’n Sport wat sy geskiedenis vergeet, verloor ’n deel van sy identiteit: Pieter Lourens têkkel ‘miskenning’
PIETER LOURENS brei uit oor sy ongelukkigheid oor die duur kaartjiepryse vir die All Blacks se geskiedkundige toer na Suid-Afrika.
Wat sê SA Rugby? Die vinger wys ook na die mense wat so kla oor die kaartjiepryse, want die punt wat hulle mis, is die ekonomiese inspuiting wat die hele land uit die toer verdien.
STANDPUNT | 31.8.2026: Wat is al of wat word vir die “Yesterday’s Heroes” gedoen? In die jaar 2000, is “Springbokbaadjies” aan spelers oorhandig wat nie voor eenheid in 1992 erkenning gekry het of toegelaat is om vir die nasionale span te speel nie. Maar, soos wat dit nou voorkom, is die historiese aspek uitgesluit.
- In die brief van SA Rugby, wat ek aan Mondstuk Media gestuur het, word ’n hele paar beloftes gemaak, maar wat het daarvan geword?
Ten opsigte van die ekonomiese fiskale voordeel vir die land, wil ek sê: Ek verstaan dat SARU ’n professionele organisasie is met enorme kostes en dat die Springbokke finansieel onderhou moet word. Ek verstaan ook die beginsel van vraag en aanbod. Maar nee, ek stem nie saam dat die hoë kaartjiepryse vir rugby se “Greatest Rivalry”-toer aanvaarbaar is bloot omdat daar groot aanvraag is nie.
- Nasionale sport is méér as net ’n besigheid of ’n kommersiële produk.
- Die Springbokke behoort aan Suid-Afrika – en daarmee saam behoort die geleentheid om hulle in ’n nasionale toetswedstryd te sien nie net aan die welvarende Suid-Afrikaner te behoort nie.
’n Gat in die beursie brand: Wanneer die goedkoopste kaartjie reeds rondom R850 begin en ander kategorieë tot duisende rande kos, word die gewone man en vrou in die straat in werklikheid uitgesluit. ’n Gesin wat graag ’n Springbok-toets wil bywoon, kan maklik duisende rande daarvoor betaal voordat vervoer, parkering, kos en ander uitgawes in berekening gebring word. Die wat nog deel wil wees word uitgesluit!
- Ek vind SARU se argument dat hoë toegangspryse die ekonomie help, problematies wanneer die gewone burger wat daardie ekonomie vorm, juis deur die pryse uitgesluit word.
- Ja, groot rugbytoernooie bring besoekers, toerisme, vervoer-, verblyf-, restaurant- en ander ekonomiese aktiwiteite mee. SARU self het ook die potensiële ekonomiese en sporttoerisme-waarde van rugby se “Greatest Rivalry” beklemtoon.
- Maar ekonomiese voordeel moet nie bloot gemeet word aan die inkomste wat uit duur kaartjies gegenereer word nie. Ons moet ook vra wie die ekonomiese voordeel geniet en wie die prys daarvoor betaal.
Die gewone Suid-Afrikaner wat nie ’n kaartjie kan bekostig nie, word dan na televisie of openbare vertonings verwys. En selfs DStv is vir baie huishoudings nie bekostigbaar nie. Die gevolg is dat toegang tot ons nasionale sport al hoe meer ’n voorreg van inkomste word. Ek glo SARU behoort eerder ’n gebalanseerde kaartjiebeleid te hê: premiumkaartjies vir diegene wat dit kan bekostig, maar terselfdertyd ’n betekenisvolle hoeveelheid bekostigbare kaartjies vir gewone ondersteuners, jongmense, gesinne en gemeenskappe.
- Want as ons sê rugby verenig Suid-Afrika, moet ons seker maak dat die mense wat ons beweer dit verenig, dit ook kan bekostig om daar te wees.
Waarom sien jy die splint in ’n ander sportliggaam se oog? En dan die vraag oor wat ander sportfederasies, soos atletiek, doen om hul eie “yesterday’s heroes” uit die SACOS-era te vereer. Hierdie is vir my ’n belangrike historiese vraag. Ek was inderdaad Atletiek Suid-Afrika se Voorsitter van Baan- en Veldatletiek, soos jy tereg aangehaal het. Daar was destyds gesprekke binne Atletiek Suid-Afrika oor hierdie aangeleentheid.
- Maar die werklikheid is dat die South African Amateur Athletics Board (SAAAB) – onder die breër nie-rassige sportstrukture wat later met SACOS verbind is – steeds nie die erkenning en eer ontvang het wat sy historiese rol verdien nie.
- Dit is nie bloot ’n nostalgiese kwessie nie.
- Die SAAAB het reeds in 1946 ontstaan en het aan atlete geleenthede gebied om aan georganiseerde en erkende atletiek deel te neem wat hulle onder apartheid geweier is. Moderne sportstrukture behoort daardie geskiedenis nie te vergeet nie.
Uit of TEIS? As ons vandag praat van transformasie, eenheid en inklusiwiteit in sport, moet ons ook die mense en strukture erken wat lank vóór 1994 reeds vir nie-rassige sport geveg en gebou het. Die “Yesterday’s Heroes” moet nie net onthou word wanneer dit ons huidige sportstrukture pas nie. Hulle behoort deel van die amptelike geskiedenis van Suid-Afrikaanse sport te wees – met erkenning, eerbetoon en ’n permanente plek in ons sporterfenis.
- ’n Sport wat sy geskiedenis vergeet, verloor ’n deel van sy identiteit. En ’n nasionale sport wat die gewone burger nie meer kan bekostig nie, moet ernstig vra of dit steeds werklik die sport van die mense is.
Pieter Lourens het op sy dag as slot en losvoorspeler vir Cities & Suburban, Boland en die nasionale Saru-span diens gedoen. Hy het die 100m in 11.1 sekondes afgelê, wat hom in staat gestel het om vleuels weg te hardloop.
