Robertson Town se sukses in die Gold Cup-kompetisie van SA Rugby veroorsaak nou vir hulle ’n Boland Top 12-kopseer. Safcol het nie simpatie daarmee nie
John Booysen, afrigter van Robertson Town, wat die naweek sy Gold Cup-kragmeting teen Worcester Villagers met 52-33 gewen het, is bekommerd oor sy diepte op slot en stut vir die komende naweek se kragmetings.
Waarom is dit ’n probleem? Town moet sy eerste Top 12-wedstryd vir die seisoen tuis teen Safcol speel en op dieselfde dag – ook tuis – ’n volgende Gold Cup-afspraak teen College Rovers uit KwaZulu-Natal nakom.
Booysen aanvaar dat hy uiteindelik nie ’n keuse sal hê as om twee spanne in die veld te moet stoot indien albei wedstryde Saterdag moet voortgaan nie. Dié besluit lê by SA Rugby en by Boland. Maar hy hoop tog dat een van die twee kragmetings uitgestel kan word omdat hy moontlik op slot en stut swaar kan trek as hy wel twee volsterkte squads moet saamstel.
- “Ek is natuurlik baie bedag op World Rugby se voorskrifte oor player welfare waar dit duidelik sê die beskerming van spelers teen injuries is belangrik – wat beteken ’n ou kan darem nie van dieselfde manne verwag om twee wedstryde op een dag te speel nie,” sê hy. “Gelukkig het ons ’n paar manne wat al provinsiaal gespeel het en ek dink die naweek sal ook ’n goeie geleentheid bied vir die outjies wat nog opkom om te wys wat in hulle steek.”
Waar die haakplek egter kan inkom, is of Town se Top 12-teenstanders van die naweek, Safcol, sal instem tot die uitstel van die Top 12-afskopstryd. Die kwessie was al voor Saterdag se wedstryd tussen Town en Villa ’n warm patat toe Botrivier se voorsitter, mnr. Wilfred Herman, ’n streng waarskuwing aan die Boland-bestuur gerig het dat sy klub nie bereid sou wees om hul wedstryd te skuif indien Villagers gewen het nie.
Ook Safcol se voorsitter, mnr. Dimitri Jacobs, was duidelik daaroor dat sy klub Boland sal hou by die unie se eie aankondiging vooraf dat die Top 12-reëls nie aangepas sou word nie. Dit beteken klubs in die Gold Cup moes voorsiening gemaak het vir ’n situasie, soos dié waarin Town hulself nou bevind.
- Terwyl Botrivier en Villagers se wedstryd sal kan voortgaan omdat Villa deur Town uit die Gold Cup geskop is, heers onsekerheid nou oor Town en Safcol se Top 12-kragmeting. “Ons gaan net soveel benadeel word as die wedstryd geskuif word,” sê mnr. Jacobs, “in terme van spelers se wedstrydfiksheid en ook die feit dat sommige van hulle moet verlof insit by die werk om te kan speel.” Hy vra: “En wat gebeur as Town weer in die Gold Cup wen? Gaan hulle volgende Top 12-game dan ook uitgestel moet word?”
Na verneem word, sal Safcol selfs oorweeg om hof toe te gaan indien hulle gedwing word om hul Top 12-wedstryd teen Town op ’n ander datum te speel.
- SA Rugby se vise-president, mnr. Francois Davids, het egter Vrydagaand by Botrivier se Top 12-bekendstelling vir mnr. Herman – en dus ook vir mnr. Jacobs – die leviete voorgelees. “Ek wil tog vir jou sê as ’n rugbymens: Dis SARU se Gold Cup. […] Boland is ondergeskik aan SARU; Botrivier is ondergeskik aan Boland. So ek vra jou met in vrede in my hart in … né: Los daai storie!”
Mnr. Jacobs het oor die naweek aan Mondstuk Media sy klub se standpunt as volg verduidelik: “Ons was laas jaar gesê sou ons verder deurdring [in die Gold Cup], moet ons twee spanne field op een dag – ’n span wat Top 12 speel en ’n span wat Gold Cup speel.”
Mondstuk Media is ook daarop gewys dat mnr. Pat Marran, vise-president van Boland, op 24 September met die bekendstelling van die Top 12-uitspele in Wellington bevestig het dat die reël is dat kwalifiserende spanne in die Gold Cup twee spanne in die veld moet kan stoot en dat die Top 12 nie aangeskuif sou word nie.

