‘Ons is nie barbare nie,’ sê Knoflokskraal se mense nadat Minister van Openbare Werke ingryp om ‘wetteloosheid’ te keer
Die mense van Knoflokskraal by Grabouw is steeds omgekrap oor die minister van openbare werke, Dean Macpherson, daar wil “ingryp” om “wet en orde” te herstel.
Wat nou? Eloïse Rossouw, ’n woordvoerder vir die gemeenskap, het in ’n RSG-onderhoud alles ontken wat die minister beweer by die “Khoisan-vesting” aan die gang is.
13.04.2026 | NUUSMAKERS: Soos Mondstuk Media verlede week op Facebook geskryf het, het min. Dean Macpherson sy Knoflokskraal-aankondiging gemaak in die teenwoordigheid van die premier Alan Winde; Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers; en die Theewaterskloof-burgemeester Lincoln de Bruyn.
- Wat op die groep Bosbou-plase aan die gang is, het die minister gesê, “is nie net die onwettige besetting van grond nie, maar ook kriminaliteit”.
- Onder meer word erwe glo teen R1,500 verkoop.
- Die staat wil nou vasstel presies hoeveel mense daar woon en help met toegangsbeheer.
- Uiteindelik is die bedoeling nie om die mense te verwyder nie, maar eerder om op ’n gestruktureerde wyse meer woonplek vir ander ook te vestig.

‘Dis ons s’n’: Min. Macpherson se uitsprake is daarna in ’n onderhoud op die RSG-aktualiteitsprogram “Spektrum” in twyfel getrek deur ’n gemeenskapswoordvoerder, Eloïse Rossouw. Wat heel eerste verstaan moet word, sê sy, is dat dié grond – ’n samevoeging van ’n paar plase – “is historiese erfgrond van die Khoisan”.
- Oor min. Macpherson se verwysing na misdaad en onder meer dat brandbestryders glo verjaag word wanneer hulle by Knoflokskraal opdaag, sê sy: “Dit is ’n infame, blatante leuen.”
- En verder: “Ons is nie barbare nie. Ons tree nie soos barbare op nie, want ons is nie barbare nie […] en misdaad kom oral in Suid-Afrika voor.”
Hoera, roep die DA! Die Democratic Alliance was eerste uit die blokke om dié ingryping deur min. Macpherson – “om wet en orde in die Knoflokskraal informele nedersetting te herstel” – te verwelkom.
#LGE2021 en #LGE2026: Mnr. Simmers, wat die party in die provinsie lei, sê in ’n verklaring die “vinnige uitbreiding” van dié nedersetting langs die N2, tussen Grabouw en Botrivier, “is duidelik deur politieke groeperings aangevuur in die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing in 2021”.
- Die kwessie gaan waarskynlik – in die aanloop tot die 2026 plaaslike regeringsverkiesing – politieke opponente laat koppe stamp, het Mondstuk Media verlede week voorspel.
Wat het John Michels hiermee te doen? Dié Wetgewer-lid van die National Coloured Congress was voorheen ’n plaaslike aktivis en ook TWK-onderburgemeester vir Good. Sommige rolspelers in dié munisipale gebied wys geruime tyd al vinger na hom as dat hy na bewering “aanhitser van die besetting was”.
- Die agbare Michels skop teen die karre: “Eerstens, net ’n regstelling: Wat by Knoflokskraal gebeur, is nie plakkery nie,” sê hy toe hy vir kommentaar gekontak word. “Dit is die reclaim van grond.”
- En hier is die waarheid: “Toe die eerste reclaimers op die grond gaan bly het, het ek nog altyd vir hulle ondersteun in dit waaroor die reclaim gaan – en ek ondersteun hulle tot vandag toe. Ek is nie bang om dit te sê nie.”
- Dit is ook die amptelike posisie van sy nuwe politieke tuiste, die NCC.
Mondstuk Media het einde verlede week foto’s van die “hoof-ingang” na Knoflokskraal geneem. ’n Wit paartjie het gemaklik by die ingang ingegaan, sonder dat enigiemand hulle gestop of ondervra het oor hul “verblyfreg”.
