Plaaslike verkiesings bó-aan KKNK se lys gesprekke vir die komende fees, wat Saterdag begin

Die Netwerk24- en Die Burger Praat Saam-gespreksreeks by die jaarlikse KKNK op Oudtshoorn skop Saterdagoggend af met ’n gesprek oor vir watter party(e) dié dorp se inwoners vanjaar behoort te stem.

Waarom is dit belangrik? Die dorp se koalisie-regering op plaaslike vlak bly ’n uitdaging, soos ook op ander plekke.

23.3.2026 | KULTUUR: Oudtshoorn is een van die Wes-Kaapse dorpe wat die beste kan getuig van hoe koalisies tot voordeel of tot nadeel van plaaslike inwoners kan werk. Nog net die ander dag, sowat ’n maand gelede op 18 Februarie, is die burgemeestersketting deur ’n mosie van wantroue afgeruk van die nek van die VF Plus se Johan Allers. Dit is toe aan die ANC se Zoe Tyatya (in ’n waarnemende hoedanigheid) oorhandig.

  • Om daarom die 2026-Diskoersgesprekke by die KKNK van stapel te stuur met ’n plaaslike verkiesing-tema, is ’n welkome stap vir die feesganger wat in aktuele gesprekke belangstel.
  • “Vir wie moet Oudtshoorn in 2026 stem?” vra die onderwerp vir die eerste gesprek, wat Saterdagoggend deur die radiopersoonlikheid Jody Hendricks gelei word.
  • Die beskrywing in die feesprogram brei as volg uit op die onderwerp: “Met die plaaslike verkiesing wat later vanjaar gehou word, vra ons wat bied politieke partye vir dié Klein Karoo-dorp in 2026?”
  • Die kritieke vraag: “Het die koalisieregering van die afgelope vyf jaar dienslewering op die dorp verbeter, of sal ’n eenpartyregering beter wees vir Oudtshoorn en sy mense?”

Paneel: Die gesprek begin om 8:30 in die Netwerk24-feeskafee, aan die agterkant van die C.P. Nel-museum. Saam met Allers, sal die gesprekspaneel bestaan uit onder andere mnr. Tyatya, me. Suzane Jansen (PA-lid en speaker van Oudtshoorn), mnr. Chris Macpherson (DA) en mnr. Chad Louw (People’s Prosperity Movement).

  • Mnr. Louw is ná die vorige plaaslike regeringsverkiesing in 2021 as die jongste burgemeester op Oudtshoorn en in die land aangewys; en Macpherson het agterna dié rol by hom oorgeneem.

Die dag daarna: Ook die tweede gesprek, Sondagoggend, sluit by die plaaslike regeringstema aan. In dié geval is die gespreksleier die bekroonde televisie-aanbieder Kabous Meiring, wat die onderwerp “Munisipale dienslewering – of eerder diensontbering?” met haar paneel sal bespreek. Dit bestaan uit onder andere mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, en mnr. Petrus van Eeden, ’n besproeiingsboer van Harrismith en medestigter van Water Heroes.

  • Die feesprogram berei die feesganger voor: “Die woord ‘munisipaliteit’ is vir baie sinoniem met ’n moedelose gesug. Wat baat dit inwoners maak slaggate reg en die munisipale swembad word herstel … as die oudits steeds nie skoon is nie?”
  • Die vrae wat hieruit spruit: “Waar lê die éintlike probleme, en kan tussenverkiesings regtig ’n verskil maak as die kandidate verbeeldinglose selfverrykers bly? En wie moet hierdie kandidate dan eerder wees?”

KLIEK HIER vir die volledige gespreksprogram

Naskrif: Mondstuk Media se inhoudshoof, Heindrich Wyngaard, neem ook aan die fees deel deur boekonderhoude met Jeff Wicks, skrywer van The Shadow State – Why Babita Deokaram had to die, en Pauli van Wyk, mede-skrywer saam met Micah Reddy van Malema: Money. Power. Patronage.

 

Leave a Reply