LOOPBANE 1: Afrikaans, Kleurling en trots: Die Stem van Elzette Hendriks, radiovrou van die Kaap
Sukses is vir die radio-aanbieder Elzette Hendriks nie bloot die aantal mense wat jou naam ken nie, maar die hoeveelheid lewens wat jy aanraak.
Wat wil sy hê moet ons nóg van haar weet? Met haar passie vir radio, geloof en gemeenskap, het sy haar plek in die mediawêreld gevestig deur getrou aan haarself te bly.
NUUSMAKERS | 8.06.2026: Wanneer Elzette Hendriks terugkyk op haar loopbaan – onder meer as programbestuurder by Radio Disa en meer onlangs omroeper by die AfriKaap-aanlynstasie – beskryf sy die grootste uitdaging as die druk om in ander mense se verwagtinge te pas. JADE-LYNN SAAYMAN het vir Mondstuk Media met haar gepraat.
- “Die grootste uitdaging was om aan myself getrou te bly in ruimtes waar mense wou hê ek moet in ’n sekere boks pas,” vertel Hendriks, ’n boorling van Riversdal in die Suid-Kaap. “Daar was tye waar ek onderskat was en tye waar deure toegemaak het, maar elke teleurstelling het my voorberei vir die volgende seisoen.”
Lesse: Haar jare in die radiobedryf het haar waardevolle lesse geleer wat sy steeds saam met haar dra. Een van die belangrikstes is dat radio oor veel meer as net ’n goeie stem gaan.
- “Mense gaan nie altyd onthou wat jy gesê het nie, maar hulle gaan onthou hoe jy hulle laat voel het,” sê sy. “Radio gaan oor verbinding.”
- Sy glo ook dat integriteit ’n mens se grootste bate is. Talente mag deure oopmaak, verduidelik sy, maar dit is karakter wat jou daar hou.
- Wanneer konflik of uitdagings in die werksomgewing ontstaan, verkies Hendriks om eers te luister voordat sy reageer. Sy glo dat wysheid, begrip en goeie kommunikasie dikwels die sleutel tot ’n oplossing is.
- “Nie elke geveg hoef geveg te word nie, maar elke situasie moet met wysheid hanteer word,” sê sy.
God eerste: Geloof speel ’n sentrale rol in Hendriks se lewe en loopbaan. Volgens haar was God die eerste een wat in haar potensiaal geglo het, lank voordat sy dit self raakgesien het. Sy erken ook die rol van mense wat haar aangemoedig het tydens tye van onsekerheid.
Wat jy saai … Soos baie suksesvolle radio-aanbieders moes sy ook opofferings maak om haar plek agter die mikrofoon te verdien. Lang ure, vrywillige werk en die bereidwilligheid om op te daag sonder waarborge, het deel van haar reis gevorm. Dit dien as groot inspirasie en ’n teken van uithouvermoë, en vandag pluk sy die vrugte van al haar harde werk.
- “Ek het geleer dat sukses nie oornag gebeur nie. Dit word gebou deur konsekwent op te daag, selfs wanneer niemand kyk nie.”
Identiteit in die ateljee: As ’n trotse Afrikaanse Kleurlingvrou – dis hoe sy verkies om na haarself te verwys – het Hendriks mettertyd besef dat haar taal, kultuur, geloof en lewenservaring haar unieke stem vorm.
- “My stem is nie toevallig nie,” sê sy met oortuiging. “My agtergrond en my storie gee my ’n unieke perspektief.”
Aan jong, aspirerende radio-aanbieders gee sy eenvoudige raad: Fokus nie op roem nie, maar op betekenis. Werk aan jou karakter net so hard soos aan jou talent en bly altyd leerbaar.
En einde ten laas: Die ware waarde van haar werk lê vir Hendriks daarin om hoop te bring en mense aan te moedig. “As ek deur radio, media en bediening net een persoon kan help om weer hoop te vind,” sê sy, “dan was die reis die moeite werd.”
- Jade-Lynn Saayman is ’n joernalistiekstudent aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT).
