‘Die moord op Janine Hopley’: Hy sê vir haar suster hy vermoed sy is deur ’n ander man verkrag en doodgemaak. Toe is dit glo hyself
In Augustus 2024 is Caledon geruk deur die gru-moord op Deveney Nel op die skoolterrein van Hoërskool Overberg. Twee jaar later, het nóg ’n wrede moord die dorp pas getref. Foto: SYDNEY ARMOED
Wat is die verskil? Hierdie keer is die slagoffer Janine Hopley, ’n doodgewone ma van drie. Dit is onwaarskynlik dat ’n boek oor haar geskryf sal word – en niemand het vandag by die hof betoog nie.
11.05.2026 | NUUSMAKERS:
Liezel Gardiner kan nie die vermetelheid (of gewetenloosheid) van die vermeende moordenaar van haar aanneemsuster, Janine Hopley (38), glo nie. “Alles wat hy vir my gesê het daai Woensdag – dat hy dink ’n ander man het haar verkrag en doodgemaak – het hy al die tyd sélf aan haar gedoen,” vertel sy aan Mondstuk Media.
- Mev. Gardiner praat nadat sy en een van haar ander susters, Johanna Snyman, vanoggend die eerste hofverskyning van die beskuldigde bygewoon het. Die saak is tot Donderdag uitgestel vir die Legal Aid-regsverteenwoordiging wat hy versoek het.
- Die twee susters het gehoop om aan hom te vra wanneer presies Janine dood is sodat hulle dit op die begrafnisbladjie kan aanbring. Maar toe word hy so vinnig by die hof uitgeneem dat hulle beswaarlik kans gekry het daarvoor.
- “Hy’t net gesê: ‘Ek is jammer’,” sê mev. Gardiner.
Soos wat sy die storie vertel, was die beskuldigde, welbekend aan die familie, Vryheidsdag se langnaweek van die Vrydag af opgesluit weens dwelmbesit en dat hy ook daai dag met Janine baklei het. Die Dinsdag is hy vrygelaat; en die Woensdagoggend in die dorp het hy so ewe vir mev. Gardiner vertel Janine het nog nooit huis toe gekom nie. Hy was kamstig op soek na haar.
- Die ander man, wat “in die bos bly”, digby die plaaslike stortingsterrein, is deur hom daarvan beskuldig dat hy moontlik vir Janine leed aangedoen het.
- Hy het vir mev. Gardiner die aand by haar huis kom vertel dat hy dié man se hokkie aan die brand gesteek het, hom vasgemaak het en ’n stuk van sy hare (of dreadlocks) afgesny het voordat die man deur iemand anders gered is.
- Hy het haar nommer ook nog gevat.

Janine Hopley, ma van drie, se lyk is Donderdag in ’n plaaslike begraafplaas gevind nadat sy vir nege dae vermis was. (Haar aanvaller het haar glo verkrag en doodgewurg en net daar laat lê, is die inligting wat Mondstuk Media ontvang het.) Die tydsverloop strook met haar suster se vertelling dat die beskuldigde kwansuis van die Dinsdag ná sy vrylating na haar gesoek het. Haar kinders – John-Wayne (11), Janice (7) en Lyle (4) – moet nou gewoond raak aan hul ma se afwesigheid. Die beskuldigde is ook aan hulle drie bekend.
- Mev. Gardiner antwoord op Mondstuk Media se vraag oor hoe die kinders hul ma se dood hanteer: “Die oudste een is stil en praat nie veel nie. Die meisiekind is nou siek en wil nie eet of drink nie. En Lyle, fooitog, hy weet nie regtig wat aangan nie.”
“Geskiedenis van gewelddadige gedrag”: Die moord op Deveney Nel is die titel van ’n boek wat deur Julian Jansen geskryf is oor dié 16-jarige graad tien-leerder se dood. Dit fokus spesifiek ook op die “geskiedenis van gewelddadige gedrag” van die 17-jarige jongman, wat uiteindelik aan Deveney se moord skuldig bevind is.
- Die saak het groot mediabelangstelling ontlok; aktiviste teen geslagsgebaseerde geweld was deurentyd by die hofverrigtinge teenwoordig om buite die hof te betoog.
- Die beskuldigde in die moord op Janine Hopley is glo ’n gewoontemisdadiger, wat “in en uit tronk toe”.
- Geen protesaksie is vanoggend by die hof gehou nie.
