Robertson Town se eentonner-talent Marco Jones wil losskakel speel en aanhou om kinders te inspireer
Marco Jones het in sy terugkeer-seisoen vir Robertson Town in die Boland Groot Uitdaag-kompetisie en Top 12 gewys dat hy ’n blink toekoms in rugby het. Dit is hoekom hy gereeld agter die doellyn kan kuier, soos in dié foto, geneem deur Norman Evertson.
Grootste prestasie: Hoewel sy span in die Top 12-semi-finale uitgeval het, is Marco as “Speler van die Toernooi” aangewys. Ons leer hom beter ken in vandag se uitgawe en vind uit waantoe hy wil vlieg.
Dis amper asof coach John Booysen ’n onderskrif skryf vir die foto van Marco Jones op Mondstuk Media se voorblad – geneem deur NORMAN EVERTSON – wanneer hy sy indrukke gee van dié “Speler van die Toernooi” van vanjaar se Sanlam Boland Top 12:
“Geweldig vinnig,” sê hy. “Sterk. Moeilik om te tackle.”
Net soos sy pa, Mario, op sy dag as senter vir Langeberg Sekondêr, Boland en die ou Sassa se SA-span in 1987/’88 presteer het, asook later vir Robertson Town, mesmeraais Marco nou die opponente en toeskouers op die veld.
Coach John gebruik hom om die beurt as impakspeler op agsteman en senter, amper soos Rassie Erasmus met Kwagga Smith en André Esterhuizen doen. Maar vra jy vir Marco waar hy die graagste sou wou speel as hy self kon kies, is dit met die nommer 10 op sy rug.
- Dis oor “die dingesus” van dié sleutelposisie, sê hy, waarmee hy bedoel dat die losskakel “moet alles control” en dan praat hy van wat hy sien as hy na Sacha Feinberg-Mngomezulu en Manie Libbok kyk. Dis nou net dat hy nie dink hy is “gebou vir dit nie”.
Wel, dit is dalk juis sy bou wat in sy guns tel, meen die “streamer” Sydney Armoed van die program “Skuins voor Afskop”, wat Marco hierdie jaar góéd dopgehou het: “Dis eintlik waar sy uniekheid lê,” sê hy. “Hy’s nooit eintlik op ’n agsteman nie. Hy’s altyd hier in die backline – óf op vleuel-posisie óf buitesenter. Nou wat hulle dan doen met hom, as daar ’n skrum is naby die pale, gaan sak hy op agsteman.”
- Wat “oom Syd” betref, is Marco Jones “die vangs van die jaar”, ’n jong, talentvolle speler “wat sy geleenthede kom benut het” en “hy het alles wat jy wil hê in ’n player”.
Indien Marco dit nie self glo nie, is coach John naby genoeg om te beaam wat “oom Syd” sê: “Marco is ’n absolute plesier om mee te werk. Gretig om te leer. Hy glo nie dat hy genoeg skietgoed het om verder te kom daarmee nie, maar sy rugby praat vir hom.” Nóg iets wat sy afrigter beklemtoon het met sy portuur te doen: “Omdat hy so kompak gebou is, kry min manne hom op die grond en hulle têkkel hom gewoonlik verkeerd.”
- Coach John waarsku die opponente dat Marco die vermoeë het “om baie goed uit die têkkels uit te ry … so as jy hom nie reg vat nie, sal jy hom nooit grond toe kry nie”.
- En as hy kon, sou dit vir hom great wees om Marco heeltyd op die veld te kon hê, sê die coach verder. “Hy rig egter meer skade aan net ná halftyd. Ek sidder die dag as hy regtig fiks sal wees.”
Reeds op laerskool was hy ’n all-rounder: stut gespeel, maar pale toe geskop en skepskop; as o/16-speler by die Griffons in die Vrystaat, het hy van stut na flank na senter geskuif en later op dié posisie diens gedoen by Robertson Hoër saam met sy vriend, Ashwill Saul, wat verlede seisoen in ’n wedstryd tussen Robertson Rangers en Montagu gesterf het.
Natuurlik droom hy groot, maar sy groot droom het minder te doen met Springbok word, soos wat ’n mens sou verwag het. Wat Marco Jones die graagste deur sy rugbytalent wil bereik, is om die kinders te inspireer. Dis die kinders “wat opkyk na jou en altyd die beste van jou verwag”, sê hy aan Mondstuk Media.
Twee vinnige vrae:
- Na watter plek of land sal jy die graagste wil reis? “Elke land het sy eie ding, maar ek sal Brazil toe wil gaan en net ’n bietjie da’ by die beach ’n bietjie wil explore en dinges.” (Nota: Hy het nou nie gesê wat hy bedoel met explore en dinges nie – en ons het ook maar liewer nie gevra nie.)
- Wat verkies jy: ’n Braai of potjie maak? “Braai, want ’n mens kan altyd iets bymaak, soos ’n braaibroodjie waarvan ek baie hou.”
