Oom Alspraat vier sy veertig jaar se dae en nagte as ’n onderwyser, maar hy wonder oor of ou Jôhnnie die tuinman kwalifiseer as ’n produk van sy arbeid
Julle weet hopelik dat die wêreld elke jaar op 5 Oktober internasionale dag vir onderwysers vier – al was dit nou gister op ’n Sondag gehou – en julle weet natuurlik hoekom julle oom Alspraat dit nou vandag sal noem.
’n Mens wil nou nie grootkop kry nie, maar ’n mens hoef dit seker ook nie weg te steek dat party van ons (sien julle hoe knipoog ekke?) darem self veertig jaar se dae en nagte in die onderwys deurgebring het nie.
Ek het dit immers al hier gesê dat ek lánk onderwyser was. En al is sy nie meer hier nie, sal ek dit nie vergewe word nie as ek nie ook hier noem dat die oorle’ vrou ook vir lank ’n juffrou was nie. Partykeers het sy, lyk my, hier by die huis sommer gedink ek sit in haar klas die way wat sy met my aangegaan het. Liefdevol, hoor. Ons het nie mekaar gevloek en skel, soos dit baie keer in ander se huwelike gaan nie.
Toemaar, dis ook nie asof ons nooit gestry het of oor goed vasgesit het nie. Die dahlias moes hier geplant word. Die gordyne mos oop gelos word of toegetrek word wanneer die son in die middag begin steek. Of die teesakkies, het ek gevoel, moes vir twee koppies tee gebruik word, terwyl sy gevoel het: ah nee ah, meester Alspraat, ons is darem waarlik nie so in die knyp dat ons dit hoef te doen nie.
Die teesakkie moet vir een koppe tee sorg en dan vir ’n ander doel aangewend word. Dit moes dan tuin toe, kompos word vir die klomp plante wat soms so ruig staan dat ek nie eens meer kans sien, noudat sy nie meer hier is nie, om my hande aan die ploeg te slaan nie. Ou Jôhnnie moet maar kom en hy kom ook net wanneer hy so voel en dan word daar eers ure gestaan en gesels om my op hoogte te bring van wat nou weer hier oorkant in Boesmanskloof gebeur het of wat op die kerkraad aangaan of wie se hart nou weer seer is oor iets wat die Transformasiekomitee gebesluit het. Ek hou my uit, sê ek hom. Ek luister maar na RSG se middagvervolgverhaal vir my dosis drama en ek sit en kyk saans Kelders van Geheime op e-tv.
Ou Jôhnnie noem my “meester” omdat ek vir hom skool gehou het. Hy was nou regtig een van daai kinders wat ver moes kom, maar ons wil mos nie almal weg gaan van die huis af nie. Nou hou hy hom maar hier rond besig met tuinwerk. Drink, lyk dit my, sy geld uit; en wanneer dit Sassa is, sien jy hom vir dae nie. Die geld wat sy houvrou kry, voel hy is hulle s’n. Ek vra nie meer wat maak hulle daarmee nie, maar hy gooi heeltyd die rondloop-katte voor wat hulle kos en melk voor gee – en ek is jammer om te sê maar katte is nie vir dié oom Allespraat van julle nie. Honde miskien nog ja, maar dan dink ek aan die jaart en die reuke van die honde se toilet-gebruike wat oral rondlê. Huh-nee. Los maar.
Snaaks genoeg, kry ek dan nou sommer groot lag dat ons nogal die kinders, soos Jôhnny-hulle, op skool geleer het hoe belangrik dit is om ’n troeteldier as maatjie aan te neem. Dis nou darem tussen die leer sinne maak en somme maak deur. Boet en Saartjie het mos ook troeteldiere gehad, het ons gesê.
Waaroor ek die trotste was, was die beeldjie wat ek in die klas gehad het van drie apies in ’n ry, daai waar die een sy oë toehou en een sy mond en een sy ore. Julle moet soos die drie apies wees, het ek my kinders geleer. Julle moet julle oë toehou wanneer verkeerde goed gebeur en julle ore toehou wanneer daar lelik gepraat word en julle monde toehou sodat julle nie self verkeerde goed sê nie. “Ai, ou Jôhnny,” sê ek nou hier vir hom, “en kyk hoe lyk en klink jy vandag? Het ek dan gefaal as onderwyser? Het ek dan nie rede om trots te wees op die viering van Internasionale Onderwyserdag as ek so na jou kyk nie?”
“Meester moenie worry oor my nie,” sê hy. “Daai meisiekind van my maak dié jaar matriek. Sy het gesê sy wil ’n juffrou word. Toe vertel ek haar van meester en van meester se oorle’ vrou. Julle het ons met respek behandel,” sê ek vir haar. “Dis wat jy ook moet doen as jy juffrou word. Toe sê sy. ‘Ja, Darra.’ My klimeid daai, meester – haar ma se nxa! looks en haar pa se kwai gedagtes.”
Die koppie als waaraan ek geteug het toe ou Jôhnny hier aankom, smaak toe sommer asof die oorle’ vrou bietjie heuning bygegooi het.
