Ivan Meyer hét by die DA-kongres uitgestorm omdat hy verloor het. Geordin Hill-Lewis sê self so
Die voormalige federale voorsitter van die DA, dr. Ivan Meyer, het hewig ontsteld by die DA se leierskapkongres in April uitgestorm toe Solly Msimanga teen hom wen.
Waarom maak dit saak? Hoewel die insident sosiale media gehaal het, is dit nooit amptelik bevestig nie. Nou het die nuwe nasionale leier, Geordin Hill-Lewis, dit erken.
POLITIEK | 8.06.2026: Die DA het in die nadraai van sy federale kongres vroeg in April vanjaar kritiek gekry omdat daar nie ’n prominente pos aan enige bruin leier toegewys is nie:
- Geordin Hill-Lewis (wit) is as nuwe federale leier in die plek van John Steenhuisen verkies;
- Ashor Sarupen (Indiër) het Helen Zille as voorsitter van die federale raad vervang; en
- Solly Msimanga het Ivan Meyer se vorige pos as federale voorsitter gewen.
En dáár lê die ding: Dr. Meyer se verwydering was die middelpunt van die kritiek, maar die party se amptelike beleid erken nie ras-etikette nie. Nogtans is daarop gewys dat Carl Pophaim, ’n Kaapstadse burgemeesterskomiteelid, “bruin” is en as een van die nuwe federale ondervoorsitters saam met JP Smith en Thomas Walters verkies is. Dit het steeds nie die kritici tevrede gestel nie.
Nuwe generasie-leierskap: Ontleders het egter tot die slotsom gekom dat ’n kandidaat soos dr. Meyer, wat ook Wes-Kaapse minister van landbou is, dalk nie sou inpas by Hill-Lewis se “nuwe generasie”-leierskap nie. Maar dr. Meyer is duidelik vooraf belowe dat hy genoegsame steun sou kry om tot die pos van federale voorsitter herverkies te word – totdat raadsheer Smith sy steun in die openbaar aan mnr. Msimanga toegesê het.
- ’n Joernalis het opgemerk dat dr. Meyer by die kongreslokaal uitgestorm het nadat die verkiesingsuitslae bekend gemaak is.
- Tot nog toe is dit nie deur die party of deur dr. Meyer bevestig nie – en, bygesê, ook nie ontken nie.
Geordin sê soe: In ’n onderhoud wat pas met mnr. Hill-Lewis vir die podsending Wyngaard Weekliks op LitNet se Youtube-kanaal gevoer is, erken hy dat dit wel so was – en dat dit uit dr. Meyer se eie mond kom. Mnr. Hill-Lewis maak net eers die beginselpunt: “Ons het geen kwotas in die party nie. (…) Enige van ons honderde duisende lede oral oor die land kan staan – en daai wat gestaan het, het gestaan en die wat gewen het, het gewen. Dis die begin en einde van dit.”
Die gesprek verloop verder so:
WW: “Is dit waar dat dr. Ivan Meyer by die lokaal uitgestorm het nadat hy nie verkies is nie?”
GHL: “Ek het daai gehoor, ek het nie daai gesien nie. Natuurlik was ek nog backstage. Maat ek het hom gevra en ek dink dit is heeltemal te verwagte dat ’n mens bietjie kwaad kan raak as jy ’n verkiesing verloor. Jy vat vyf minute of tien minute. Jy vat ’n halfuur to gather your thoughts and then you come back and you’ll be fine.”
WW: “So it’s confirmed?”
GHL: “I did ask him about it and he said he was very cross at the time, but he’s absoluty fine now.”
Solly sit nie stil nie: Dit raak intussen al duideliker dat mnr. Msimanga nie soos sy voorganger ’n agter-die-skerms of seremoniële rol gaan speel nie. Die nuwe federale voorsitter van die party het selfs verlede week uit Gauteng na Khayelitsha in die Skiereiland gereis om DA-kandidate vir November se plaaslike verkiesing te help bekendstel.
