangename ervaring is om opgesluit te wees nie”.

“Nommers”: Statistieke wat in die boek vervat is, dui aan dat daar tans 243 tronke in Suid-Afrika is. Die aantal aangehoudendes in 2025 was 164 885, die meeste in Afrika, waarvan 104 089 gevonnis was en 60 796 verhoorafwagtendes. Die oorbevolking wat dit tot gevolg het, hou ’n gevaar vir sowel die personeel van altesame sowat 40 000 as die gevangenes in, aldus regter Cameron, me. Gore en me. Surajpal.
- Min. Groenewald voeg by dat die syfers intussen met tussen 2 000 en 3 000 gestyg het; en dat verhoorafwagtendes of aangehoudendes, wat nie borgtog in die omgewing van R500 tot R1 000 kan bekostig nie, ’n kopseer is, wat die oorbevolking opstoot.
Dekriminaliseer dié dade: Dit is dikwels mense wat aan “onbenullige” oortredings skuldig bevind is, wat nie die borgtog kan betaal nie, argumenteer die skrywers van Behind Prison Walls. Hulle glo dit versterk hulle punt dat sommige oortredings, “wat nooit eens as misdade geag moes word nie”, gedekriminaliseer moet word.
- Die besit van dagga en dwelms is ’n voorbeeld daarvan, sê hulle.
- Hulle bedoel egter nie handeldryf in dagga en dwelms moet kwytgeskeld word van vervolging nie.
Regter Cameron sê dit beteken nie dat hulle ontken dat dwelmgebruikers soms ernstige en geweldadige misdade pleeg nie, maar dit is die uitsondering en nie die reël nie.
- Mondstuk Media wil graag van lesers hoor wat julle mening hieroor is? Plaas dit op ons Facebook-blad.
