‘Die Boland sal altyd my tuiste wees,’ sê Coach Hersch oor bespiegelings op sosiale media oor sy volgende stap

Die “Rassie Erasmus van die Boland”, wat onlangs deur Grabouw onseremonieel huis toe gestuur is, se visier is steeds op ’n pos in die unie waar hy tot nou sy grootste sukses behaal het.

Waarom maak dit saak? Foto’s en ’n video is pas op sosiale media geplaas wat wys hoedat hy hand bysit by Kuilsrivier, terwyl daar ook geskinder word dat sy kop Robertson Town toe staan.

NUUSMAKERS | 18.05.2026: Die val was hard, maar Herschelle van Aswegen laat hom nie daaroor onder kry nie. Nadat dié groot sukses verlede jaar by Botrivier en die seisoen tevore by Caledon behaal het, was dit maar ’n treurige saak hierdie seisoen by Grabouw se G-Boys.

  • Wat die snaakste was, was dat hy ná ’n wen (teen Caledon, nogal) gevra is om vir twee maande terug te staan “om die aangestelde hoofafrigter die spasie te gee om sy planne sodoende uit te voer”.
  • Hieroor sê coach Hersch: “Ek mag nie saam met die besluit stem nie, maar ek moet dit respekteer, want dit kom natuurlik van bo af.”

Nie ’n ou wat op sy mond geval is nie, kom coach Hersch wel meer bedees (of onseker?) voor wanneer hy oor die pad vorentoe praat. Mondstuk Media het hom genader nadat bespiegelings op sosiale media oor sy toekoms ontstaan het.

  • Van Aswegen is by Kuilsrivier opgemerk.
  • “Ek is genader deur Kuilsrivier om te konsulteer,” antwoord hy hierop. “Omdat daar geen non-compete of restraint of trade in my kontrak is nie, asook die feit dat daar geen conflict of interest is nie, het ek ná consultation met my prokureur besluit om [die aanbod] te aanvaar.”
  • Dit klink dan asof Van Aswegen nog nie ten volle paaie met Grabouw geskei het nie. Onlangs het die klub se ondervoorsitter, Abraham Moitse, glo bedank – net om toe weer terug te keer, wat deur sommige Bolandse rugbyvolk geïnterpreteer is as ’n skuif om Van Aswegen en ander van die klub se betaalstaat te kry.

En die storie oor dat coach Hersch se kop nou Robertson Town se kant toe staan, waar die hoofafrigter pas bedank het? “Ek’t geensins by enige klub voelers uitgesteek of vir enige rol aansoek gedoen nie,” sê Van Aswegen. Maar om te wys hoe hy oor sy toekoms as afrigter dink, voeg hy dan by met die oog op ’n volgende klubrugbyrol: “Die Boland sal altyd my tuiste wees. Ek is immers ’n Bolander uit en uit.”

 

Leave a Reply