Dit is einde van die skooljaar en die Groot Dae kom nader. Maar nou is Leahando, Kim en Janickai se plekke leeg
Plasings op die Facebook-blaaie van drie laerskole op Bredasdorp, Swellendam en Caledon oor die dood van die leerders Kim Kies, Janickai Baardman en Leahando Muller, tref diep en wyd.
Wat nou? Mondstuk Media fokus in hierdie uitgawe op hulle omdat die dood van kinders in bendegeweld op die Kaapse Vlakte meer dikwels die nuus haal. Nie dat ’n mens altyd sulke vergelykings wil tref nie.
Leahando Muller, ’n graad 6-leerder by Swartberg Primêre skool op Caledon, is Saterdagoggend begrawe. Die huisdiens het 11-uur begin; die diens in die Nuwe Apostoliese Kerk in die Vlei View-woonbuurt om 12-uur.
Presies ’n week gelede, ook tussen 11 en 12 die Saterdaggend, het Transoverberg Nuus op Facebook geskryf: “Ons is nog op die toneel op Caledon net onderkant The Barn restaurant. ’n Voertuig en ’n fiets was in ’n ongeluk betrokke.” Oomblikke tevore het die blad meer inligting gegee: “Agter die voertuig is daar ’n liggaam wat daar is.”
- Dié liggaam was Leahando s’n. Hy is blykbaar deur ’n Telkom-bakkie omgestamp toe hy en ’n vriend op volle spoed op sy fiets die pad afgekom het.
Dit het nie lank geneem voordat die nuusblad se volgelinge begin kommentaar lewer het nie. Sommige simpatiek: “Sterkte aan families. Dus so sad.” Ander veroordelend: “Die mense met fietse ry ook criss cross oor die pad ek het al amper self iemand getref en hulle kom met spoed daar af”.
Die mense wat die skool se roudiens vir Leahando Donderdagaand bygewoon het, onthou slegs sy mooi glimlag, sy bynaam “Long Man” oor sy lengte, sy rugbytalent – en hoedat spanmaats, klasmaats, onderwysers en volwassenes saam gehuil het oor sy plek nou leeg is en sy stem stil geraak het.
Uit Bredasdorp, die dag tevore, nóg ’n doodsberig. Hierdie een op De Heide Primêre skool se Facebook-blad: “Dit is met groot hartseer dat ons die afsterwe van een van ons graad 7-leerders, Kim Kies, bekend maak.”
- Haar klasmaats van graad 7C se boodskap in dieselfde plasing lui: “Kim, ons ronde oog-klasmaat … Jy was dikwels stil, maar jou stil teenwoordigheid en onderlangse glimlag hou ons in ons harte vas. Jy het die waardes uitgeleef van ’n goed opgevoede jong dame.”
Wat die oorsaak van haar dood is, is toe nog nie bekend gemaak nie. Dit word aan Mondstuk Media vertel dat sy blykbaar haar eie lewe sou geneem het. Ons moet dit laat insink: ’n graad sewe kind wat haar eie lewe neem? Selfs al sou dit ook nie waar wees in hierdie geval nie, is dit belangrik dat ons meer dikwels gesprek moet begin voer oor kinders en hul geestesgesondheid (of “mental health”, soos hulle in Engels sê).
- Die dood van Kim Kies is in dié opsig dus ook ’n wekroep: Gemeenskappe moet ag slaan op die “stilte” van “goed opgevoede jong dame[s]”; en ons moet in die algemeen ons stilte oor geestesgesondheid verbreek.
Sewentig kilometer verder weg, sterf die 9-jarige Janickai Baardman, ’n graad 2-leerder van die Railton-woonbuurt in Swellendam, toe die pilaar van ’n huis glo op haar geval het. Hulle het buite gespeel, sy en ander kinders, toe die voorval plaasgevind het.
- Nou is Janickai – haar ma en ouma se oogappel, die vreugde in die huis – weggeneem. Die ander kinders, is aan Netwerk 24 gesê, “is stukkend”. Die hele gemeenskap rou.
Binne die bestek van ’n week, op drie verskillende dorpe, het die dood dus ’n kind kom wegruk. Nog nie eens twee maande gelede nie, het Mondstuk Media ook geskryf oor ’n ander kindertragedie toe die graad 9-seun Neo Cornelius op Caledon doodgery is deur ’n mede-leerling. Ook in daardie gesin, soos met Janickai, Kim en Luahando s’n, sal daar hierdie Kersfees ’n leemte in die huis wees.
***
In sy boodskap by die roudiens vir Leahando Muller het mnr. Lincoln de Bruyn, uitvoerende burgemeester van Theewaterskloof-munisipaliteit, Donderdagaand ’n beroep op die gemeenskap gedoen om in hierdie dae ook te reflekteer oor die belangrikheid van padveiligheid.
- “Soos wat die feestyd nader kom, raak ons paaie besiger en meer onvoorspelbaar. Almal moet daarom meer versigtig wees,” het hy gesê.
- Ten slotte, treffende woorde wat ewe veel van toepassing is op die dood van Kim en Janickai – én Neo: “Let’s honour Leahando by committing ourselves to greater care. Ons kinders is kosbaar. Kom ons waarsku hulle en lei hulle.”
