Ons onderwysstelsel verwag dat arm skole met gegoedes moet meeding. Dit moet ophou, sê dié kenner
Die “klassieke fabriekswerker-fenomeen” het ons onderwysstelsel binnegedring, protesteer dr. Jerome Joorst, ontvanger van ’n navorsingstoekenning aan die Universiteit Stellenbosch.
Die gevolg daarvan? Dit is dat daar van opvoeders verwag word “om hul oë te sluit vir die kontekstuele omstandighede van hul leerders” en net gehoor te gee “aan die numeriese uitslae-agendas van hul werkgewers”.
4.05.2026 | STANDPUNTE: Die onderwyskundige dr. Jerome Joorst noem homself “werkloos” nadat hy einde verlede jaar met vervroegde pensioen die tuig as ’n dosent in onderwysbeleidstudies aan die Universiteit Stellenbosch neergelê het. Maar sy kop werk steeds oortyd oor hoe (mede)menslikheid en omgee teruggebring kan word in die land se onderwysstelsel, in regeringstrukture en in ons gemeenskappe.
- Ernstig verduidelik hy dié wens en droom: “Want tans vier kapitalisme hoogty en die negatiewe karaktertrekke en verwagtinge wat daarmee gepaard gaan (soos ongesonde kompetisie, die fokus op syfers/slaagsyfers ten koste van prosesse of omgee vir mense se sosiale aspekte).”
“Opvoeding is nou gereduseer tot syfers,” sê dr. Joorst, gebore op Caledon en woonagtig in Vredenburg. “Geld maak (maak nie saak hoe nie) word voorgehou as die enigste vorm van sukses,” las hy by. Die uiteinde daarvan? “Dit plaas druk op huishoudings – en, uiteindelik, kinders [in die klaskamers].”
Huis is waar die hart is: Tans tree dr. Joorst onder meer op as ’n konsultant vir oorsese universiteite in Duitsland en Japan oor die internasionalisering van vredesopvoeding (“peace education”). Maar dis tuis in Suid-Afrika, in die gemeenskappe wat iemand soos hy oplewer, waar hy meestal verkies om te fokus: “Oorkoepelend – en uitvloeiend uit die markgerigte stelsel waarna ek vroeër verwys het – skep die onderwysstelsel eerstens wenners en verloorders, en fokus nie meer op individuele prestasie of ontwikkeling nie.”
- Die implikasie hiervan vir opvoeders, is “dat daar van hulle ook verwag word om op hierdie deuntjie te dans, oftewel onderrig te gee”.
- Die implikasie vir skole: “Arm publieke skole moet nou die pas volg van die gegoede publieke skole wat op hulle beurt soos privaatskole opereer, ongeag die opvallende verskille tussen hulle.”
Maar die verantwoordelikheid vir sukses, sê dr. Joorst, “word (soos in goeie markgerigte smaak) afgewentel of gedesentraliseer na die individu – en nie die stelsel nie. Arm kinders en hul ouers, wie beswaarlik kan oorleef, wat nog te sê tyd het om aan hul kind onderwysondersteuning te kan gee, moet die verantwoordelikheid vat vir hul Wiskunde-probleme en dit net uitfigure, want daar is niemand wat kan help nie.”
Nagevors: Mondstuk Media het met dr. Joorst gesels na aanleiding van die toekenning wat hy van die US ontvang het vir die mees afgelaaide ope toegang-artikel, getiteld “Why an ethics of care is needed in higher education” (Journal of Transformation in Higher Education).
Advies vir ander: “Ek gee nie graag advies aan ander oor hoe hulle opvoeding kan laat werk vir hulle nie, want ek glo elke mens se trajek is uniek,” sê dr. Joorst wanneer ons hom vra vir raad aan ander. “Ek glo daar moet genoegsame selfmotivering vir die individu wees. Vandaar my geliefde beginsel: If your WHY is strong enough, the HOW will be less of a challenge.”
- Maar dit gesê, voeg hy dan tog by: “Opvoeding bly steeds een van die mees magtige wapens (in jou eie lewe, die van ander, jou omgewing en dalk die wêreld) om transformasie teweeg te bring.”
