‘Tweespalt’: Die selektiewe geheue van Suid-Afrikaanse ondersteuners van die All Blacks. Hoe het hulle so gekom?

’n Dokumentêr word tans vervaardig oor die veelbesproke verskynsel van Suid-Afrikaners – talle bruin Kapenaars – wat die Nieu-Seelandse All Blacks eerder as die Springbokke ondersteun.

Waarom maak dit saak? “Tweespalt”, wat ook die naam van die dokumentêr is, word jarelank al hierdeur in vriendekringe en selfs gesinne veroorsaak. HEINDRICH WYNGAARD het ’n mening.

13.04.2026 | SPORT: Hierdie jaar word in Suid-Afrika se politieke geskiedenis vernaamlik onthou as die 50-jarige herdenking van die Soweto-opstande teen gedwonge Afrikaanse onderrig vir swart kinders.

  • Maar dit is ook vanjaar 50 jaar sedert die omstrede All Black-toer na Suid-Afrika, waaraan ses Maoris as “honorary whites” kon deelneem. Dit het aan hulle, soos vir hul wit spanmaats, toegang gegee tot alle “wit” geriewe in die land.
  • Wat dit belangrik maak in die konteks van die dokumentêr, is dat talle plaaslike All Black-ondersteuners nog die verlede ophaal as rede vir waarom hulle die All Blacks ondersteun.
  • Dit sou wees omdat hulle hulself nie kon vereenselwig met die Springbok as “apartheidsimbool” nie, maar dan vergeet hulle dat hul geliefde All Black-sterre gedurende apartheid in Suid-Afrika kom toer het.

Klaar gepolitiek? Wat 1976 op die rugbyveld laat uitstaan, is ook dat, onder andere, die bruin Protea-span van die destydse Federasie teen die All Blacks gespeel het. Die span is pas op Athol Ontong se Facebook-blad geplaas. Die opvallende afwesigheid in die span, is Errol Tobias, wat nie vir die wedstryd gekies is nie omdat die Federasie-keurders gemeen het hy was nie op sy beste op daardie stadium nie.

Tobias, die eerste: Vyf jaar later, in 1981, het Tobias egter die geleentheid gekry om in Nieu-Seeland saam met die Springbokke te gaan toer. Hy het die vorige jaar, in 1980, op die Bokke se einde van die jaar-toer na Suid-Amerika die eerste speler van kleur geword om die Boktrui oor sy kop te trek. Uitstekende vertonings teen die Ierse besoekers in Junie 1981, het hom ’n seker keuse vir die ’81-toer gemaak.

  • In Nieu-Seeland het hy egter gesukkel in die nat toestande en met die deurentydse betogings teen die toer wat die Bokgroep moes trotseer.
  • Dit bly vir Tobias ’n groot jammerte dat hy homself nooit kon bewys in ’n toets teen die All Blacks nie.

Die Groot Toets: Die All Blacks kom toer weer later vanjaar in Suid-Afrika, soos in die ou dae toe daar nie slegs toetse gespeel is nie, maar ook sogenaamde “weeksdagwedstryde”. Dit word “Rugby’s Greatest Rivalry”-toer genoem – en dit herdenk die laaste groot toer wat die All Blacks na Suid-Afrika onderneem het, in 1996, die jaar nadat die Bokke hulle in die Wêreldbeker-eindstryd op Ellispark geklop het.

Om terug te keer na die dokumentêr: Gewis gaan die toer opnuut die “tweespalt” in die kollig plaas van hoe die rugbyliefhebbers van een land, een gemeenskap, een gesin, onderling stry oor sommige se liefde vir ’n ánder land se nasionale span. Wanneer gaan ons ons gedeelde, maar verdeelde rugbyverlede ter ruste lê?

  • Die inhoud van die artikel is geskoei op van die stellings wat Mondstuk Media se inhoudshoof, Heindrich Wyngaard, in sy onderhoud vir die dokumentêr gemaak het.
  • Wyngaard is die skrywer van Bursting Through the Half-gap, ’n biografie oor Tobias.
Leave a Reply