Bohemia, bekroon: In haar oupa en ouma se huis in Bishop Lavis is hope Afrikaanse publikasies gelees. Hier word sy nou vir die bevordering van die taal bekroon

Dit was haar grootword-jare in oorlede ouma Poppie en oupa George Sass se huis in Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte, wat tot nou die grootste invloed in Afrikaans op Bohemia Hoffmeester-Jumatt se lewe en loopbaan gehad het.

Waarom is dit belangrik? Me. Hoffmeester-Jumatt, vryskutjoernalis vir Rapport en Kuier-tydskrif, was Saterdagoggend een van die 2025-ontvangers van ’n Kokertoekenning van die Afrikaanse Taalraad.

Bo-op haar ouma se klerekas sou daar stapels koerante wees, soos Die Burger; ook altyd ’n Huisgenoot in die bondel. Langs haar oupa se bedkassie, “die dikste leesboeke ooit”. Nie oupa George of ouma Poppie sou kon raai dat dié kleinkind van hulle eendag as ’n joernalis vir hoofstroompublikasies sou skryf nie. Wat sy so mooi onthou, is dat daar “geen rykdom of prag en praal” by haar grootouers se woning was nie, “maar Afrikaans het ons bymekaar gebring en gelukkig gemaak”, sê sy.

Nou is Bohemia Hoffmeester-Jumatt lank reeds gevestig in die Afrikaanse joernalistiek met haar mees onlangse werk by Rapport, onder meer oor die bewerings van skeidsregter-omkopery in Boland-rugby; vroeër het sy ook haar merk by die Son en Huisgenoot gemaak.

Die verskil tussen die publikasies sorg vir ’n interessante antwoord op Mondstuk Media se langvraag oor watter berig of rubriek vir haar uitstaan as die een waarin sy haar beste skryf-Afrikaans aan lesers kon tentoonstel.

  • “Kyk,” sê sy, “toe ek by Son-koerant gewerk het, was ek vry om in Afrikaaps te skryf. Dit was vir my gemaklik en lekker omdat dit die Afrikaans was wat die gewone bruinman op straat gepraat het en ons mekaar verstaan het. My skryf-Afrikaans kon ek natuurlik meer tentoonstel toe ek by Huisgenoot, en Rapport gewerk het. Hierdie Afrikaans was die Afrikaans wat jy op skool geleer het.”
  • Wat gedurende die beweging tussen die verskillende publikasies gebeur het, was dat sy met sowel haar “skryf-Afrikaans” as Afrikaaps uitgedaag is, en heeltyd moes aanpas, “want dit hang op die ou einde af van wie jou mark is waarvoor jy skryf”.
Bohemia Hoffmeester-Jumat met haar Kokertoekenning. Foto: MERLYN VAN DER RHEEDE

Wat beteken dit om vereer te word vir die bevordering van Afrikaans? “Ek ag dit as ’n groot eer en voorreg dat my werk in Afrikaans erken word,” antwoord sy. Haar motivering verras:

  • “Ons Afrikaanssprekendes word nog daagliks snaaks dopgehou wanneer ons onsself byvoorbeeld in ’n openbare platform in ons taal uitdruk.”
  • En: “Ek haat dit wanneer daar van my verwag word om saam met iemand in Engels te kommunikeer wie dieselfde agtergrond as ek het, maar kamstig nie Afrikaans kan praat nie.”
  • Nou is daar drif in haar stem: “Ek dink Afrikaans moet meer gerespekteer word en daarom voel ek geëerd om my moedertaal te kan bevorder.”

Taalstryd tuis: In haar verdediging moet gesê word dat sy – toe sy op 16 ’n tienerma word – geforseer gevoel het om haar kind in Engels groot te maak. “Skielik het al wat ’n Afrikaanssprekende is hul kinders met Engels begin grootmaak en was dit outyds dat kinders Afrikaans praat,” sê sy. Die familie se verhuising uit Belhar na Kraaifontein het egter ’n taalommekeer vir haar dogter op ses jaar meegebring: “Hier het sy geleer om vlot Afrikaans te praat en vandaar af het ek my ander kinders ook met Afrikaans grootgemaak.”

Die volgende generasie: “Vandag praat my kleinkind Engels as gevolg van haar ouers, maar ek maak ’n punt daarvan om vir haar Afrikaans te leer. Sy verstaan die taal baie goed en is ook gretig om dit te praat.”

Drie vinnige vrae om die onderhoud mee af te sluit:

  1. In watter taal droom jy? Natuurlik in Afrikaans. Dis die taal waarin ek my met gemak en trots kan uitdruk.
  2. Hoe en watter taal gebruik jy om jouself te verdedig wanneer jy fisies in gevaar voel? Natuurlik Afrikaans: “Nee wag!” sê ek.
  3. Wat is jou gunsteling Afrikaanse woord? “Dônner!”

 

Leave a Reply