Hulle het glo gesê hulle wil die toilet gebruik. Nou staar ’n Bolandse rugbyster en sy vriend VIER verkragtingsklagte in die gesig

Die borgtogaansoek vandag van ’n uitblinkerspeler van Roses United in Wellington, wat saam met sy vriend van verkragting aangekla word, is tot môre uitgestel omdat die staat nóg verkragtingsklagte bygevoeg het.

Hoekom maak dit saak? Elton Rochert, wat vir die verdediging optree, het die uitstel versoek omdat hy eers oomblikke voor die hofsitting oor die addisionele klagte ingelig is. Die aktivis Billy Claassen (op die foto) ondersteun die beweerde slagoffer.

4.05.2026 | NUUSMAKERS: Die beweerde slagoffer van die verkragting waarvan ’n talentvolle agterspeler van Roses United en sy vriend aangekla word, het in die week voor die gebeure haar 21ste verjaardag gevier.

  • Nou is sy só getraumatiseer dat die familie nie weet of sy nog ’n mondigwordingspartytjie sal wil hou nie, het haar antie vanoggend buite die Wellingtonse landdroshof gesê.
  • Die meisie is ’n onderwysstudent aan CPUT en is van ’n groot Suid-Kaapse dorp afkomstig.
  • “Sy is baie sag; sy is eintlik nog baie kinderlik,” beskryf haar antie haar.

Die Bolandse rugbypubliek het met geskok gereageer toe dit einde verlede week bekend geword het dat die twee mans weens verkragting in die Allandale-gevangenis aangehou word. Dit is ook nou bekend dat die Roses-speler glo binnekort op pad na Northam Rhinos in Limpopo was, blykbaar die rykste klub in die land, om sy loopbaan daar voort te sit.

  • Geen amptelike respons is nog op die gebeure van sy huidige rugbyklub of Boland Rugby as beheerliggaam ontvang nie. Mondstuk Media het wel die unie om kommentaar genader.

Buite die hof vanoggend het die aktivis Billy Claassen vertel dat die twee mans glo die student ’n rygeleentheid van ’n partytjie af sou aangebied het. Toe hulle by haar blyplek kom, het hulle haar glo oorreed om hulle binne te laat deur te sê hulle wil die toilet gebruik.

  • Haar antie het vanoggend ’n kort en kragtige mening gegee: “No, is no.”
  • Binne die hof was sowel die speler se ma en pa. Sy ma was baie hartseer. Ook ander familielede en vriende was duidelik emosioneel toe hy die hoflokaal binnekom en verlaat.
  • Die hofgangers was geskok toe die aanklaer, Melissa van der Byl, dit aan die landdros stel dat vier verkragtingsklagte – op grond van wat die reg “common purpose” (of gemeenskaplike doel) noem – teen die beskuldigdes ondersoek word. Hieroor het hulle regsverteenwoordiger, Elton Rochert van Elton Rochert Attorneys & Conveyancers, vir uitstel gevra omdat hy vantevore slegs van een klag bewus was.

Lewenslank? ’n Prokureur, wat nie aangehaal mag word nie, verduidelik aan Mondstuk Media dat die vier klagte sou kon beteken dat die beskuldigdes die klaer op vier verskillende wyses of vier kere “verkrag” het.

  • Die kommentaar is spekulatief omdat die hof nie wou toelaat dat die media die klagstaat onder oë kry nie.
  • Die prokureur sê die Strafproseswet bepaal dat ’n vonnis van tot lewenslange tronkstraf kan vir die skuldigbevinding aan die beweerde oortredings opgelê word. “Gemeenskaplike doel” word as ’n verswarende omstandigheid beskou.
  • LEES | Hier is meer inligting oor bepalings vir ernstige oortredings soos verkragtings.
Leave a Reply