BOEKE: Die verhaal van Jakob Koetaan, ’n man wat besluit het om op te tree toe hy van onreg bewus word

Die sielkundige Allen Grootboom het pas sy debuutroman gepubliseer. Dit stel die hoofkarakter Jakob Koetaan aan lesers bekend.

Wat is die kern van die verhaal? Hoe Koetaan opgestaan het teen die onteiening van sy familiegrond – en ook dat, soos Grootboom sê, “ons nog sukkel met restitusie”.

23.03.2026 | KULTUUR: Mondstuk Media het onlangs die bekendstelling bygewoon van Allen Grootboom se roman, Die vuur huil, wat beskryf word as “die halfklaar storie van ’n vryheidsvegter”, uitgegee deur Jonathan Ball Publishers. Die letterkundige prof. Hein Willemse het vir dr. Grootboom ’n paar diep vrae by die bekendstelling by die Universiteit van Wes-Kaapland gevra, maar een waarneming het vir ons uitgestaan:

  • “Die natuurbeskrywings van die Oos-Kaap – veral die stad PE – en die landelike gebiede,” het prof. Willemse gesê, “maak van die roman seker die eerste een waarin die beskrywing van bepaalde gebiede in PE so getrou gedoen is.”
  • Willemse het ook gesê die boek verteenwoordig die “herwinning van ’n bepaalde geskiedenis”.
  • Dié geskiedenis is die onteiening van bruin families se grond wat in die geval van Jakob Koetaan, hoofkarakter, tot sy politieke ontwaking gelei het.

Teen hierdie agtergrond is dit vir Mondstuk Media gepas dat ons twee dae ná die viering van Menseregtedag oor die boek skryf. Die dag is ingestel om die fokus op voorheen onderdrukte Suid-Afrikaners se swaarverdiende menseregte te plaas.

Dr. Grootboom som die boek op:

Die storie gaan oor ’n jong man, Jakob Koetaan, wat as gevolg van grondonteiening in die Baai moet gaan heenkome soek. Sy familie is deur die proses uitmekaar geskeur. Familie bande is verbreek en elkeen is vir hom “sikselwers”.

  • As jong seun het hy gehoor van die Kaap, “waar daar baie Bruinmense is”. Soos wat omstandighede dit wou, raak hy betrokke by die politiek – iets waarvan hy baie min weet.
  • Gaandeweg kom die besef tot hom dat hy geen ander keuse het as om betrokke te raak nie, al weet hy min van politiek. Hy raak mettertyd wyser en die politiek trek hom al dieper in.
  • Hy beland in die tronk en later in ’n gestig waar hy ontsnap en pad vat Kaap toe. Dáár, glo hy, sal hy tussen al die bruinmense uit die oog van die polisie verdwyn.

Is die boek outobiografies of nie, is een van daardie vrae wat gewoonlik met die optekening van só ’n storie gevra word:

In antwoord op bogenoemde: dalk is ’n storie maar net ’n storie, waar die fiktiewe met die waarheid bots of vermeng raak – en onthou dit is altyd die leser se perspektief wat saak maak. (Dalk sal deel twee van Jakob Koetaan se storie die antwoord op bogenoemde duideliker maak.)

Oor die wording van die boek sê die skrywer:

Die storie het geroep om vertel te word. Dit was lank in my kop. En toe eendag vind daar ’n moord op George plaas waar ’n bruin man ’n wit man met ’n baksteen gooi wat glo by sy girlfriend kom kuier het. Onthou die storie van Jakob Witbooi wat die boere geskiet het (doodgemaak het) in die Winterberge, nou Ceres, se omgewing? Hy het by sy byvroue gekuier, terwyl hy met struikrowery besig was. Hy moes vlug oor die Grootrivier toe hulle op hom jag gemaak het…

Die boek se begin beskryf Jakob Koetaan se reis Kaap toe. Wat onthou dr. Grootboom van sy eerste besoek aan die Kaap?

My eerste reis Kaap toe het skielik op my afgekom: Ek het by Ford Motormaatskappy begin werk – en my skoolhoof het vir my aansoek gedoen universiteit toe. Ek het net ’n telegram gekry: jy is aanvaar by die universiteit en jy moet trein vat Maandag sodat jy teen Woensdag kan registreer.

  • Jy kan jou indink: opgewondenheid, van my klasmaats was ook op die trein; die deel van padkos; byna twee dae op die pad … en die opgewondenheid toe ons Bellville-stasie bereik.
  • Geen idee hoe lyk die plek nie, waar die plek is nie en ons las om ’n taxi te kan huur. (Vir ’n oomblik is ek baie ver teruggevat.).
  • Jakob Koetaan se storie begin voor hierdie insident.

Oor hoe getrou die boek bly aan die historiese verhaal waarop dit geskoei is: Nee, die teks is nie getrou aan die storie soos wat die mense dit ken nie. Enersyds was die onteiening daar (onweerlegbaar bewys), andersyds sukkel ons nog met restitusie; en laastens (die grusame storie in die boek) is die nasate van die skuldige nog daar en dalk nog kennelik bewus – al is dit deur oorlewering – van hul grootouer se daad van onteiening. Derhalwe die sensitiwiteit waarmee dit gepaard gaan. Die storie oor die moorde wat daarna gebeur het, is in die SA-anale opgeteken.

En hoe beplan hy om seker te maak dat die gemeenskappe oor wie se geskiedenis die boek handel wel die boek koop en lees, gegee dat boekverkope onder bruin mense so laag is?

Dr. Grootboom het hierdie idee: Voorbrand sal gemaak moet word vir “geforseerde lees” deur biblioteke en skole te betrek.

Leave a Reply