LOOPBANE 2: Eiendomme verkoop gaan nie net oor geboue nie. Dit moet oor mense gaan, sê dié agent
Mondstuk Media het verlede week met Billy Paulson oor sy boek met 365 dagstukkies gepraat. Dit deel die titel van sy groot trefferlied, “Môre sal die son weer skyn”.
Wat doen hy nog? Paulson is lank jare al ’n eiendomsagent en besit sy eie agentskap. Hier sê hy wat die beroep vir hom lekker maak.
Eiendomme is vir my baie meer as net die verkoop van huise. Dit gaan oor mense, verhoudings en drome. Ek geniet dit om mense te help om een van die belangrikste besluite van hul lewe te neem – of dit nou die koop van hul eerste huis, die verkoop van ’n geliefde woning of die begin van ’n nuwe hoofstuk is.
Ek was bevoorreg om in die vroeë tagtigerjare een van die eerste bruin eiendomsagente in Suid-Afrika te wees. Dit was nog diep in die apartheidsera. Jan Potgieter was die visionêr wat my talent as verkoopsman raakgesien het en my die geleentheid gebied het om deel te word van ’n bedryf wat destyds nog grootliks onbekend was in ons gemeenskappe.
Ek het die geleentheid met ope arms aangegryp. Twee jaar later was ek professioneel suksesvol, maar persoonlik het my lewe begin skade ly. Ek het alles gehad waarvan ek gedroom het, maar my gesinslewe, geestelike lewe en huwelik het daaronder gely. Ek was sewe dae per week besig en het min tyd gehad vir die dinge wat werklik belangrik was.
- Met groot selfondersoek het ek besluit om my prioriteite te hersien en ’n ander koers in te slaan.
Vier-en-dertig jaar later, op 60-jarige ouderdom, met my kinders volwassenes en ek en my vrou alleen in ’n groot huis, het ek besef hoeveel vreugde ek steeds daaruit put om mense te help. Nadat ek my lewe in my familie, kerk en gemeenskap belê het, het ek besluit om my passie vir eiendom weer op te neem.
Vandag glo ek dat ek dit sal doen solank ek die gesondheid, energie en geleentheid het. Eiendom gaan vir my nie net oor geboue nie; dit gaan oor mense. En mense sal altyd my grootste passie bly.
