‘Champ, jou beurt sal kom,’ sê rugby-meneer aan 11-jarige speler voor proewe. Enkele dae later toe eis ’n ongeluk sy lewe
Orchard Primêr by De Doorns is die naweek deur ’n tragedie getref met die dood van ’n geliefde gr.5-leerder en kranige rugbyspeler, Jemaine Witbooi, links op die foto saam met sy ma, Natasha, en sustertjie, Tashneem.
Wat is bekend? ’n Bakkie het hom Vrydagmiddag getref en hy het Saterdag in die Worcester-hospitaal aan sy kop-, arm- en buikbeserings beswyk voordat hy Rooi Kruis toe vervoer kon word.
20.04.2026 | NUUSMAKERS: Jemaine Witbooi was die trots van die Bantam-April-gesin – ’n saggeaarde, positiewe en verantwoordelike kind, aldus sy ma, Natasha Bantam, wat April getroud is. Soos wat hy in sy skoolwerk alles ingesit het – verlede jaar top-leerder in mnr. Danver Olsen se gr.4-klas by Orchard Primêr en ook in die top 3 van die graad – was hy hierdie jaar gereed om ook op die rugbyveld te begin presteer.

Gisteraand vertel mev. April aan Mondstuk Media: “Hy het vir my gesê: Mammie en oom Randall [sy stiefpa], ek soek asseblief ’n kopskerm en ek soek tôks. Ek sê vir hom: Gee vir Mammie kans, Mammie wil net julle skoolsweetpak uitsort en sodra die rugbybesigheid begin van julle – en ek het klaar julle sweetpak uitgesort – dan koop ek jou kopskerm en jou tôks. Hy sê vir my: Asseblief, Mammie, ek wil rugby speel. En hy’t vir my gesê: Mammie, ek gaan vir Mammie trots maak; ek gaan vir Mammie ’n trofee huis toe bring.”
Die ywerigheid het uit hom geborrel toe hy verlede week vir mnr. Olsen vra of hy en sy maatjie, Jaden George, ook aan die o/13-proewe van die Hexrivier Skole Sport-unie kan deelneem. Die antwoord was dat hulle net nog so ’n bietjie moes aanhang tot hulle oud genoeg is daarvoor. “Champ, jou beurt sal kom,” het mnr. Olsen belowe – én toestemming gegee dat hy en Jaden darem die proewe kon bywoon om die ander spelers te ondersteun en boonop saam met hulle vir ’n foto te staan.
- Heel links op die foto staan hy met al sy skoolklere aan – grys trui en kortbroek, blou hemp. Hy glimlag trots. Net aan sy regtervoet sien ’n mens ’n skoen en ’n sokkie; sy linkervoet is kaal “om beter, soos [die Springbokheld Cheslin] Kolbe, te kan sidestep”, het hy mnr. Olsen laat glo.
- En toe word mnr. Olsen twee dae later gebel, Vrydagmiddag, net nadat hy tuis gekom het van die skool af en hom gemaklik begin maak het, vertel hy aan Mondstuk Media. Die nuus was dat Jemaine omgery is en op pad Worcester-hospitaal toe was.
- Foto’s wat op die toneel geneem is, wys met watter slag die bakkie hom getref het; daar is ’n gat vooraan die bakkie, bokant die nommer plaat. In video’s wat ook op die toneel opgeneem is, lê hy bebloed in die straat, terwyl ’n mens ’n vrou hoor uitroep: “Here, help hom tog net!”
In Worcester het mnr. Olsen saam met mev. April by Jemaine gewaak, terwyl mediese personeel hom gereed kry om na die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Rondebosch in die Kaap oorgeplaas te word.
Dit was tevergeefs, want mnr. Olsen was skaars weg om vir die familie iets te ete te gaan koop toe kry hy die tyding dat Jemaine beswyk het. “Môre gaan verseker nie business as usual wees nie,” voorspel mnr. Olsen gisteraand teenoor Mondstuk Media die verwagte atmosfeer by die skool vandag. Die opgewondenheid oor dat vyf van die skool se spelers toe by die proewe deurgedring het na die Noord-Bolandspan toe, sal nou nie meer die groot nuus by die saalbyeenkoms wees nie.
- Naas sy ouers, word Jemaine oorleef deur sy ouer broer, Linden (16), en sy jonger sussie, Tashneem (6).

