’n Saak van lewe en dood: Begrafnisreus AVBOB se elektroniese slagaar deur kuberkrakers afgesny
Die land se oudste en grootste begrafnisondernemer, AVBOB, beleef tans benoude oomblikke nadat dit vermoedelik deur ’n kuberaanval getref is.
Hoe affekteer dit die besigheid? AVBOB se takke landwyd bly operasioneel, word kliënte verseker. Mondstuk Media het vroeg vanoggend op ons Facebook-blad eerste in die land hieroor berig.
NUUSMAKERS | 8.06.2026: Die 107 jaar oue AVBOB se aanlynstelsels word al langer as ’n week lamgelê deur wat moontlik ’n kuberkraak-aanval deur “hackers” was. Terwyl die maatskappy drie dae gelede nog op sy webwerf aangekondig het dat hy ’n tydelike IT-probleem ervaar, is die ware omvang nou bietjie meer duidelik. Dit skyn geen geringe probleem te wees nie.
Kuberkrakers: Die maatskappy het vandag in ’n mediaverklaring onthul dat hulle elektroniese stelsels moontlik deur kuberaanvallers geteiken is. Kliënte word verseker dat hulle steeds by takke landwyd gehelp kan word.
- Maar onsekerheid heers nog oor of mense se persoonlike inligting dalk in die verkeerde hande beland het.
“Ons wil graag ons polishouers, vennote en belangepartye verseker dat ons die situasie bestuur en dat die voortsetting van ons noodsaaklike dienste prioriteit geniet,” sê Adriaan Bester, algemene bestuurder: korporatiewe sake by AVBOB. “Takke landwyd staan gereed om steeds te help met betalings, eis-registrasie en begrafnisrelings.”
Persoonlike inligting: Bester sê verder dat terwyl ondersoek steeds na die volle omvang van die probleem ingestel word, onder meer om vas te stel of daar ’n impak op mense se persoonlike inligting was, is goeie vordering reeds gemaak.
Wees versigtig: Die maatskappy waarsku kliënte om te verseker dat hulle die korrekte skakels gebruik wanneer hulle transaksies met AVBOB doen sodat hulle nie slagoffers van bedrieërs kan raak nie.
