DA se ‘bruin dilemma’ vertraag aanstelling van opvolger vir Andrew Whitfield

’n Hele twee maande nadat pres. Cyril Ramaphosa ’n adjunkminister van die DA, mnr. Andrew Whitfield, afgedank het, het die DA nog nie ’n plaasvervanger vir hom aan die president voorgestel nie. Die rede het met die DA se “bruin dilemma” te doen: ’n skynbare tekort aan bruin kandidate, waaruit ’n aanstelling gemaak kan word. […]

’n Hele twee maande nadat pres. Cyril Ramaphosa ’n adjunkminister van die DA, mnr. Andrew Whitfield, afgedank het, het die DA nog nie ’n plaasvervanger vir hom aan die president voorgestel nie. Die rede het met die DA se “bruin dilemma” te doen: ’n skynbare tekort aan bruin kandidate, waaruit ’n aanstelling gemaak kan word.

Waarom maak dit saak? Die party sukkel om ’n senior bruin lid te identifiseer wat óf Whitfield se rol kan oorneem of bevorder kan word tot ’n soortgelyke senior rol indien ’n wit of swart kandidaat in die Whitfield-vakature aangestel word.

  • Die mees senior bruin leiers tans in die DA, is dr. Ivan Meyer, federale voorsitter en ook Wes-Kaapse minister van landbou; en mnr. Tertius Simmers, Wes-Kaapse leier en provinsiale minister van infrastruktuur. Die politieke kommentator dr. Harlan Cloete glo dr. Meyer het verdien om uit DA-geledere ’n ministerspos in die Regering van Nasionale Eenheid te kry.

 

  • Ander senior leiers sluit in me. Wendy Philander, adjunk-hoofsweep van die DA in die Wes-Kaapse Wetgewer; en raadsheer Xanthea Limberg, burgemeesterslid vir energie in die Stad Kaapstad.

 

  • Ook mnr. Eddie Andrews se naam word genoem; hy is onderburgemeester van Kaapstad en verantwoordelik vir stadsbeplanning. Dié portefeulje word as “ernstige voorbereiding” vir ’n regeringsamp beskou. Oor nóg ’n bruin DA-uitskieter, me. Deidré Baartman, Wes-Kaapse minister van finansies, word gesê sy is “baie jonk” en verloor dalk “bietjie openbare persoonlikheid” weens die tegniese aard van haar huidige pos.

Wie word dan ernstig as ’n Whitfield-plaasvervanger oorweeg? Soos wat Mondstuk Media verstaan, nie een van bogenoemde persone nie. Die naam van ’n voormalige DA-skaduminister van handel en nywerheid, Matthew Cuthbert, word egter gefluister om Whitfield se rol as adjunkminister van handel, nywerheid en kompetisie oor te neem.

  • Luister in hierdie video na wat dr. Harlan Cloete, politieke kommentator, op die Youtube-kanaal Wyngaard & Kie. sê oor die DA se “bruin-dilemma”:

Hoe gaan die DA maak met sy ‘BRUIN DILEMMA’? Politieke kommentator HARLAN CLOETE antwoord