Roses ‘united’ agter held wat van verkragting aangekla word – en Boland soek ’n week na die regte woorde

Die ondersteuning wat ’n Wellingtonse rugbyspeler en verkragtingsverdagte geniet, affekteer lede van gemeenskapsmedia negatief, soos EJ Breakingnews kan getuig.

Waarom maak dit saak? Nie net die media nie, maar ook die aktivis Billy Claassen word liederlik gelóóp oor hulle gebalanseerd probeer optree. Plus: Boland-rugby vat ’n week om iets te sê.

11.05.2026 | NUUSMAKERS: “Stresvol,” is hoe Edgar J. Petersen van EJ Breakingnews sy week beskryf as ’n joernalis wat oor die saak verslag doen deur sy Facebook Lives. “Die moeilikste taak was wanneer mense dink dat jy as ’n mediaplatform kant moet kies en dat jy aan die kant van die gewildste opinie moet staan – en dit is wat die stres veroorsaak,” sê Petersen aan Mondstuk Media. Maar die kritiek op hom het nie slegs van die rugbyspeler en sy medebeskuldigde in die verkragtingsklag gekom nie. Ook die aktivis Billy Claassen het Petersen glo getakel – en dit omdat hy nou weer voel Petersen “berig te versigtig”.

  • Die ironie is dat die kritici van Wellington glo Petersen is aan mnr. Claassen se kant met mnr. Claassen se steun aan die beweerde slagoffer, ’n 21-jarige onderwysstudent aan die Wellingtonse kampus van CPUT.
  • Petersen deel die belangrikste waarneming wat hy verlede week gemaak het: “Mense is onkundig,” sê hy, “en hulle sal glo wat hulle glo, ongeag wat jy rapporteer.”

“Ek sal staan by die slagoffer!” verklaar Billy Claassen, wat die student se familie by die hof ondersteun. Nie eens die verdediging se weergawe van die gebeure die aand toe die beweerde verkragting plaasgevind het, het enige twyfel laat insypel in sy geloof in die slagoffer se weergawe nie, kap hy vas.

  • “Ek glo haar steeds,” sê mnr. Claassen.
  • Dit is die arrogansie van die ander kant – beskudigdes, ondersteuners, regsverteenwoordiger en die klub – wat hom teen die muur wil uitdryf: “Hulle maak of hulle untouchable is, want hulle is dié mense,” sê hy. “Hulle spog met beskuldigde een se gewildheid in ’n hofsaak, maar daai beskuldigde het nog nie een keer gesê nie hou op met die aanvalle op die [beweerde] slagoffer en haar familie, asseblief.”
  • Mnr. Claassen glo die ondersteuners van die twee rugbyspelers “ry op die golf van ander onderdruk en verneder”. Die aktivis het ’n aanlynpetisie begin om steun vir die slagoffer en ander slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te mobiliseer. “Ek sal staan by die slagoffer!” sê mnr. Claassen.

Rasaad Adams, wat vir Die Papier oor die saak verslag doen, sê: “Ek sal wil glo dat die publiek – en daar is verskriklik baie openbare belang in die saak – het die afgelope week staatgemaak op mediahuise om so deeglik as moontlik oor die aangeleentheid verslag te doen.”

  • Die belangrikheid van gebalanseerde beriggewing is dat dit as teenvoeter kan dien vir die “verskillende weergawes” op sosiale media “oor hoe die beweerde verkragting plaasgevind het”.
  • Die twee beskuldigdes se borgtogaansoek word hierdie week voortgesit.

Mondstuk Media het verlede Maandag ’n navraag aan Boland-rugby gestuur om te verneem of hulle bewus is van die saak, wat hul reaksie daarop is en wat Boland se algemene standpunt oor geweldsmisdaad, soos verkragtings is. Die unie het vier dae later – Vrydagoggend! – in vier Engelse paragrawe geantwoord. Ons plaas dit volledig hier:

  • Boland Rugby is aware of a matter currently before the courts involving two players registered at clubs within the Union. As this is an active legal process, it would be inappropriate and potentially prejudicial to comment further at this stage.
  • Boland Rugby respects the judicial process and will allow the matter to take its course through the appropriate legal channels.
  • The Union, together with its stakeholders, remains firmly committed to upholding the values of respect, accountability, and responsible conduct at all levels of the game. Boland Rugby does not condone any form of gender-based violence, sexual misconduct, or violence against women, children, or any vulnerable individuals.
  • Boland Rugby is a proud signatory to a pledge against gender-based violence, reaffirmed annually, through which the organisation, its members and affiliates stand united in rejecting all forms of abuse and in promoting safe, respectful environments within our communities and the sport.
Leave a Reply