Jeremy Veary vs Lennit Max: Waaroor verskil dié grootkoppe; waaroor stem hulle saam?

Jeremy Veary en Lennit Max verskil oor hoe die bendegeweld in bruin gemeenskappe gepolisieër moet word, maar hulle stem saam dat die “bende-ekonomie” aan die kern daarvan lê.

So wat nou? “Belê meer in speurders,” vra Veary. “Sien beter om na gemarginaliseerde bendegeteisterde bruin gemeenskappe,” sê Max.

“It’s the economy, stupid!”: Hierdie stelling van ’n Bill Clinton-strateeg oor die kwessie waaroor Amerikaanse kiesers die meeste besorgd is, som die kernpunt op van wat (afgetrede) genl.maj. Jeremy Veary in ’n onlangse TV-onderhoud oor die bendegeweld gemaak het. Ons haal hom met sy toestemming aan:

  • Veary sê dit is uiteindelik ’n “korporatiewe stryd” wat tussen bendes heers oor gebiedsbeheer en die behoud daarvan ten einde aan te hou om profyt daaruit te maak. Die polisie beskik net nie oor die getalle om die situasie deur sigbare polisiëring tot niet te maak nie.
  • Turf is die bendes se mark en daarom oefen hulle maatskaplike beheer uit deur geweld en mag – en geen polisiëring kan dit keer nie,” sê hy, “nie as jy in ag neem dat dit in sommige gebiede al maklik sestig jaar aankom nie.”
  • Nie eens misdaadintelligensie bied die antwoord nie, sê Veary. Slegs behoorlike beleggings in hulpbronne vir speurdienste sal help omdat speurders alleen die vermoë het om bendelede in die tronk te kry. Dit is omdat hulle die meeste met “verklikkers” op grondvlak skakel.
  • Eerder as om valse hoop op sigbare polisiëring te plaas, moet gebou word aan maniere om gemeenskappe te mobiliseer om beheer oor hul strate terug te neem. Hiervoor benodig jy egter “gemeenskapsolidariteit”, soos in die voor-1994-dae bestaan het, sê hy.

Hier is ’n skakel na die volledige onderhoud met genl.maj. Veary: ‘Numbers gangs infiltrate highest level of police in WC’

Dr. Lennit Max aan die woord by Kaapse Forum se Hoerikwaggo-beraad oor veiligheid, November 2024.

 

“Sukses word deur die voorkoming van misdaad bepaal.”: Afgetrede genl. Lennit Max, advokaat en nou ook doktor in die regte, sê in enige polisiediens is ’n goeie speurdiens absoluut belangrik. Misdadigers móét geïdentifiseer en gearresteer word sodat hulle in die hof verantwoording kan doen vir hulle gedrag. Hieroor stem hy en genl.maj. Veary saam.

  • “Maar ons moet onthou wanneer die speurdiens se funksie inskop, is daar reeds slagoffers van misdaad,” sê hy. “Hierdie mense se regte is al reeds geskend.”
  • Dit is uiteindelik die afwesigheid van misdaad wat ’n gevoel van veiligheid by die publiek skep, voeg hy by.
  • Oor die “sekondêre ekonomie in die bendegeteisterde gebiede”, waarna genl.maj. Veary ook verwys, sê dr. Max: “Dit is ’n werklikheid. Daarteen kan ons nie stry nie. Maar dit word veroorsaak deur die regering wat sekere gemeenskappe marginaliseer en soos ons weet – en iemand moet dit seker maar sê – bendebedrywighede is grotendeels aktief in sogenaamde bruin gemeenskappe wat vergete gemeenskappe is deur die regering.”
  • “Dié gemeenskappe was verwyder en op ’n hoop gegooi in die apartheidsdae, maar deesdae sê hierdie groep mense die ANC het hulle heeltemal vergeet en is hulle baie onsuksesvol om werk in die hande te kry – en as gevolg daarvan is die spoedige uitweg om hierdie behoeftes van hulle aan te spreek om dan betrokke te raak by bendebedrywighede.”
  • “In ruil vir die bendeleier se voorsiening, moet hierdie families dan as agente vir hulle optree deur onwettige vuurwapens en dwelms te verberg en ook dat hulle kinders dan by die bendes betrokke moet raak.”

Hoe nou gemaak, Dok? “Hierdie aangeleentheid kan slegs beperk word indien daar werk geskep word,” sê dr. Max, “indien bruin en ander gemarginaliseerde gemeenskappe deur die regering gelyk behandel word.”